Meer bekend ná 2 op Tafelberg sterf

Die reddingsoperasie is aan die gang op Tafelberg (1 Januarie 2018). Foto: Twitter via @Rayvan89

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke het Dinsdag bevestig die twee mense wat Maandag op Tafelberg in Kaapstad geval en gesterf het, was ʼn plaaslike inwoner en ʼn buitelandse toeris.

Johann Marais van die Wildernis-soek-en-redding (WSAR) het Dinsdag aan Maroela Media bevestig daar is voorheen berig dat twee mans op die berg gesterf het, maar daar is intussen bevestig dat dit ‘n vrou en ‘n man was.

Merle Collins, streekskommunikasiebestuurder vir SanParke, het gesê die plaaslike inwoner was ʼn gids. Die vrou wat saam met die twee oorledenes was, maar die beproewing oorleef het, is ook ‘n buitelandse toeris.

Die ouderdomme van die slagoffers is nog nie bekend nie, maar ʼn polisieondersoek is reeds aan die gang. Die oorledenes se name sal eers bekendgemaak word wanneer al hul naasbestaandes in kennis gestel is.

Die voorval het Maandag omstreeks 17:00 begin toe drie bergklimmers opgemerk is wat aan toue by Arrow Final teen die berg abseil. Nadat die man en vrou geval en gesterf het, moes reddingswerkers die kabelkar op die berg gebruik om by die tweede vrou en die oorledenes se liggame uit te kom, wat honderde besoekers op die berg gestrand gelaat het.

Volgens Collins is ʼn helikopter aanvanklik ontplooi, maar kon dit nie naby genoeg aan die slagoffers kom nie. “Die kabelkar is in die middel gestop en ʼn reddingspan is gestuur om die situasie te assesseer,” het sy gesê. “Al drie mense het geval, maar die toue het nie gebreek nie, so ons is nog nie seker hoekom hulle geval het nie.”

Foto: Skymed/D Tromp

Sy het gesê die twee oorledenes is op slag dood. Die vrou het mond-tot-mond-asemhaling op een van die oorledenes gedoen, maar kon nie daarin slaag om die persoon weer by te bring nie.

Collins het gesê nadat die vrou gered is en die span van Wildernis-soek-en-redding (WSAR) die oorledenes se liggame gevind het, kon die kabelkar begin om mense van die berg af te bring. “Die laaste mense het net na middernag, so rondom 00:30, van die berg af gekom. Dit was onder 10˚C, yskoud,” het sy gesê.

Sy het gesê die owerhede het probeer om bejaardes en mense wat ongesteld was gemaklik te hou in die Tafelberg-restaurant en Wifi-sitkamers, maar daar was nie genoeg plek vir almal nie.

Collins het gewaarsku hoewel Tafelberg misleidend maklik lyk om te klim, kan selfs ervare bergklimmers in die moeilikheid beland. “Dit is ʼn berg, dit is ʼn wildernisgebied. Mense onderskat hierdie feit. Daar is kranse en afgronde en gevaarlike plekke, daarom is daar voetpaadjies. Ons versoek mense om op die voetpaadjies en bekende plekke te bly.”

Sy het gesê sy kan nie kommentaar lewer oor die abseil-aktiwiteite van die slagoffers nie, omdat sy nie weet wat presies gebeur het nie.

SANPArke hanteer meestal klein reddingsoperasies soos stappers wat gedehidreer raak, mense wat ʼn enkel breek of iemand wat verlore raak. In sulke gevalle word die stapper met ʼn draagbaar van die berg af gedra. Verlede week is ʼn bejaarde man per helikopter van die berg af gebring nadat hy sy bewussyn verloor het. Hy het sedertdien weer herstel.

“Dra die regte skoene [wanneer jy by die berg opgaan] en sê vir iemand waarheen jy gaan en wanneer hulle jou kan terug verwag sodat die owerhede dadelik in kennis gestel kan word as daar ʼn probleem is,” het Collins gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

JoeV ·

In ‘n ander berig lees ek die mense was van Hong Kong en was beide dames, plaaslike gids en een dame wat oorlede is?

Anoniem321 ·

Dit was nie twee mans nie, dit was n man en n vrou wat oorlede is. Hulle het die liggame ontdek van die gids (man) en toeris (vrou).

Johan du Toit ·

Een ding ook wat baie mense onderskat is hoe vining die weer kan verander op Tafelberg. Een oomblik kan dit helder sonskyn en windstil wees en uur later is alles toe getrek en dik mis. Baie jammer om van die mense te hoor. ander loop weer en word deur `n kar dood gery.

Jakoba ·

Jammer vir betrokkenis en hul kennisse..maar leer tog uit ander se foute en BLY BY WETTE wat 80% van die bewoners van moeder aarde nié doen ook nie VERVOLG word nie. “mensdom?”

Simpatie ·

Nou het ek nog meer simpatie met die oumense en kinders wat vir 5 ure opgehou is agv die tragedie. JA dit is ‘n tragedie wat klimmers oor hulleself gebring het maar die arme oumensies en kinders wat saam met hulle vriende en familie vir ure in die koue moes wag om weer af te gaan met die kabelkar kry ek net so jammer. Mense foeter in waar hulle nie moet infoeter nie .. dan betaal ander saam met hulle ‘n prys daarvoor. Ek het veral gesien hoe toeriste by plekke altyd oorhang na ‘n waterval, altyd nader probeer kom as wat hulle moet wees, vir ‘n foto, vir ‘n selfie . en in die geval sien ek ‘n verskriklike berg wat uitgeklim is .. .wonder of die toeriste enigsins opleiding gehad het?

Anoniem ·

Ek het absoluut geen simpatie met die mense wat vir vyf ure op gehou is nie…
Goeie genugtig, mense is darem gemaksugtig!!! Hulle het absoluut niks oorgekom van ‘n bietjie wag nie!!!

Anoniem ·

Ek het absoluut geen simpatie met die mense wat vir vyf ure op gehou is nie…
Goeie genugtig, mense is darem gemaksugtig!!! Hulle het absoluut niks oorgekom van ‘n bietjie wag nie!!!

Blue Butterfly ·

Jaar na jaar verloor mense hulle lewens op Tafelberg. Dit is tragies.

Kat ·

Die klaers het duidelikgeen gevoel vir mense wat sterf of seerkry nie. Dit is jammer. N ongeluk kan enige tyd en enige plek gebeur. Dink na waaroor jy wil kla voordat jy dit skryf.Dit kan terugkom en byt.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.