Meer as R5 miljard se NSFAS vir studente wat nie kwalifiseer

Argieffoto (Foto: NSFAS, Facebook)

ʼn Voorlopige ondersoek deur die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) het onthul dat meer as R5 miljard in NSFAS-beurse uitbetaal is aan studente wat nie daarvoor in aanmerking gekom het nie.

Die SOE het Dinsdag sy bevindings oor die uitbetalings van die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) aan die parlementêre staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) voorgehou.

“Die SOE se ondersoek het tot dusver onthul dat meer as 40 000 studente by 76 instansies van hoër onderrig moontlik verkeerdelik finansiering ontvang het,” het die SOE gesê. “Dit is studente wie se huishoudelike inkomste meer as R350 000 per jaar is en gevolglik nie kwalifiseer vir NSFAS-finansiering nie.”

Volgens die SOE het die studente nie hul ouers se besonderhede verskaf toe hulle aansoek gedoen het nie en die proses om te bepaal of hulle vir NSFAS kwalifiseer was gevolglik nie behoorlik uitgevoer nie.

“Die SOE was ook in staat om ongeveer R38,3 miljoen deur middel van ʼn terugbetaling te fasiliteer of om die fooie af te kamp weens NSFAS by drie TVET-kolleges. Twee van dié kolleges is in die Wes-Kaap en een is in Mpumalanga. Die SOE is in gesprek met ander instansies om te bepaal of daar enige ander oorbetalings is wat afgekamp kan word hangende die finalisering van die ondersoek.”

Die SOE se ondersoek het gewys dat NSFAS versuim het om kontrole te ontwerp en te implementeer wat sou seker maak dat daar ʼn jaarlikse rekonsiliasie is tussen die geld wat aan die instansies uitbetaal word en die lys van geregistreerde studente.

“Hierdie gebrek aan kontrole het beteken dat te veel geld oorbetaal is of dat te min geld oorbetaal is aan die verskillende instansies vir die periode 2017 tot datum. Om dit reg te stel, het NSFAS onlangs ʼn diensverskaffer aangestel om hulle by te staan om dié rekonsiliasie te behartig.”

Die SOE het ook verskillende scenario’s geïdentifiseer waar te veel geld oorbetaal is; te min geld oorbetaal is; studente wat onderfinansier is; dubbelbetalings wat gemaak is; studente wat opgeskop het; en die betrokkenheid van sindikate in studenteakkommodasie.

“Dit is ʼn gevolg weens die verskillende bestuursvlakke en senior bestuurspersoneel wat nie hul pligte kragtens alle betrokke wetgewing uitgevoer het nie. Die SOE is by magte om bewerings van korrupsie en wanadministrasie by NSFAS te ondersoek en om enige finansiële verliese te probeer herwin wat die staat weens korrupsie of nalatigheid gely het.”

Die SOE is ook by magte om siviele stappe te neem in die hooggeregshof of ʼn spesiale tribunaal om enige kriminele dade reg te stel wat deur ondersoeke onthul is as korrupsie, bedrog of wanadministrasie.

“Die SOE sal alle bewyse wat dui op kriminele gedrag na die Nasionale Vervolgingsgesag verwys vir verdere optrede.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Sobymykoolkop ·

R38,3 miljoen uit ń geraamde 5 000 miljoen terug gekry.Wow,!!! Uitstekende prestasie. Julle is voorwaar uitsonderlik goed, meeste van daai studente bestaan nie eens nie, spookstudente en die kaders skep uit die onuitputlikke belastingbetaler put.

Henry ·

dit gaan darem te lekker.
dit is geld waarvoor ek nie gewerk het nie daarom kan ek maar uitdeel is hulle beleid

Republikein in die Wes Kaap ·

En die staat het daai geld geleen en die belasting betaler moet dit terugbetaal.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Daar is geen groot genoeg woordeskat om die onbekwaamheid en korrupsie van die ANC-leiers en hul meelopers te beskrywe nie. Hulle het geen selfrespek en gewete nie. Niks wat die ANC doen kan my meer skok nie. Hoe lank nog gaan die Marxistiese Afrikaan-nasionaliste die Suid-Afrikaanse nasie vir eie gewin regeer?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.