Meer bekend ná Denise Bartlett-ontvoeringsdrama

Denise Bartlett (Foto: Facebook)

Twee verdagtes gaan Maandag in die Sterkstroom-landdroshof in die Oos-Kaap verskyn in verband met huisroof en die ontvoering van die 71-jarige Denise Bartlett.

Kapt. Namhla Mdleleni, woordvoerder van die polisie, het dié nuus bevestig. Die twee verdagtes is Vrydag in hegtenis geneem nadat Bartlett Dinsdagaand ná ʼn huisroof deur ʼn groep verdagtes ontvoer is.

Mdleleni, wat vroeër nie meer inligting oor Bartlett se ontvoering aan die media bekend wou maak nie, het Maandag gesê die polisie het ʼn “deurbraak” gemaak nadat Bartlett Vrydag in een van die verdagtes se huise gevind is.

“Die polisie het leidrade opgevolg en op die huis van een van die verdagtes toegeslaan. Bartlett is in die huis gevind waar sy met toue vasgebind en aangehou is.”

Volgens Mdleleni is Bartlett glo van Dinsdagaand af in die huis aangehou. Sy het egter geen ander beserings opgedoen nie. “Die familie het in dié moeilike tyd privaatheid versoek, maar die polisie kan wel bevestig dat Bartlett geen ander beserings opgedoen het buiten die skaaf- en skuurplekke van die tou waarmee sy vasgebind was nie.”

Die verdagtes het glo kontant, kruideniersware, elektroniese ware en huishoudelike items in die rooftog gesteel. Mdleleni het gesê Bartlett se Chevrolet Spark, wat gesteel is tydens die ontvoering maar Woensdag deur die polisie in Queenstown opgespoor is, is aan die familie terugbesorg.

Sy wou nie bevestig of Bartlett behandeling ontvang en of sy reeds tuis is nie. Albei verdagtes verskyn op aanklag van ontvoering en roof. Mdleleni het gesê die polisie ondersoek ook bewerings dat die verdagtes ʼn losprys van Bartlett se familie geëis het.

Bartlett se dogter, Lindy, het vroeër aan Maroela Media vertel dat Denise saam met ʼn kleindogter en dié se vriendin tuis was toe die verdagtes toegeslaan het. “My ma [Denise], my dogter en haar vriendin was vir ongeveer 20 minute tuis toe hulle ʼn man onder die tafel opgemerk het. Toe die man sien dat hulle hom gewaar, het hy onder die tafel uitgespring en hulle met ʼn wapen aangehou,” sê sy.

Lindy en een van haar ander dogters het later die aand by haar ma se huis aangekom en is deur nog ʼn gewapende man oorval. Volgens haar het die man haar en haar dogter met ʼn wapen tot in die badkamer gedwing. Hulle kon later daarin slaag om die polisie vanuit die badkamer te bel en het net betyds uit die badkamer ontsnap om te sien hoe Bartlett in die kattebak van ʼn motor ingeboender  en ontvoer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

fm ·

Ek is bly Mev Bartlett is ongedeerd gevind. Sterkte aan haar en die familie tydens hierdie traumatiese tyd.

Suid-Afrika is ‘n gewelddadige en verskriklike land om in te woon.

Albaster ·

Als tedanke aan die sogenaamde liberale beweging en menseregte. Diks tyd dat ons menseregte vir kriminele moet laat val en regte van onskuldiges moet seevier. Liberalisme is gemaak om samelewings te vernietig.

Yvonne Meyer ·

Amen so bly Mev Barlett is veilig die Engele het haar bewaar my gebede verhoor.

MJ ·

So dankbaar die tannie is veilig teruggevind. Ontvoering en aanhouding moes baie is seker nogsteeds baie traumaties. Sterkte aan die tannie en familie.

Sorika ·

Baie dankie Here dat U hand van beskerming oor Tannie Denise was. Baie bly Tannie Denise is ongedeerd en gevind!

Koos B ·

Fantasties kan nie glo sy lewe nog nie.Hoop net sy is ok dit moes een helse trauma vir haar gewees het.

Dankbaar ·

Ek is SOOO bly om te verneem die vrou is gevind. Foeitog, die trauma wat sy moes deurmaak; die angs en vrees of sy lewendig anderkant sou uitkom… Ek hoop en bid sy vind vrede en is in staat om aan te gaan met haar lewe.

Ester and Tinus van Zyl ·

Ek sal bitter graag wil sien hoe vergelyk die mense se vonnis met die vonnisse van die twee mans in die doodskis voorval.

Amelia ·

Kon Maroela nie net vir ons se of het sy darem kos en water gekry tydens haar aabhouding nie? Dankabaarheid was my eerste gedagte en toe het ek gewonder of sy darem kos en water gekry het?

Maggie ·

Baie dankbaar dat tannie veilig en ongedeerd gevind is-fisies ten minste.Emosionele skade sal daar wel wees-alle sterkte vir al di partye om trauma te verwerk!!

Hannetjie Harvie ·

n Ou Tannie, in n kattebak toemaak??? Wat is nou die verkil tussen dit en n jong man wat in n kis gesit is, gaan hierdie verdagtes ook 11 tot 14 jaar kry????
Tannie, ek is so bly jy is veilig

Drikus ·

Baie dankie vir deuglike speurwerk. Knap gedaan. Mag die vervolging daarin slaag om ander booswigte voortaan af te skrik.

PJC ·

ń Baie brawe dame hierdie. As ek naby haar was sou ek haar sommer ń stywe drukkie wou gee. Met sulke mense sien ek ń toekoms vir die blankes in die land. Ons moet opstaan vir ons self.

Theresa B ·

Alle eer aan die Here dat sy lewendig en met geringe beserings gevind is. Sterkte vir die familie. Dank aan die polisie se goeie werk.

lizl ·

Ek is so jammer om van die tannie se ondervinding te lees, dankbaar sy leef! En asseblief, waar is die doodskis 2 se prokureurs ? Die sake moet dieselfde straf kry, of hulle moet die doodskis 2 laat gaan !!!

Nico ·

Dit is skaars dat iemand in so geval nog lewend gevind word. Maar ek is bly haar familie het haar nog. Ander families is nie so gelukkig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.