Meer as R400 miljoen vir Oos-Kaap se gesondheidsdienste toegeken

Oscar Mabuyane, premier van die Oos-Kaap (Foto: Oscar Mabuyane/Facebook)

Die Oos-Kaapse regering het Woensdag gesê hy sal R409 miljoen toeken vir die stryd teen Covid-19 en om te voorkom dat sy gesondheidsbedryf ineenstort.

Oscar Mabuyane, premier van die provinsie, het die aankondiging in ʼn verklaring op sy Facebook-blad gemaak.

Die Oos-Kaapse gesondheidsorgbedryf word geteister deur probleme en hospitale gaan gebuk onder wanbestuur en korrupsie. Die provinsie het ook ʼn erge tekort aan gesondheidsorgwerkers en talle personeellede, hoofsaaklik verpleërs, het reeds die virus opgedoen.

Gesondheidsorgwerkers het al by verskeie fasiliteite oor die provinsie heen betoog. Hulle weier om te werk sonder persoonlike beskermingstoerusting (PPE) wat nodig is om hulle teen die koronavirus te beskerm.

Die premier het gesê die provinsie benodig R4,1 miljard en dat R2,2 miljard van die vereiste bedrag reeds aan gesondheidsinfrastruktuur toegeken is. “Die provinsiale tesourie en betrokke departemente hersien deurgaans finansiële vooruitsigte,” het Mabuyane bygevoeg.

Teen Dinsdag is 53 959 gevalle van Covid-19 reeds in die provinsie aangemeld met 34 706 persone wat herstel het. Die dodetal vir die provinsie staan op 726.

Mabuyane het gesê die risiko vir gesondheidswerkers bly hoog. Meer as 2 285 het reeds die virus opgedoen en 28 het gesterf. Van die positiewe gevalle was 34% verpleërs, 2,2% dokters en 57% is in ander afdelings van die bedryf werksaam. Die oorblywende persentasie in die bedryf is nog nie gespesifiseer nie.

Voorraad vir PPE is huidig op een tot twee weke surplus en interfasiliteit oordrag van PPE word “proaktiewe en elektronies gemonitor en bestuur”.

“Dit verseker vordering,” het hy gesê. “Dit het ook die getal stakings verminder oor beskikbaarheid van items.” Voorraad in hospitale het ook verbeter en grootmaat bestellings vir handskoene, oorjasse, ontsmettingsmiddels en gesigmaskers is reeds geplaas by die betrokke verskaffers.

Gesondheidsinstansies is opdrag gegee om noodbestellings te plaas vir voorskote, maskers, oorjasse en ontsmettingsmiddels, maar hy het erken daar is ʼn uitdaging om N95-maskers en ondersoekhandskoene te bekom. Die nasionale departement van gesondheid is in die verband gekontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

007 ·

Ja nou kan hulle beter scooter ambulanse koop en dit ook op apartheid blaam.

Anoniem ·

Presies wat die Oos-Kaapse MEC vir gesondheid gedoen het, sy het die scooter mislukking inderdaad op apartheid geplaas.

Kokerboom ·

Ek stel voor die Tesourie Dept stel onmiddelik ook ‘n kommissie van ondersoek in om die aanwending van geld te monitor!!

Misky ·

Julle het mos die scooters….. julle was mos slim, so toe nou, dokter die mense!!!! Daar is nie pille vir onnoselheid nie.

JJ ·

Stede is uitgele en beplan in die jare voor 1994 en so ook die meeste van die infrastruktuur. Dit beteken die meeste hospitale is sentraal geplaas. Die tradisionele woongebiede is volgens voor 1994 WETGEWING UITGESKUIF BUITE DIE STEDE en gevolglik is die toeganklikheid tot hospitale nie dieselfde nie. Dieselfde kan gese word vir die toegang tot besighede en werk. Na 1994 is daar inderdaad enkele hospitale nader aan die woongebiede gebou, maar die agterstand is steeds groot. Dit is moeilik om die bal uit die een oog te haal, maar soms moet ons dit doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.