Meer as R1 miljard vir Jan Taks in 2016-‘17

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Die Suid-Afrikaanse inkomstediens (SAID) het Dinsdag gesê hy het in die 2016/17 fiskale jaar R1 144,1 miljard se belastinginkomste ingevorder.

Dit is ʼn jaar-op-jaar-groei van R74,1 miljard (6,9%), hoofsaaklik ondersteun deur persoonlike inkomstebelasting (PIB) wat met R36,6 miljard (9,4%) toegeneem het.

Belastinginkomste wat ingevorder is het oor die afgelope 10 jaar toegeneem van R572,8 miljard in 2007/08 tot R1 144,1 miljard in 2016/17, ʼn groei van R571,3 miljard.  Dit is ʼn saamgestelde jaarlikse groeikoers van 8% vir die nege-jaartydperk voor 2016/17.

Die totale inkomste ingesamel vir die fiskale jare vanaf 2007/08 tot 2016/17 was R8,13 biljoen (“trillion”).

Die SAID het gesê ondanks moeilike ekonomiese omstandighede waarin die bruto binnelandse produk (BBP) van 0,5% tot 0,7% gestyg het, het die belasting-tot-BBP-verhouding gestabiliseer op 26,0% vanaf 2015/16, effens onder die hoogtepunt van 26,4% bereik in 2007/08.

Die verslag het ook gemeld dat netto BTW-invorderings die tweede grootste bydraer was tot totale belastinginkomste die afgelope 10 jaar. Gemiddeld het netto BTW 25,9% van totale belastinginkomste uitgemaak, met netto BTW-invorderings wat 6,4% van die BBP vir die tydperk uitgemaak het.

Inkomste ingevorder deur invoerbelasting, invoer-BTW en doeaneheffings, het met 1,0% en 1,5% afsonderlik afgeneem teenoor die vorige jaar. “Onderdrukte groeivlakke in die invoer van handelsgoedere, as gevolg van geldeenheid-gedrewe hoë invoerkoste en gedempte binnelandse aktiwiteit, het die algehele aanvraag vir verbruiks- en kapitaalgoedere laat afneem,” het die verklaring gelui.

Invoer-BTW het 13,0% van die jaar se totale belasting inkomste beloop, met doeaneheffings wat 4,0% uitgemaak het. Dit het gelei tot ʼn algehele 17,0% bydrae tot totale belastinginkomste wat ʼn daling van die 18,5% gemiddeld oor die voorafgaande vyf jaar is.

Maatskappye-inkomstebelasting was volgens die verslag die derde grootste bydraer tot totale belastinginkomste vir die afgelope dekade. Dit het kortliks BTW in 2008/09 oortref, maar teruggegly ná die wêreldwye finansiële krisis, wat die winsgewendheid van maatskappye beïnvloed het.  Hoewel maatskappye-inkomstebelasting sy status as derde grootste bydraer behou het, het sy relatiewe bydrae gesak van ʼn hoogtepunt van 26,7% in 2008/09 tot 18,1% in 2016/17.

ʼn Demografiese en geografiese analise van die belastingbetalers wat teen einde Junie 2017 geassesseer is, het getoon dat 40,2% van alle belastingbetalers van Gauteng afkomstig is. Die verslag het gemeld dat 623,715 belastingbetalers in Johannesburg se metro woon. Die verslag het ook aangedui dat 55,1% mans en 44,9% vroue belasting betaal en dat 26,9% van belastingbetalers tussen 35 en 44 jaar oud is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Piet Pompies ·

Ons werk hard en betaal 35% plus aan inkomste belasting net om daarna weer uit 95% van aankope weer 14% VAT te betaal.
Intussen maak jy gebruik van staats instansies soos, binnelandse sake, SARS, lisensie kantore ens wat bestaan uit jou belasting geld, net om sleg behandel te word.

Ben ·

Jy het van die munispale belastings vergeet, erf belastings en so meer. Wat van werklose mense wat VAT op kos enso meer betaal?

Pietman ·

Dis reg. Voordat ander nasies ons Afrikaners ooit ernstig opneem moet ons ons eie taal begin bemeester. 1 billion= 1 miljard. 1 trillion= 1 biljoen. Dis R1.1. biljoen

Knuppel ·

Moet die artikel-opskrif nie eerder lui: “Meer as R1 000 miljard ….” nie? R1miljard klink bietjie min vir SA belasting.

Jaco ·

Net nog meer geld vir die staat om te mors op karre, salarisse en partydjies.

Vanessa du Toit ·

Eks n enkelouer wat BTW en 45% belasting betaal per maand op my kommissie salaris.
Ek wag vanaf die 3 Julie 2017 sodat SARS by belasting refund moet uitbetaal. Dis regtig onredelik en onregverdig dat ek so lank moet wag!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.