
Pres. Donald Trump van die VSA saam met die Kim Jong-oen, die Noord-Koreaanse leier, tydens die geskiedkundige beraad tussen dié twee leiers op die Sentosa-eiland in Singapoer (11 Junie 2018). Foto: AP Photo/Susan Walsh, Pool
Die Amerikaanse president Donald Trump en die leier van Noord-Korea, Kim Jong-oen, het Dinsdag ʼn gesamentlike verklaring, onderteken deur beide leiers, uitgereik oor die besonderhede van hul ontmoeting vroeër die dag in Singapoer.
Kim het tot algehele kernontwapening ingestem in ruil vir veiligheidswaarborge deur die VSA.
Trump het ná die vergadering ook telefonies met Moon Jae-in, president van Suid-Korea, gesels. Moon se kantoor het nie dadelik die besonderhede van die gesprek bekend gemaak nie. Hy het vroeër gesê die ontmoeting tussen Trump en Kim is “ʼn groot oorwinning vir die VSA en die twee Koreas” en “ʼn groot tree vir mense oor die wêreld heen wat vrede nastreef”.
Skandinawiese en Estiese leiers het die ooreenkoms tussen Trump en Kim verwelkom, maar gewaarsku dat Noord-Korea vroeër versuim het om aan ontwapeningsooreenkomste te voldoen.
Senator Lindsay Graham het gesê Amerika en Noord-Korea is albei sterker ná die beraad in Singapoer. Die Republikein van Suid-Carolina het egter gesê hy wil die besonderhede van die ooreenkoms sien en hy versoek ook dat die kongres oor die ooreenkoms moet stem.
Trump het aan verslaggewers gesê Noord-Korea se kernontwapening sal volledig wees. “Ons gaan dit nagaan. Ons sal dit nagaan. Heeltemal en volledig.” Hy het reeds Singapoer verlaat ná sy ontmoeting met Kim. Hy het ʼn dag vroeër as verwag vertrek. Volgens hom wil hy nie ʼn ekstra aand in die land bly nie, aangesien hy reeds alles gedoen het wat hy wou. “Daar is niks meer wat ons kon doen nie.”
Trump het bygevoeg hy sal “die baie talentvolle” Kim nooi om by die Withuis te kom kuier “op ʼn gepaste tyd”. Volgens hom het Kim reeds die uitnodiging aanvaar. Hy wil graag ook een dag by Kim in Pyongyang gaan kuier, het hy gesê.
Trump is ook van voornemens om gesamentlike militêre oefeninge tussen die VSA en Suid-Korea tot ʼn einde te bring. Noord-Korea teken al jare lank beswaar aan teen dié oefeninge en beskou dit as ʼn oefening vir toekomstige militêre optrede teen Noord-Korea. Volgens Trump was dit ʼn finansiële oorweging, en het verduidelik die VSA sal baie geld spaar deur die oefeninge te kanselleer.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
13 Kommentare
En toe doen Donald Trump dit weer. ‘n Meester.
Regtig? 2 grootste narsistiese “narre” bymekaar. Soort soek soort. Moet almal nou veilig voel?
Nog n land in die Rothschild sakkie…indien suksesvol, bygesê.
Mooi man.
Vrede vrede. Die Woord van God sê die wêreld sal dit aan die einde skree.