Meer bekend ná vrou in lugballon-ongeluk sterf

Argieffoto

ʼn 36-jarige vrou van Suid-Afrika is dood toe ʼn warmlugballon Vrydag naby Luxor in Egipte geval het.

Maroela Media het vroeër berig die ballon het ʼn besigtigingstoer met buitelandse toeriste onderneem toe dit in die suidelike deel van die land geval het. Beamptes het gesê sterk wind het veroorsaak dat die ballon bokant die stad se farao-tempels en grafte van koers af gedwing is voordat dit geval het.

Ayman Walash, ʼn woordvoerder van die Egiptiese ambassade in Pretoria, het Vrydag gesê meer inligting oor die vrou is nog nie in dié stadium bekend nie.

“Die oorledene se naam of van watter deel van Suid-Afrika sy is, is nog nie aan ons bekend gemaak nie,” het hy gesê.

Walash het bevestig dat ʼn Suid-Afrikaanse man ook in die ongeluk beseer is, maar hy kon nie onmiddellik die omvang van die man se beserings bevestig nie.

“Ons weet wel dat 11 ander persone [benewens die Suid-Afrikaanse man en die oorledene] ook in die ongeluk beseer is. Twee van die 11 is ernstig beseer.”

Die 11 beseerdes is volgens Walash toeriste van Argentinië en Spanje.

Hy sê al wat die ambassade in dié stadium weet, is dat daar komplikasies was toe die warmlugballon probeer land het en skielik geval het.

Dit is nie die eerste keer dat mense in ʼn warmlugballon-ongeluk in Luxor sterf nie. In 2013 het 19 buitelandse toeriste gesterf toe hul lugballon aan die brand geslaan het.

In 2016 het Egipte tydelik lugballonvlugte opgeskort toe 22 Chinese toeriste geringe beserings opgedoen het toe die lugballon waarin hulle was geval het. Sedertdien word lugballonvlugte deur kameras gemonitor en is lugballonne verbied om hoër as 2 000 m te styg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.