Meer as R4,3 miljoen se Mandrax-tablette gevind

Mandrax-tablette (Foto verskaf deur die Valke)

ʼn Besending dwelmmiddels ter waarde van R4,3 miljoen is op die N2 in die Wes-Kaap onderskep deur die Valke se narkotikaburo.

“Beamptes het vinnig reageer op inligting dat twee voertuie, ʼn Mercedes en Volkswagen Transporter, die dwelmmiddels vervoer,” het lt.kol. Philani Nkwalase, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), gesê.

Die eerste voertuig, ʼn Mercedes-Benz wat by die beskrywing pas, is op die N2 naby Grabouw opgemerk. ʼn Gesamentlike taakspan het die voertuig voorgekeer en ʼn soektog is uitgevoer. “Altesaam 24 000 Mandrax-tablette ter waarde van ongeveer R840 000 is gevind. Die dwelmmiddels was in ʼn vals kompartement agter die agterste sitplek versteek.”

Mandrax-tablette (Foto verskaf deur die Valke)

ʼn 35-jarige man is in hegtenis geneem en die voertuig is geskut. Hy sal na verwagting Maandag in die Grabouw-landdroshof verskyn op aanklag van handeldryf met dwelmmiddels.

Die tweede voertuig, ʼn Volkswagen Transporter wat by die beskrywing pas, is op die N2 in Heidelberg opgemerk. “Altesaam 100 000 Mandrax-tablette is in ʼn vals bodem gevind ná die voertuig voorgekeer en deursoek is.”

ʼn 52-jarige man is in hegtenis geneem. Beamptes het beslag gelê op die dwelmmiddels en die voertuig is geskut. Hy sal na verwagting Maandag in die Heidelberg-landdroshof verskyn op aanklag van dwelmhandel.

Misdaadintelligensie, Hermanus se blitspatrollie, Hermanus se honde-eenheid en verkeersbeamptes het die Valke in die ondersoek bygestaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.