Meer bekend ná Kaapse leerder (17) in buiteland sterf

skool

Skoolbeheerliggaamverkiesings skop af in Maart en het ‘n direkte impak op die gehalte van onderwys wat ‘n kind ontvang. Foto: Argief.

Debbie Schäfer, die Wes-Kaapse LUR vir onderwys, het Sondag gesê Shannen Rustin, die gr. 11-leerder van die Westerford Hoërskool in Rondebosch wat Vrydag tydens ʼn skoolbesoek aan Viëtnam dood is, was een van 32 leerders van dié skool op ʼn geskiedenistoer.

Schäfer sê die groep leerders sou onder meer besoek afgelê het aan Suidoos-Asië, Viëtnam, Kambodja en Thailand. Die leerders is vergesel deur twee onderwysers en een ouer van ʼn leerder en die toer sou van 3 tot 19 Desember duur.

Volgens Schäfer sê Gordon Brookbanks, die toerleier en ʼn onderwyser van die skool, die groep leerders het op 8 Desember om 08:30 hul hotel in Hoi An verlaat om te gaan fietsry. Volgens hom was dit bewolk.

“Sommige leerders het gesukkel om fiets te ry en het daarom op die agterkant van bromponies saam met ons gery. Volgens die plaaslike toerleier [wat die fietstoer gelei het], het Shannen ná sowat 30 minute gesê sy is moeg. Sy het toe op die agterkant van ʼn bromponie saam met die toerleier gery wat gesê het sy het ‘geklets en gelag’ terwyl hulle gery het,” sê sy.

Die groep het omstreeks 09:10 by ʼn brug stilgehou wat oor ʼn rivier strek om foto’s te neem. Brookbanks is glo geroep en ingelig dat Shannen inmekaargesak het. Hy het die toerleier bevel gegee om hulle na die naaste hospitaal te neem wat ses minute weg was. Op pad na die hospitaal het hy mond-tot-mond-asemhaling toegepas.

Viëtnamese hospitaalpersoneel het glo langer as ʼn uur gesukkel om Shannen weer by te bring. Sy is in die hospitaal dood verklaar.

“Shannen se familie is onmiddellik in kennis gestel. Hulle het intussen na Viëtnam gereis en sal deur Westerford-personeel ondersteun word. Dit is ʼn ongelooflik moeilike tyd vir die Rustin-familie,” sê Schäfer.

Die toergroep het intussen besluit om hul toer in “liefdevolle herinnering” aan Shannen voort te sit. Die Westerford Hoërskool het intussen ʼn sielkundige afgevaardig om by die kinders aan te sluit en berading aan hulle te gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

TDW ·

Dis enige ouer se nagmerrie! Sterkte aan die familie en vriende.

Attie No1 ·

Maroela media, kan ek vra dat die mooi Afrikaanse term Leerlinge gebruik word eerder as die verengelsde leerders.

Piet Snot ·

Moet sê, al is ek nou al so gewoond aan “leerders”, klink “leerlinge” darem stukke beter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.