Meer as R1 miljoen se droogtehulp vir Sutherland

1_verswakte-koedoe-kry-voer-003.jpg

‘n Verswakte koedoe kry voer. (Foto: Verskaf)

ʼn Beskeie welwillendheidsgebaar van ʼn paar sakke mielies vir boere in die droogtegeteisterde Sutherland-distrik in die Noord-Kaap het binne weke gegroei tot 480 ton voorraad om die ergste droogte in ʼn lang tyd in hierdie streek te verlig.

Sutherland is een van vele streke in die land waar daar droogte heers, maar weens sy ligging, ver van hoofroetes, kry dié streek min hulp van ander droogtehulpprojekte. Vervoer is een van die groot struikelblokke om voorraad by hierdie streek uit te kry.

Luidens ʼn persverklaring van die SA Jagters en Wildbewaringsvereniging (SA Jagters) is daar tot dusver droogtebystand met ʼn totale waarde van R1,04 miljoen bewillig nadat die gemeenskap in die Overbergdistrik hul harte en beursies oopgemaak het.

Die projek het begin toe twee lede van die Overberg-tak van SA Jagters uit empatie ʼn paar sakke mielies by boere in Sutherland gaan aflaai het. Frank Esterhuizen en Essie Esterhuyze het die inisiatief begin om hul mede-jagters vir skenkings te nader sodat hulle meer voer na hierdie streek kon stuur.

Esterhuizen en Esterhuyze se uitreikprojek vir die gemeenskap van Sutherland het jagters en ander inwoners in die Overberg aangespoor om geld en voer te skenk. Boere van die omgewing het voer beskikbaar gestel terwyl kontantskenkings ingestroom het om voer en ander noodsaaklike items aan te koop wat die mense van Sutherland broodnodig het.

Skenkers kon geld direk in Kaap Agri se bankrekening deponeer om vir nog voer te betaal. Kaap Agri het self ook mildelik bygedra terwyl sakelui in die omgewing op verskeie tasbare maniere hulle kant gebring het.

Die Overberg-span betrokke by die projek. (Foto: Verskaf)

Die Overberg-span betrokke by die projek. (Foto: Verskaf)

“Nie een van ons kon dink dat droogtehulp so vinnig sou groei – van twee bakkies na agt bakkievragte nie,” het Justus Harms, voorsitter van SA Jagters se Overberg-tak, luidens die persverklaring gesê. “Toe ons sleepwaens nodig gehad het, het Jimmy’s Trailers van die Strand ingestem om vyf sleepwaens vir drie dae gratis te verskaf.”

“Baie van ons boere, wat begrip het vir die nood in die landbousektor, het sonder om te skroom voer geskenk om die voertuie vol te pak,” het Harms gesê. “Die eerste konvooi voer het op 24 November 2017 om halfagt die oggend uit Villiersdorp vertrek en teen 12:00 was ons in Sutherland. ʼn Vyftien-ton-besending is op die skougronde aan Sutherland se droogtekomitee oorhandig wat die voer onder die boere verdeel het.”

Volgens Harms het die Overberg-tak sedert November 2017 reeds 480 ton droogtehulp na Sutherland geneem. “Van die plase het onlangs vir die eerste keer in vyf jaar reën gekry, maar dit gaan nog jare neem vir hierdie gebied om te herstel. Die mense kry baie swaar. Party dae is daar nie kos op hulle tafels nie.”

Ná sewe konvooie se droogtehulp aan die mense en diere van Sutherland staan die Overberg-tak se droogtehulp-projek tans op R1 041 000 wat bestaan uit:

  • 82 ton mielies ter waarde van R287 000,
  • 333 ton strooibale ter waarde van R293 000 en
  • kruideniersware ter waarde van R47 000.
  • Die totale afstand afgelê deur die konvooie voertuie was 36 000 km,
  • brandstofkoste het R164 000 beloop en
  • kontantskenkings vir die aankoop van voer, kruideniersware, brandstof, ensovoorts was tot dusver R250 000.

Die vervoerkoste sluit net die direkte brandstofkoste in. Die gebruik van die bakkies, vragmotors en sleepwaens is nie hierby ingesluit nie en is deur individue en sakelui van die Overberg geskenk.

Harms hoop dat ander takke van die SA Jagters-vereniging en hul gemeenskappe hierdie voorbeeld sal volg en ook die hand sal uitsteek om droogtegeteisterde gebiede in ander dele van die land te help. “Ek weet van boere in die noorde van die Oos-Kaap wat hulle plase se sleutels by hulle buurman gaan aflaai het en weggery het. Ek glo daar is voer in die suide van die Oos-Kaap wat verligting kan bring.”

Volgens Harms is die Overberg-tak se droogtehulp met groot dankbaarheid ontvang. “Jy kon die dankbaarheid in die mense oë lees. Ons as jagters is ook bewaarders. Dít is waarvoor die vereniging staan. Ek hoop dat die publiek besef dat ons nie net uit die natuur neem nie, maar dat ons teruggee.”

Die droogtehulp-projek gaan steeds voort. Die Overberg-tak wil nog meer voer bymekaar maak. Indiwidue en ondernemings wat ʼn bydrae wil maak, kan met Harms in verbinding tree by 082 497 4230 of [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

ekWONDER ·

ek is seker al hierdie boere ondersteun rugby? huisgenoot wys elke nou en dan in watter weelde die rugby helde woon – wil hul ook nie ‘n bietjie help nie?

ChristaT ·

Ek wens God se seen op julle toe. Wonderlike mense wat help.

Veer ·

Dis ongelooflik, dankie vir elkeen betrokke se ruimhartigheid. Die hele Karoo trek vir n geruime tyd al bitter bitter bitter swaar.

Nellie ·

By ons in die Laeveld is dit altyd groen, droogte of nie. Ons besef nie regtig hoe erg dit is totdat jy met jou eie oë dit aanskou nie. My man en ek was 3 weke gelede met vakansie in o.a Sutherland. Daarna het ons gery na Tankwa Nasionale Park tot Ceres. Ons het nie woorde gehad nie en ons vraag was … waarvan leef die mense en diere? Die Here seën elkeen wat hierdie mense help en ons bid dat hulp sal aanhou instroom. Sterkte

Karel ·

Sutherland kry droogtehulp.met n foto van n Steytlerville koedoe bul en Boer!

Sarel Strydom ·

Baie dankie aan al die skenkers. Mag julle geseen word. Ongelukkig sal die berig nooit die Nasionale Media bereik nie.

SjN ·

Baie dankie aan die skenkers en die boere vir wat julle vermag , julle is ware ysters, ons hoop en vertrou daar kom vinnig uitkoms en verligting.

Fanta ·

Gaan vra vir COCA COLA wat nou R400 miljoen bewillig het vir AGTERGEBLEWE /OPKOMENDE boere …

Emma ·

Ek het ook nie grond nie is ek ook agtergeblewe, kon nog nooit bekostig nie. Mooi so manne is al hoekom ek agter die wit boere staan

Esther ·

Plaas asseblief bankskakel na inbetaling vir die van ons wat ietsie kan gee. Vir die 3 kamp atleet met die gesaagde been het talle bietjies amper n miljoen geword. Hier kan baie bietjies ook n groot verskil maak.

Theresa ·

BAIE dankie aan al die skenkers, aanryers en helpende hande! Mag jul seën en voorspoed beleef! Sulke wonderlike nuus laat mens se hart bokspring van opgewondenheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.