Meer banktakke sal binnekort help met slim-ID’s

‘n Voorbeeld van die nuwe slim ID-kaarte

Nog 25 takke van kommersiële banke sal in die komende finansiële jaar die diens begin bied om vir ʼn slimkaart-ID aansoek te doen.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, het Woensdag die aankondiging gemaak tydens sy departement se begrotingstoespraak in die parlement. Hy het gesê ʼn bykomende 70 takke sal in die volgende finansiële jaar ook begin om die diens te bied.

Daar is tans slegs 13 banktakke wat die diens bied – 12 in Gauteng en een in die Wes-Kaap. Volgens Motsoaledi is banke egter gretig dat hul kliënte slim-ID’s kry aangesien dit glo bedrog met rasse skrede sal verminder. Hy het gesê vervalsing of bedrog is byna ontmoontlik met die slim-ID’s.

Daar kan tans ook net by 193 van die departement se 412 kantore om slim-ID’s aansoek gedoen word. “Om dié rede word slegs drie miljoen slim-ID’s jaarliks uitgereik. Al die ander kantore is gedwing om steeds die groen ID-boekies uit te reik en sal aanhou om dit te doen tot hulle goed toegerus is.”

Aaron Motsoaledi. Foto: ANA

Volgens Motsoaledi sal die proses om slim-ID’s uit te reik vanjaar versnel word en sal 26 bykomende kantore geassesseer word om sodoende die stelsel daar te implementeer.

Dit is ook bekend gemaak dat 13 miljoen slim-ID’s reeds uitgereik is sedert die departement in 2013 met die proses begin het. Motsoaledi het gesê daar is ʼn verdere 25 miljoen mense wat nog slim-ID’s moet ontvang behalwe vir kinders wat 16 word en dan kwalifiseer om ʼn ID te kry.

Die minister het verder gesê sy departement poog om aansoeke vir ID’s en paspoorte binne 13 dae af te handel.

Die banktakke wat tans die diens bied om vir ʼn slim-ID aansoek te doen, is:

Absa Lifestyle – Centurion

FNB Lifestyle – Centurion

Standard Bank – Centurion

FNB The Grove – Pretoria-Oos

Nedbank Arcadia – Arcadia, Pretoria

Absa Towers – Johannesburgse middestad

Killarney Standard Bank – Killarney Mall

Standard Bank – Simmonsstraat, Johannesburg

Lakeview Nedbank – Roodepoort

Nedbank Rivonia – Rivonia

FNB Merchant – Sandton

Standard Bank – Canal Walk, Kaapstad

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Barries ·

Skuif sommer hernuwing van bestuurderslisensies ook na die banke asb.

Jack ·

Dieselfde str*nt, net ‘n ander emmer. Ons was hierdie week by The Grove FNB om aansoek te doen vir nuwe paspoorte. Die enigste verskil tussen die bank en ‘n binnelandse sake tak is die netheid. Dis nog steeds dieselfde ongeorganiseerde, inisiatief gebrekkige, onvriendelike staats personeel wat daar werk. Die helfte van hulle foto neem kapasiteit was ook buite werking. Uit die staanspoor was daar geen aanduiding wie waar moet aanmeld nie en na ongeveer ‘n halfuur se stille chaos het die FNB takbestuurder self kom orde skep en mense gehelp om in die regte tou te wees. En hulle kubertuiste is ook pateties. Ek het drie dae gesukkel om die nodige dokumentasie afgelaai en gedruk te kry. My vrou is aanlyn dubbel aangeslaan vir haar paspoort en sy het net ‘n skouer ophaal “No refund” van die amptenaar gekry.

Elna ·

In Port Shepstone KZN moet so iets ook ingestel word sodat almal hulle id’ s kan kry. Hier is net 1 klein tak wat 28000 + mense moet bedien en hulle kan slegs 140 mense per dag help en die mense staan in toue vir blokke en blokke ver. Dit lyk elke keer soos n nasionale stem dag soos die rye daar staan.

Sur ·

As jy nie n bankrekening by hierdie banke het nie…wys hulle jou weg.

Bmw ·

So vervalsing en bedrog is byna onmoontlik???? Met anderwoorde dit is steeds moontlik en die wat die vervalsing en bedrog pleeg weet Al klaar waar die skuiwer gate is, so hoekom jou geld mors of is dit maar net nog ‘n manier on die soustrein aan die gang tehou?

Joe Olivier ·

Het my en my gesin se id en paspoorte 2 weke terug deur nedbank arcadia gedoen . Pynloos en so gerieflik. 4 paspoorte en 2 id’s uitgereik binne 5 dae.

Sarel ·

Hoe lank terug het die stelsel in werking getree maar is nie toegerus daarvoor nie. Klink soos die Vuurwapen lisensies

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.