Meer as R500 miljoen e-tolskuld; Sanral spandeer miljoene om in te vorder

Voorbeeld van 'n VPC-aanmaningsbrief

Voorbeeld van ‘n VPC-aanmaningsbrief

Motoriste in Gauteng het glo al meer as ʼn half miljard rand in agterstallige fooie laat oploop sedert die provinsie se e-tolstelsel op 3 Desember in werking getree het.

“Minder as 10% van dié bedrag is reeds betaal,” het Dipuo Peters, minister van vervoer, gesê. “Ek is ingelig dat fakture ter waarde van R543 544 574 aan die oortredingsverwerkingsentrum (VPC) oorgedra is.”

Die VPC is ʼn skuldinvorderingsafdeling binne die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) wat vir die invordering en prosessering van agterstallige e-toltransaksies verantwoordelik is.

Vusi Mona, woordvoerder vir Sanral, het Woensdag gesê die R543.5 miljoen sluit motoriste in wat e-tolskyfies het en agterstallig is met betaling, sowel as diegene wat van die paaie gebruik gemaak het, maar nie geregistreer is nie. “Dit is die persone met agterstallige rekeninge, of hulle nou geregistreer is of nie,” het Mona gesê. Hy kon nie dadelik sê watter persentasie van motoriste in Gauteng reeds vir e-tol registreer het nie.

Peters het ook, in reaksie op ʼn vraag van DA-LP Ian Ollis, bekend gemaak dat ʼn bedrag van R54 735 638 (BTW uitgesluit) spandeer is om skuld in te vorder. Dit sluit R32.8 miljoen vir posgeld en druk van fakture, en R21.9 miljoen vir die koste van skuldinvorderingsprosesse in. Peters het op ʼn tweede vraag gesê slegs R50 043 487, dus 9.21%, van die R543.5 miljoen is voor 28 Februarie betaal. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.