Meer as R75 miljard bates in regeringsbesit

Thulasi Nxesi, die minister van openbare werke, spreek die media Woensdag by die parlement toe. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Thulasi Nxesi, die minister van openbare werke, spreek die media Woensdag by die parlement toe. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

ʼn Langverwagte vastebateregister van die departement van openbare werke (DPW) is uiteindelik voltooi en toon dat die regering grond en geboue van meer as R75 miljard in sy besit het.

Min. Thulas Nxesi, sy adjunk, Jeremy Cronin, en ander senior beamptes het joernaliste Woensdag by die parlement ingelig oor die departement se begrotingsrede, asook die bateregister wat jare geneem het om te voltooi.

Paul Serote, hoof van die Property Management Trading Entity (PMTE), wat eiendomsbestuur in die departement hanteer, het gesê 31 000 stukke grond word tans deur die departement besit, asook meer as 95 000 geboue. “Ons moes toe waardes aan die verskillende bates toeken – ʼn proses wat ons tans finaliseer. Die waardes bedra reeds meer as R75 miljard en sal na verwagting op R100 miljard te staan kom vir die hele portefeulje,” het Serote gesê.

“As ons net kyk na die stukke grond in hektaar, praat ons van in die omgewing van 11,7 miljoen hektaar grond. Ons het ook ruimte, sowel residensiële as kantoorruimte, en ander geriewe wat neerkom op ongeveer 53 miljoen m².”

Die DPW se begroting vir 2016/17 is R21,4 miljard. Nxesi het vroeër aan die parlement gesê R18,3 miljard van die begroting sal aan verskillende departementsprogramme en entiteite gegee word, onder meer R6,3 miljard om werksgeleenthede te skep en R11,4 miljard vir die PMTE.

Die res van die begroting sal gebruik word om bedrog en korrupsie te bestry, die oorsigfunksie van die departement te versterk en die departement se voorsieningsvermoë te verbeter.

Hy het gesê die departement sal ook voorkeur gee aan kostebesparing deur onder meer huurooreenkomste te herbeding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Lance ·

Nou waarvoor wag ons dan …..begin die grond uitdeel aan mense wat wil boer …..oops maar wil ons boer of net sit en wag vir more en vinger wys na die minderheid en hulle van alles beskuldig wat tog so verkeerd is …

JC ·

Ek sou dit nie self beter kon stel nie Lance. Jy slaan die spyer op die kop!

Waarvoor wag ons dan! Gryp mense, gryp! hehe hier kom ons!! Blerrie pateties!

christine ·

Ja weet nou ook nie hoekom dit sooo lank geneem het nie. Elke prokureurs kantoor wat aktes doen het n rekenaar derek gekoppel aan akte kantoor so kon maar net nasoeke gedoen het op die stelsel want dis moontlik om in elke provinsie integaan en te kyk. Ek wonder nou hoe geloofwaardig die twee is een n kommunis en die ander wat lieg om Zuma te beskerm

Frederik ·

Die kommunis gaan defnitief geen vierkante duim van daai grond weggee nie, nie eers vir ‘n swarte nie. Dis heeltemal teen sy gewete. Alles moet aan die staat behoort. Wat die staat op die ou einde daarmee gaan doen bly ‘n staatsgeheim.

Gerd Lourens ·

Lekker lag ek nou.

Julle gaan “… huurooreenkomste herbeding…”.

Ek wil niks sê oor die ooreenkomste met Roux Shabangu en M&T nie…

Gaan kyk maar net in Mahikeng waar staatgeboue se huur hoër is as winkels in die Waterfront in Kaapstad.

Hoe verklaar ‘n mens dit???

CC ·

So nou begroot departemente om korrupsie te bestry! Alles ten koste van die belastingbetaler. ‘n Bose kringloop wat net momentum opbou!
“Transparency”… mense….laat die staat die eerste glashuise bou.

Flow ·

Dos maar eintlik baie min…as jy dit in USD omskakel kan bv Donald Trump n paar honderd Suid Afrika’s koop en nog kleingeld oor he

Flow ·

My fout hy kan nie n paar honderd SA’s koop nie… n miljard is in engels a billion…nogsteeds nie so baie in USD nie.

Paul ·

Die 11,7 miljoen hektaar is sowat 9,6% van die grondoppervlak van Suid-Afrika.

johann cb ·

Die staat sal nie rus voordat hulle alles in hulle besit het nie. Ook dit sal nie vir hulle genoeg wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.