Meer Engels by NWU weens tekort aan tolke

NWU deur Media Club (Flickr)

Die tolkdiens vir studente van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus is nog nie ten volle op dreef nie nadat tien vakante tolkposisies sedert Oktober 2017 nie gevul kon word nie.

In die tussentyd is dosente versoek om studente so ver moontlik tegemoet te kom. Dit bring mee dat dosente klasse in Engels sowel as Afrikaans, of selfs net in Engels, moet aanbied om te verseker studente word nie oor taal uitgesluit van klasse nie.

Die diens het in ʼn e-pos aan dosente gesê die beperkte kapasiteit en ʼn vol klasrooster veroorsaak ʼn vreemde situasie waarin daar sommige tye is wanneer die tolke nie ten volle benut word nie, terwyl daar weer ander periodes is wanneer daar te min tolke is vir die hoeveelheid klasse wat gelyktydig plaasvind.

Volgens die diens het hy reeds oor die afgelope vyf maande gewaarsku dat so ʼn situasie kan ontstaan. Daar is glo telkemale versoeke gerig om die vakante posisies te vul sodat ʼn behoorlike diens gelewer kan word as die klasse in die nuwe akademiese jaar sou begin, maar die versoek is geweier.

Die diens het ook in sy kommunikasie aan dosente om verskoning gevra vir die ongerief wat die tekort aan tolke tans veroorsaak.

Willie du Plessis, woordvoerder van die NWU, het in reaksie op Maroela Media se navraag oor die situasie by die Potchefstroom-kampus se tolkdiens gesê daar is met die aanvang van enige akademiese jaar maar uitdagings met die grootte van klasse en roosterveranderings.

“Die huidige tekort aan tolke bring ekstra uitdagings mee en raak alle studente, nie slegs Afrikaanssprekende studente nie.

“Vir die interim is die opdrag duidelik om studente sover as moontlik te akkommodeer wat taal betref.”

Du Plessis het bygevoeg die vul van die poste geniet prioriteit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

JC ·

Die begin van die einde…dit word OPSETLIK gedoen, want in die eerste plek het Potch soos verwag kan word toegewings en toegewings bly maak oor die akkommodering van “Engelse” studente by Pukke, en hierdie is nou die resultaat, want daar is nie kapasiteit vir die groter hoeveelheid “Engelse” studente nie.
Die RHO het mos juis gese (BEVEEL) PUKKE moet meer “engelse” studente akkommodeer. Wat ‘n slim skuif- bedekte aanval op Afrikaans.
Moet se; welgedaan aan die Afrikaanshaters (wat deesdae baie en meer vokaal is) en Sosiale marxiste, welgedaan!!
Die staatsdiens (universiteite) is blykbaar ‘n verlore saak=Akademia is nou die toekoms vir Afrikaanse studente.
Koebaai Pukke:(

JHC ·

UOVS het dieselfde pad gevolg en nou is die Kovsies net Engels..

Tammy ·

Ja sowaar die begin van die einde vir ons universiteit. Dis in blatante skande. Ek kan nie onthou dat hierdie snaakse goed wat deesdae opduik in die vorige era bestaan het nie!!

Henko Pienaar ·

Volgende hoor ons dat tolk dienste afgeskaf gaan word weens ‘n tekort en dat alle klasse in Engels gaan wees of dat die Engelse studente benadeel word deur die en dat klasse slegs in Engels gaan wees

OudPUK ·

Ek was laasjaar ‘n student aan die NWU, en in verskeie klasse was daar meer as een tolk gewees wat dan elkeen n gedeelte van die klasse getolk het. Die rede vir twee verskillende tolke was dat daar nie genoeg werk vir hulle was dat elkeen sy eie klas kon tolk nie oor meeste van die ander klasse reeds Engels was. Wat het nou van hierdie ekstra tolke geword tussen laasjaar en die jaar?

Casper Labuschagne ·

Kyk, ek is absoluut ‘n voorstaander van en stryder vir Afrikaanse universiteite. Maar nou word die taalbeleid oënskynlik geïmplementeer as lesings in Engels en tolke wat dit in Afrikaans oordra. Dit is ‘n totale belaglikheid, daar is waarskynlik nie een Afrikaanse student wat regtig ‘n tolk nodig het nie. Kan iemand bevestig of daar wel ‘n beduidende hoeveelheid lesings in Afrikaans aangebied word, so nie is die Afrikaanse taalbeleid bloot ‘n klug.

Jacques Venter ·

Ek was bevooreg om in Afrikaans voor-‘en nagraads te studeer.

Die feit is dat Afrikaans as onderrig taal gaan verdwyn.

Kan ons iets daaraan doen? Ek glo nie.

Omdat Engels n europese taal is,.is dit nie so moeilik vir ons kinders nie.

Ons moet egter sorg dat ons kinders sterk Engels magtig is as hulle universiteit toe gaan

GM ·

Die probleempie kan mos gou opgelos word? Almal wat deel uit maak van die Alumni, onttrek jou finansiële bydrae tot die Universiteit.

Jd ·

Dit wat ek nou lees is strydig met die soetsappige toespraak wat gelewer was by die PUK se opening 2018

Anon ·

Klink bekend. Dieselfde gebeur met IT waar vakante poste nie gevul word nie a.g.v. ‘n sleepvoethouding. En dan moet IT met rooi gesigte sit as hulle nie die gewenste dienste kan lewer nie.

Jy maai wat jy saai ·

LEKKER JULLE WOU MOS INGEE UNIVERSITEIT, later gaan AFrikaans net ‘n gedagte wees, maar die besture van al die universiteite kan mos nie WAG om te VERENGELS en polities korrek te wees nie . KRY VIR JULLE . hoop die rektor en dekane en alle manne wat deel was van hierdie besluit gee ook sommer klas …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.