Meer bekend oor SA se eerste Covid-19-sterftes

Die virus wat Covid-19 veroorsaak (Foto: NIAID-RML via AP)

Suid-Afrika se eerste twee sterfgevalle weens die nuwe koronavirus, Covid-19, is twee vroue – onderskeidelik 28 en 48 jaar oud.

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, het Vrydag gesê die 48-jarige vrou se toestand het oornag versleg terwyl sy in die intensiewesorgeenheid van ʼn hospitaal in die provinsie was. Sy is Vrydagoggend dood.

Die ander slagoffer, ʼn 28-jarige vrou, is gister in ʼn hospitaal opgeneem waar sy noodbehandeling ondergaan het. Sy het ook vanoggend gesterf.

“Die kliniese aanduidings stem ooreen met Covid-19, maar ons wag nog op die toetsuitslae om dit te bevestig,” het Winde gesê.

“Net ʼn paar maande gelede het die wêreld gehoor van ʼn virus wat blitsig deur ʼn provinsie in een land [China] versprei het, en weinig anders as chaos en smart agtergelaat het.

“Sedertdien het die virus sy eie naam gekry – Covid-19 – en ons het gesien hoe dit tussen nedersettings, dorpe en lande versprei. En hoewel ons weet dat talle slegs matige simptome ondervind, en ander geen simptome nie, was die uitwerking op ander baie ernstig. Talle mense het die lewe gelaat,” het Winde gesê.

Hy het ook die provinsie se medelye met die slagoffers se geliefdes betuig en mense gevra om 12:00 ʼn oomblik van stilte te handhaaf.

“Ons betreur die verlies as ʼn provinsie en ʼn land.”

Winde het gesê terwyl alle Suid-Afrikaners tuisbly tensy dit absoluut nodig is om vir noodsaaklike aankope uit te gaan, gaan dit almal se samewerking verg om lewens te red.

“Ons bly tuis vir onsself, ons gesinne en vriende, ons grootouers, vir die gesondheidswerkers wat met die virus te doen kry en ons hulp nodig het om die verspreiding daarvan te stuit, en vir elke man en vrou in Suid-Afrika,” het Winde gesê.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het vroeër in ʼn kort verklaring oor die sterftes gesê meer as 1 000 mense in Suid-Afrika het reeds die virus onder lede.

Hy het onderneem om later vandag meer besonderhede daaroor bekend te maak.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jaco ·

Suid Afrika se korona getalle gaan buite beheer raak, ons sal binne die volgende twee maande heel bo aan die lys wees, onthou my woorde. Sien op nuus dat in informele nedersettings gee bitter min gehoor aan die lockdown, mense drom saam, hier en daar ry nog n taxi ens. Baie Suid Afrikaners het n probleem wanneer dit kom by die hou van reëls, ons is n “lawless” nasie. In eerste wêreld lande sal n lockdown verseker werk…hierso nie. Ek sien nag!!!!

ZeldA ·

Hul sal eers eers begin gehoor gee wanneer die mense letterlik doodgaan om hul. Dan is dit te laat

antieke antie ·

ja en daar gaan gese word die goverment het nie vir hulle goed gegee nie…. ander moet self voorsien maar baie sal almal behalwe hulleself blameer… baie mense sal altyd ander se probleem wees… dis seker maar in party mense se gene om ander te teer… ek glo daar is baie in die informele nedersettings wat hulle deel doen….. soos in alle gemeenskappe voorkom…ons ander sal op die ou end die slagoffers wees….. ek hoor klaar hulle gaan nie ouer as 60jr mense op resparators sit nie

Cecil ·

Jaco ek voel ons moet nie so negatief wees nie. Ek glo die SAP sa die nedersettings begin kort vat.

Kobus ·

Soos gewoonlik het die president en ministers almal probeer waarsku teen vervolging maar ons wetstoepassers voel ‘n veer.Hier gaan dadels van kom

Marie-Louise ·

Ek stem saam met Kobus, in Ceres sien ons hoe die wetstoepassers verby hule ry sonder dat iets daaraan gedoen word.

Marita ·

Ek is nou in die war. Op die DFA se voorblad (Kimberley koerant) was n berig gister v n dame wat Covid19 opgedoen het in Hartswater wat Woensdag oorlede is in Lenmed Hospitaal Kimberley. Hoe akkuraat is ons syfers dan?

Nadia ·

Ekt self nou gewonder na ek die vn gehoor het wat deur haar man aangestuur is. Word ons in die donker gehou?

Wonder net ·

Party mense vat die ding heeltemal te ligtelik op. As mens kyk na die videos van sosiale byeenkomste wat op verskillende media platforms al gedeel is vandag kan mens aflei dat die mense dit nie ernstig opneem nie. Daai arme 2 vroue wat gesterf het vandag is iemand se mamma… iemand se dogter… ieand se vrou… iemand se sussie. Wanneer gaan mense wakker skrik. Dis nie te se jou provinsie het min gevalle jy kan maar buite rond hang nie. Die probleem is dat daai persoon wie se hand jy skud of wat teen jou stamp of in jou nek nies, iewers anders vandaan kom waar daar dalk meer gevalle is. Skrik wakker mense. Ons is n land wat tot rommelstaus verklaar is. Wat laat julle dink dat ons die geveg gaan wen sonder disipline as 1ste wereld lande dit nie eers kan regkry nie. Bly by jou huis! Al is dit nie vir jou veiligheid nie, maar vir die arme tannie met suiker of kanker wat langs jou in die winkel staan. Dink mooi voor jy winkel toe ry vir daai onnodige sjokelade of koeldrank.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.