Meer bekend oor skietery by Centurion-winkelsentrum

‘n Foto van die toneel by Forest Hill (Foto: ER24)

Die Gauteng-polisie het Sondagmiddag ʼn volskaalse soektog begin na drie verdagtes wat Sondag ʼn veiligheidswag gewond het tydens ʼn “mislukte” rooftog by die Forest Hill-winkelsentrum in Centurion.

Maroela Media het vroeër berig die veiligheidswag is na die hospitaal gehaas nadat hy in die bolyf geskiet is.

Kapt. Bonginkosi Msimango, woordvoerder van die polisie, sê drie mans het glo ʼn Vodacom-winkel in dié sentrum binnegestorm en personeellede van die winkel in die bestuurder se kantoor in gedwing.

Die mans het glo geëis dat die personeel die kluis oopsluit sodat hulle kontant kan neem, en aan die personeel gevra hoe lank dit gaan duur om die kluis te open. Volgens Msimango het die personeel glo gesê dit sal sowat 10 minute duur om die kluis oop te kry weens veiligheidsredes.

Omdat verskeie veiligheidsmaatskappye reeds in kennis gestel is van die verdagtes in die sentrum, het hulle uit die winkel gestorm en na die grondvloer-parkering gegaan waar hulle hulself teen ʼn veiligheidswag vasgeloop het. Een van die verdagtes het die man toe in die bolyf geskiet.

Die veiligheidswag is na die Unitas-hospitaal in Centurion geneem en sy lewe is glo nié in gevaar nie.

Volgens Msimango het die verdagtes te voet gevlug. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

“Enigiemand met meer inligting oor die voorval of die verdagtes word versoek om die misdaadnoodlyn by 0860 010 111 te skakel,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Deidré ·

In hierdie land waag jy jou lewe op die paaie en in winkelsentrums! By die huis moet jy braai met .38 Special op jou heup! Die Hemele behoed ons!

Johanna Botha ·

Wat kan n wag met n knuppel ook doen teen gewapende mans …en hulle kom tevoet weg …hemel maar die polisie is pateties !

anton ·

Ja in Pta is daar ook n groot bekende sekerheids maatskappy wat duisende kliente het en wat reageer op alarms van huise en besighede.
Maar ai, die manne vat soms meer as 30 min om by jou perseel uit te kom en dan die volgende skok is dat hulle nie eers gewapen is nie. Ook nie koelvaste baaitjies dra nie. Nou wat help hulle dan nou eintelik?
Ongewapende reaksie wagte stel net hul eie lewens in gevaar en gaan beslis nie die gewapende skelms kan stop nie.

Johan ·

Hehehehh Johanna welkom by suid africa …die land waar die wit mense n groter target op hulle rug het as die skelms

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.