Meer inligting bekend ná moord op Vrystaat-egpaar

Ina en Sakkie van der Berg (Foto: Facebook)

Die polisie is in die stadium op soek na twee verdagtes in verband met die moord op Sakkie en Ina van der Berg die afgelope naweek op hul plaas buite Boshof in die Vrystaat.

Konst. Wendy Nkabi, woordvoerder van die polisie, het Maandag aan Maroela Media gesê niemand is nog in hegtenis geneem nadat die egpaar Vrydagaand omstreeks 19:00 in hul huis op die plaas oorval en vermoor is nie.

Sakkie was 67 jaar oud en Ina was 62 jaar oud. Volgens Nkabi was daar geen teken van gedwonge toegang tot die huis nie. Dit is nie in die stadium duidelik hoe die egpaar vermoor is nie.

Maroela Media het vroeër berig een van die egpaar se voertuie is tydens die aanval gesteel. Volgens Nkabi is die verdagtes ook met selfone en ʼn vuurwapen vort.

Die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) het intussen ʼn ondersoek na die dubbelmoord op Sakkie en Ina van stapel gestuur. Die Valke ondersoek ook die moontlikheid dat die moorde moontlik verbind kan word aan die dubbelmoord op ʼn egpaar in Mei vanjaar in Dealesville, sowat 57 km van Boshoff.

Maroela Media het vroeër berig ʼn huiswerker het op 31 Mei op Monica Deniacos (68) se bebloede liggaam in die gang van die huis afgekom. Haar man, Basil, se bebloede liggaam is in ʼn kamer tussen ʼn bed en die muur gevind. Hulle is met ʼn stomp voorwerp doodgeslaan.

Twee Malawiese werkers is aanvanklik aangekeer vir die moorde maar kon nie met die voorval verbind word nie.

Ao. Lynda Steyn, woordvoerder van die Valke, het vanoggend aan Maroela Media gesê die Valke se ondersoek na Sakkie en Ina se moorde is nog in ʼn vroeë stadium.

Monica en Basil Deniacos. (Foto: verskaf)

Hoewel Steyn kon bevestig dat die Valke die verbintenis tussen die onderskeie moorde ondersoek, kon sy nie bevestig dat dit wel verband hou nie.

Die vermoede het ontstaan aangesien die dubbelmoord op die Deniacos-egpaar in dieselfde distrik as die dubbelmoord op die Van der Bergh-egpaar gepleeg is. Steyn het erken dat die vermoede gesteun kan word vanweë die feit dat egpare in albei voorvalle die slagoffers was en dat voertuie in albei voorvalle gesteel is.

“Indien dit verbind sou wees, sou dit om dié redes wees, maar ek kan nie bevestig of dit wel verband hou nie.”

Lt.kol. Thabo Covane, woordvoerder van die polisie, het gesê niemand is sedertdien in hegtenis geneem vir die moorde op die  Deniacos-egpaar nie.

Jan van Niekerk, leier van die VF Plus in die Vrystaat, het ná die moord op die Van der Bergh-egpaar gesê dié dubbelmoord is net nog ʼn bewys dat plaasmoorde in Suid-Afrika buite beheer is.

“Met elke dag wat verbygaan sonder dat die ANC wil erken dat plaasaanvalle en -moorde ʼn werklikheid is, sal boere aanhou vermoor word,” het Van Niekerk Sondag in ʼn verklaring gesê.

“Daar was volgens die Transvaalse Landbou-unie (TLU) se syfers reeds meer as 60 plaasmoorde en 217 plaasaanvalle net in die eerste helfte van vanjaar.

“Nóg president Cyril Ramaphosa, nóg die Vrystaatse premier Sisi Ntombela wou in hul afgelope staat- en provinsiale openingsredes erken dat die regering se gebrek aan landelike beveiliging ʼn bedreiging vir boere se veiligheid en voedselsekerheid inhou,” lui die verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Chris Ws

Ons innige simpatie met die vd Bergs se naasbestaandes.Ek doen weer ‘n beroep op plaas boere en kleinhowe bewoners om hul paraatheid in orde te kry as dit nie is nie.Dra handwapens 24/7 aan julle assebief!En skiet EERTSTE en Praat TWEEDE.Ons het nie meer ‘n keuse nie.

Willie

As die SAPD en die Staat hulle verwerdig het om in die eerste plek die eerste moord te ondersoek en arestasies kon maak en dit was verwant, sou nommer twee nie plaasgevind het nie… Dis n skande dat mense so vermoor word, mense wat bydra tot die ekonomie…

Anoniem

Dit het eenvoudig net nie end nie !

Anoniem

Hierdie is om van siek te word nee man so kan dit nie aan gaan nie anc word wakker, Eff en Blf moet ook pa staan vir hierdie moorde op onskuldige blankes want hulle sweep die massas op om dit te doen.

Jimmy

Die land is klaar oor die afgrond, al wil dit nog nie heeltemal deurdring nie.