Meer as R1 miljoen vir medaljewenners ingesamel

Suid-Afrika se Tatjana Schoenmaker nadat sy nie net ‘n goue medalje losgeswem het nie, maar ook ‘n nuwe wêreldrekord opgestel het. (Foto: Jonathan Nackstrand/AFP)

Meer as R1 miljoen is binne ʼn paar dae vir die medaljewenners van vanjaar se Olimpiese Spele, Tatjana Schoenmaker en Bianca Buitendag, ingesamel.

Dít volg nadat bewerings die ronde gedoen het dat die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese komitee (Saskok) nie prestasiebonusse aan dié atlete sou uitbetaal nie. Saskok het egter vroeër vandeesweek gesê dat die wenners wel bonusse sal ontvang en dat onderhandelinge in dié verband nog aan die gang is.

Desnieteenstaande het verskeie sakeondernemings en lede van die publiek saamgespan en skarefinansieringsinisiatiewe van stapel gestuur om Schoenmaker en Buitendag te beloon.

Talle geldskenkings vir die twee medaljewenners stroom steeds van mense en sakeondernemings in terwyl Saskok beraadslaag hoeveel dié twee se bonusse gaan wees.

Altesaam R1 115 050 is tot dusver ingesamel en dié bedrag klim uurliks.

Schoenmaker het twee van die land se medaljes – goud in die 200 m-borsslag en silwer in die 100 m-borsslag – verower. Buitendag, die vrouebranderplankryer, het ook ʼn silwer medalje gewen.

Maroela Media het vroeër berig dat die sakeondernemings, Atterbury en USN, gesamentlik R500 000 aan dié atlete gaan skenk. ʼn Bykomende R123 050 is intussen deur dié twee ondernemings se skarefinansieringsprojek, Spansaam, via die Atterbury Trust, ingesamel. Die oogmerk is om ʼn teikenbedrag van R1 300 000 te bereik.

Intussen het die rugbylegende Bryan Habana en Mike Sharman, albei mede-eienaars van MatchKit, R342 000 vanaf lede van die publiek en verskeie sakeondernemings ingesamel. Matchkit bied ʼn platform aan atlete om hul digitale handelsmerk te bestuur.

“Schoenmaker en Buitendag verdien om beloon te word omdat hulle Suid-Afrika se enigste medaljewenners by vanjaar se Olimpiese Spele was,” het Habana gesê.

Volgens MatchKit se insamelingsplatform word alle transaksiefooie wat skenkers aangaan deur dié onderneming gedek. Sharman het ook op Twitter aangekondig dat die geld binnekort aan die wenners oorhandig sal word.

Die burgerregteorganisasie AfriForum het Dinsdag aangekondig dat hy nie net ʼn medaljefonds vir die wenners van die Olimpiese Spele gestig het nie, maar ook vir dié van die Paralimpiese Spele.

“Ons het hierdie veldtog van stapel gestuur om geld in te samel om ons atlete te ondersteun en te vergoed vir hul harde werk,” het Ronald Peters, bestuurder van AfriForum Sport, gesê.

“Hierdie atlete skep hoop en trots vir jongmense en toekomstige atlete met hul prestasies op die grootste wêreldverhoog.”

Die organisasie het die fonds se eerste R50 000 geskenk en nog ʼn verdere R50 000 is deur verskeie sakeondernemings en lede van die publiek geskenk.

Die seekosmaatskappy Sea Harvest het ook onderneem om R50 000 aan Buitendag te oorhandig vir haar silwer medalje. Die onderneming het gesê hy sal voorts sy jaarlikse borg aan Branderplankry Suid-Afrika verhoog om die ontwikkeling van die sport en jong branderplankryers voort te sit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jean

SARS gaan seker nog eers hulle “cut” ook wil vat

absoluutgatvol

ons sal self

Pietertjie

Pragtige storie! Dit wys dat ons nie ‘n ANC regering nodig het nie.

Filistyn

Well done aan al die borge en privaat bydraes. Dit is ongelooflike prestasies, en verdien om beloon te word. Saskok – julle kan gerus notas neem.

Spyker

Hoop hulle nooi Minister van Sport om by te wees by die oorhandiging