Meer as net ‘ophef van veilingverbod’ nodig om bek-en-klouseer finaal te stuit

(Foto ter illustrasie: pixabay)

Die minister van landbou, Thoko Didiza, se aankondiging dat ʼn landwye verbod op veeveilings opgehef word, is uit verskeie oorde verwelkom.

Die minister het Maandag die verbod, wat in Desember weens nóg ʼn uitbreking van bek-en-klouseer ingestel is, opgehef, maar dit aan uiters streng voorwaardes gekoppel.

Noko Masia, ʼn DA-lid van die parlementêre portefeuljekomitee oor landbou, het die besluit verwelkom, maar sê die regering se reaksie op die uitbreking van bek-en-klouseer was uit die staanspoor uiters gebrekkig en dat veel meer gedoen moet word as om net die verbod op te hef.

Die DA hou voet by stuk die regering se vertraagde reaksie op die situasie was hopeloos onvanpas en het chaos in die bedryf veroorsaak.

“Die verbod het nie net op lewendehaweveilings ʼn rampspoedige uitwerking op handel met ons bure in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) tot gevolg gehad nie, maar swak grensbeheer het ook beteken besmette diere het steeds die grense met Zimbabwe en Mosambiek oorgesteek. Suid-Afrikaanse boere is gedwing om in te gryp en hul eie geld te gebruik om die situasie te bestuur wat die regering versuim het om proaktief te bestuur,” het Masia gesê.

(Foto: DA/Twitter)

Die DA sê die regering moet boere in geraakte gebiede onder meer dringend van medikasie en steun voorsien om hul diere in te ent kort nadat ʼn uitbreking aangemeld word en moet ʼn reaksieplan saamstel om toekomstige uitbrekings beter te hanteer.

“Die proses wat die departement gevolg het om die siekte te bestry het veel meer skade berokken as wat dit verligting gebring het, veral aan diegene wat ʼn inkomste verdien uit Suid-Afrika se rooivleisbedryf. Bek-en-klouseer moet in die toekoms veel beter bestuur word, omdat die gevolge van nóg uitbrekings verwoestend gaan wees.”

Masia sê daar kan nie van die boerderygemeenskap verwag word om die verliese – wat spruit uit die regering se versuim om sy werk te doen – net te absorbeer nie. “Dit is duidelik dat Didiza en haar departement nie ernstig oor die saak is nie, omdat hulle steeds geen plan aan ons voorgelê het oor hoe hulle die siekte gaan uitwis en moontlik toekomstige uitbrekings gaan verhoed nie.”

Die VF Plus sê behalwe vir die uitbreking van dié siekte en die gevolglike verbod wat daarna op veilings geplaas is, gaan Suid-Afrika se landbousektor reeds gebuk onder die onsekerheid van grondonteiening sonder vergoeding en ʼn voortslepende droogte.

“Die verbod op veilings het gelei tot ʼn ernstige ekonomiese verlies vir die landboubedryf wat na raming meer as R10 miljard beloop. Dit is ʼn groot verlies, aangesien die veilingbedryf se omset, luidens ʼn berig, R81 miljard per jaar is,” het Tammy Breedt, die VF Plus se woordvoerder oor landbou, gesê.

Sy sê die departement ervaar steeds ʼn wesenlike tekort aan veeartse en die departement moet dié kundiges so gou doenlik aanstel en die stelsel verbeter om verdere uitbrekings van die siekte te verhoed.

“Die departement moet seker maak dat die land se rooisones en grense beveilig word om te voorkom dat gesonde diere met besmette diere in aanraking kom.

“Die departement kan nie maatreëls aankondig en dit selektief toepas nie. Die VF Plus sal die departement verantwoordbaar hou om te verseker dat hierdie maatreëls deur die bank in alle kategorieë (kommersieel en ontwikkelend) van landbou gehoorsaam word.”

Breedt sê dit is belangrik dat die departement voorkomend optree ten opsigte van siektes soos bek-en-klouseer en nie, soos in hierdie geval, reaktief nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Leon ·

Skiet en verbrand die rondloper beeste van die sogenaamde agtergeblewenes wat die hele Limpopo rondloop sonder eienaars. Hulle is die draers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.