Meer bekend oor liggame langs N12-hoofweg

Polisielede op die toneel waar die sewe liggame ontdek is. (Foto: RiotAndAttackSA/Twitter)

Die sewe liggame wat Donderdagaand langs die N12-hoofweg naby die Putfontein-afrit in Gauteng aangetref is, was wel dié van onwettige mynwerkers.

Kol. Noxolo Kweza, woordvoerder van die polisie, het Maandag aan Maroela Media gesê al sewe mans was onwettige mynwerkers afkomstig van Lesotho. Twee van die sewe liggame is reeds deur familielede uitgeken.

Maroela Media het vroeër berig die polisie het verlede week ʼn oproep van ʼn verbyganger ontvang wat die liggame langs die pad opgemerk het. Al die liggame, behalwe een met brandwonde, het koeëlwonde gehad.

Daar word vermoed die mans is ondergronds vermoor en was moontlik deel van voortgesette onwettige mynbedrywighede.

Kweza kon egter nie bevestig of die mans spesifiek betrokke was by onwettige mynbedrywighede in die gebied rondom die Putfontein-afrit nie.

Johanco Fleischman en Jessica Kuhn is in Mei vanjaar ook op Putfonteinweg koelbloedig doodgeskiet nadat hulle sonder brandstof langs die pad gaan staan het.

Daar is aanvanklik gesê dat sogenaamde zama-zamas (onwettige mynwerkers) glo verantwoordelik was vir dié moorde.

Niemand is nog in verband met dié moorde in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.