Meer as R5 miljoen vir Marikana-prokureurs

Onrus in Marikana, Augustus 2012

Onrus in Marikana, Augustus 2012

Prokureurs wat die honderde myners verteenwoordig wat tydens die skietery in 2012 in Marikana beseer en in hegtenis geneem is, het ongeveer R5.13 miljoen in regskoste ontvang, het die Sunday Independent berig.

Legal Aid SA beraam dat die geld wat aan die prokureurs oorbetaal is, tot 1 000 mense kon help wat vir regshulp kwalifiseer. Die prokureurs sluit Dali Mpofu vir die beseerde en gearresteerde myners en Dumisa Ntsebeza vir die families van die myners wat gesterf het, in.

Patrick Hundermark van Legal Aid het gesê vir elke R1 miljoen wat spandeer is vir regsverteenwoordiging by die Farlam-kommissie van Ondersoek, moes 200 aansoekers wat andersins vir regshulp sou kwalifiseer, weggewys word.

Die bedrag is glo in dokumente bekend gemaak wat die families van die afgestorwenes en die vakbond Amcu ingedien het in reaksie op Legal Aid SA se aansoek om verlof tot appèl op hooggeregshofregter Tati Makgoka se uitspraak in Oktober. Makgoka het Legal Aid gedwing om die regskoste te dek vir Mzoxolo Magidiwana, ʼn rotsbooroperateur wat sewe keer geskiet is, en sy 352 kollegas wat beseer en in hegtenis geneem is tydens die skietery.

Die kommissie, onder leiding van afgetrede regter Ian Farlam, ondersoek die sterftes van 44 mense tydens stakingsverwante geweld by Lonmin se platinummynbedrywighede in Marikana, Noordwes.

Legal Aid het vroeër aangevoer hy sal ongeveer R17 miljoen benodig om die myners se prokureurs te betaal en dit sal ten koste van 3 800 arm mense wees wat regshulp benodig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.