Meer dokters nodig om oor Sassa-toelae te besluit

(Argieffoto)

Byna 20 000 mense wat reeds ongeskiktheidstoelae van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) kry of aansoek gedoen het vir dié toelae, wag om dokters te sien om die assessering vir dié toelae te doen.

Alexandra Abrahams, ʼn DA-lid van die portefeuljekomitee oor maatskaplike ontwikkeling, sê die agterstand is ʼn jare lange probleem wat veroorsaak word deur die tekort aan dokters wat deur Sassa gekontrakteer word om die ondersoeke te doen.

Die minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu, het ook erken dat die situasie vererger is deur die sluiting van Sassa-kantore weens die afsonderingstydperk en beperkte kapasiteit nadat die regulasies verslap is.

“Die DA wil die minister herinner dat die rede waarom die kantore gesluit en onderbeman was, is omdat sy geweier het om dit ná herhaalde oproepe daarvoor te heropen. Zulu moet self ten volle verantwoordelikheid aanvaar omdat sy deur haar arrogansie ʼn reeds slegte situasie selfs verder laat vererger het,” het Abrahams gesê.

Die tydelike ongeskiktheidstoelae wat uitbetaal word eindig in Oktober en talle begunstigdes gaan daarna besef hul toelae het verval en hul enigste bron van inkomste is nou daarmee heen, het sy gesê.

Sou ʼn dokter wél ʼn assessering gedoen het, verstryk die geldigheid van dié verslag na drie maande, omdat Sassa teen daardie tyd – in teorie – die aansoek moes verwerk het. Weens die sluiting van Sassa-kantore tydens die afsonderingstydperk het verskeie van die verslae reeds verval en dra dit by tot die reeds oorlaaide stelsel.

“Duisende desperate en kwesbare Suid-Afrikaners is nou aan genade oorgelaat terwyl hulle wag om ondersoek te word sodat hulle toegang kan kry tot die toelae wat nodig is vir hulle oorlewing.”

Die DA het sy oproep op die departement herhaal om dringend meer dokters te werf om assesserings vir ongeskiktheidstoelae te doen om te verseker dokters wat dit reeds doen, word nie hopeloos oorweldig nie.

In die Wes-Kaap is daar byvoorbeeld ʼn agterstand van 4 945 assesserings wat deur tien dokters gedoen moet word. In Noordwes is daar ʼn agterstand van 4 574 en 28 dokters is gekontrakteer om die ondersoeke te behartig.

Landwyd staan die getal dokters wat direk deur Sassa gekontrakteer is om ondersoeke te doen op 475.

ProvinsieGekontrakteerde dokters
Oos-Kaap28
Vrystaat44
Gauteng52
KwaZulu-Natal134
Limpopo72
Mpumalanga27
Noord-Kaap80
Noordwes28
Wes-Kaap10
Totaal475

Die DA sê die departement moet dit so maklik moontlik maak vir dokters wat bereid is om te help om op die regering se databasis vir diensverskaffers te registreer.

“Vir baie mense met gestremdhede is hierdie toelae noodsaaklik vir hulle oorlewing. Dis ʼn manier om kos vir hulself en hul gesinne te koop.

“Die minister moet nou optree en die agterstand pak sodat diegene in haar sorg nie onnodig ly nie,” het Abrahams gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae