Meer as R340 miljoen dubbelbetalings aan regsfirmas onthul

Argieffoto (Foto: succo/Pixabay)

Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) ondersoek 102 regsfirmas, insluitend die balju’s, wat dubbelbetalings van die Padongelukkefonds (POF) ontvang het ter waarde van ongeveer R340 miljoen. Die SOE het reeds sowat R18 miljoen teruggekry.

Die SOE het Woensdag sy voorlopige bevindings aan die parlementêre staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) bekendgemaak.

“Die SOE het verskeie regspraktisyns met die bewyse genader en hulle het gekies om met die ondersoek saam te werk en skulderkennings ter waarde van R68 miljoen onderteken,” sê Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SOE. “Die ondertekening van die skulderkennings skeld die regspraktisyns egter nie kwyt van enige strafregtelike ondersoeke wat die SOE kan instel of kan verwys vir vervolging nie.”

Die SOE het reeds een verwysing na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) aangestuur met bewyse wat dui op strafregtelike oortreding. Daar is reeds 10 moontlike NVG-verwysings geïdentifiseer en vyf sake wat moontlik na die Regspraktykraad verwys sal word.”

Die SOE ondersoek ook 10 kontrakte vir moontlike onreëlmatighede en spandabelrige uitgawes. Sommige van dié kontrakte is deur die ouditeur-generaal gemerk.

Vier kontrakte ter waarde van ongeveer R837 miljoen is ook geïdentifiseer vir hersiening en moontlike kansellasie.

Die SOE se ondersoek fokus op dubbele eisbetalings wat aan prokureurs, eisers en balju’s oorbetaal is en die verandering van mandate; aanskaffing en tender-onreëlmatighede; POF-betalings van diensverskaffers wat dienste aan die slagoffer gelewer het voor die motorongeluk; kunsmatig verhoogde fakture deur diensverskaffers en moontlike samespanning tussen POF-werknemers en die diensverskaffers; en bedrieglike eise (internasionaal en plaaslik) en eise wat verwerp is.

Kganyago sê die SOE is by magte om siviele stappe in die hooggeregshof of ʼn spesiale tribunaal te neem om enige bedrog, korrupsie of wanadministrasie reg te stel. Waar daar enige bewyse bestaan van kriminele gedrag, sal dit na die NVG verwys word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Spyker ·

Noem asb die name van die praktyke. Ons wil weet of ons nie dalk kliënte is wat besig is om hulle nog meer te “Voer” nie

ES ·

Daar is ongelooflik baie regsfirmas, sowel as individue, wat die padongelukkefonds bedrieg en bedrieglike betalings ontvang. Daar moet beter statutere beheer toegepas word.

Lillian ·

Dis mos nie hulle geld nie, so druk daai knoppie ses keer om een faktuur te betaal.

Marilize ·

Wie teken die betalings af, en wie maak die betliangs?
Genade, een fout kan dalk oorgesien word, maar 340M se foutjies??

Elize ·

Skrap alle betrokke prokureurs van die rol. Raak ontslae van al hierdie SKELMS!

Owlie ·

Maak n slag die prokureurs kantire se name en jaartal bekend. Men’s wag 5,6,7 jaarcen langer vir sake om af gehandel te word, moet dokumente teken om versekering uit te neem wat bitter baie van jou geld wat vir toekoms moet dien vat, jy word as onderneming gesit maar wanneer n mediese deskundige n voorskrif gee vir items wat jou beserings of kewens standaarde kan verbeter word dit af gekeur. Dis hoogtyd dat iemand iets doen en sonder name & shame sal die skuldiges nooit ophou nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.