‘Meer geld vir veiligheid’ – Vrystaat Landbou

Foto ter illustrasie.

Meer as 10 000 werkgeleenthede kan verlore gaan as daar nie vinnig aandag gegee word aan toestande wat bevorderlik en volhoubaar vir produktiewe kommersiële landbou in die Vrystaat nie. Daarbenewens is voedselsekerheid in gevaar en kan plattelandse dorpe en hul infrastruktuur verder verval, en landelike inwoners in ʼn voortdurende afwaartse spiraal van armoede vasgevang word. So sê Vrystaat Landbou (VL) in aanloop tot die jaarlikse begrotingsrede Woensdag.

“’n Veilige en bevorderlike omgewing is nodig in die Vrystaat en Suid-Afrika om te kan floreer,” sê Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou. “Tot dusver het die regering egter nie daarin geslaag om hierdie bevorderlike en volhoubare omgewing te bied nie, maar kies eerder om uiteenlopende en verdelende politieke ideologieë te volg.”

ʼn Bemagtigende begroting wat strook met die aksieplanne wat in die president se staatsrede voorgelê is, sal geloofwaardigheid aan die voorgestelde planne bied, maar rolspelers in die landbou is skepties daaroor of Tito Mboweni, minister van finansies, die geld gaan aanwend soos deur die president voorgehou is. \

Vrystaat Landbou sal wil sien dat die volgende kwessies aandag geniet:

  • ʼn begroting wat daaraan voldoen om landelike veiligheid te verbeter en aandag gee aan die vlaag van geweldsmisdaad,
  • erkenning ná waardige werkskepping in plaas van toelaes wat die sosiale afhanklikheid van die staat verhoog,
  • stappe om die indiensneembaarheid en produktiwiteit van intreevlakwerkers te verhoog wat hoër nasionale minimumlone eis,
  • ʼn spesiale infrastruktuur-projek wat broodnodig is om landelike paaie op te knap,
  • voldoende voorsiening vir die aankoop van genoeg grond wat benodig word vir hervormings in die landbousektor en om te voorsien in die behoefte aan grond vir die oprigting van eie huise waar munisipale dienste gelewer kan word, en
  • aandag aan die staat se salarisrekening wat spreek van ʼn oneffektiewe opgeblase burokrasie wat deur jare se kaderontplooiing geskep is.

Vrystaat Landbou het hierdie en ander aangeleenthede uiteengesit in ʼn brief aan Mboweni, waarin die organisasie kommentaar lewer op sy ekonomiese beleid en wenke aanbied vir die begrotingvoorstel. ’n Afskrif van hierdie brief is hier beskikbaar.

“Vrystaat Landbou hoop van harte dat die minister gelei word deur goeie ekonomiese redenasies en nie deur politieke ideologieë nie. Of erger nog, dat die begroting gerig is op die plek waar die ANC sy laaste plundertog van die staatskas kan hou voordat ons as ʼn nasie van die fiskale krans tuimel om die bodem te tref.

“Die landbousektor het beslis sy waarde vir die nasionale ekonomie bewys deur sy buigbaarheid, ondanks die feit dat hy ook met die natuurlike elemente gesukkel het. Ons hoop om in die komende begroting as sodanig erken te word en verder bemagtig te word om die ekonomie te bevorder, in plaas daarvan om drooggemelk te word deur stremmende belasting,” sê Wilken.

Belastingkortings vir gemeenskappe wat gedwing word om openbare infrastruktuur te herstel of wat uitgawes aangaan wat verband hou met die verbetering van plaasveiligheid, sal verwelkom word.

Die begrotingsrede word vanmiddag om 14:00 gelewer en kan op YouTube (google byvoorbeeld “Mboweni Budget Speech 2021 YouTube”), Twitter en Facebook gevolg word, asook op DStv-kanaal 408.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter ·

Ag asb skrik net wakker dit gaan glad nie gebeur nie. Julle praat hier van kommuniste en terroriste.

Miskruier ·

Eskom is seker die grootste probleem. Ons lyne is gaar. Verlede Donderdag is die krag seker tien keer aan en af geskakel in 5 minute, die gevolg n hekmotor wat nie meer werk. Gister is ons op een fase krag met gevolg dat die tweede hekmotor ook vandag nie meer werk nie. Eskom soek wel n 15% verhoging.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.