Meer bekend oor Centurion-skietgeveg

Foto: ER24

Die Centurion-skietgeveg tussen polisiebeamptes en verdagtes waarin een dood en vier ander beseer is, is as gevolg van ʼn gekaapte voertuig.

Maroela Media het vroeër berig een man is tydens die skietgeveg oorlede, terwyl vier ander beseer is. Twee van die beseerdes is onder polisiebewaking na die Tembisa-hospitaal geneem vir verdere mediese sorg terwyl twee ander in hegtenis geneem is en nie mediese behandeling nodig gehad het nie.

Kapt. Thomas Mufamadi, woordvoerder van die polisie, sê lede van die metropolisie was op roetine-patrollie in die area toe hulle ʼn verdagte Audi A4 met vyf insittendes van die pad probeer trek het. Die bestuurder het geweier om ag te slaan en het weggejaag, waarna die skietery ontstaan het.

Foto: ER24

Tydens die hoëspoed-jaagtog het die verdagtes beheer verloor oor hul voertuig en dit het in ’n sloot langs die pad beland.

Die polisie het beslag gelê op twee vuurwapens wat in die motor was.

Mufamadi sê ʼn voorlopige ondersoek toon die voertuig was met vals registrasienommerplate toegerus en dat dit vroeër in Augustus 2017 in Daveyton gekaap is.

Die vier verdagtes sal binnekort voor die landdroshof verskyn op aanklag van die besit van ʼn gekaapte voertuig en die besit van ongelisensieerde vuurwapens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Cherokee ·

Maroela, wat is ‘vermeende verdagtes’? Verdagte verdagtes… kan jy dit glo!

Gustav ·

Cherokee, as jy reg is, is jy reg, en jy is reg. “Vermeende verdagtes ” is ‘n pleonasme. Dis soos om te praat van ‘n bejaarde oumens. Afrikaans is ons meisie. Ons moet besitlik wees oor haar en streng wees met dié wat haar hare deurmekaar krap.

Daan ·

Cherokee,lyk my jy is die nie-amptelike inspekteur van feitelike inhoud en taalkundige korrektheid van elke berig.Dalk moet jy sommer by Maroela aansoek doen vir ‘n pos in die hoedanigheid.Dis soos die seun se pa wat op en af langs die veld heeltyd
die skeidsregter kritiseer en sommer alles bederf.

deloris ·

Moet mense altyd kla oor woord keuses ………..dit gaan oor n storie nie oor n eksamen vraestel nie…..

LB ·

Ja ek stem saam met Cherokee, mense kan gerus bietjie kla en ander op hul tone hou oor taalfoute en spelfoute . Mense praat ook dan so slordig omdat hulle nie kan spel nie. Iemand in my vriendekring praat van gestraand en skryf dit ook so (gisteraand) ook die die sin wat gereeld in MM se berigte voorkom nl. ” ‘n ondersoek is van stapel gestuur” krap aan my maar ek weet dit is taalkundig korrek, maar praat mense werklik so?

Richard ·

Een ou Kerneels se well done metro police die res kla en kerm oor regte woordkeuses en uitsprake. Plaas julle maar net se dankie polisie nog verdagtes vas. Terwyl julle so kla en kerm het jy dalk al die vermeende, verdagte, vermoedelike ,alledged inbreker misgekyk wat die huise in jou straat dophou. Maak julle oe oop vir die regte dinge.

Hennie ·

Vir die wat kla oor Cherokee, dit is goed as iemand taal en spel foute uitwys, anders kon ons mos maar die engelse berigte gelees het en dan ook “bly” wees dat die verdagtes aangekeer is. Cherokee ons moet dit egter met grasie en geduld doen. Dan moet ek ook ongelukkig noem, dat jy verskyn in die Landdroshof , want as jy voor die landdroshof verskyn het is dit buite iewers.?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.