Meer keuses, groter toegang, sê US-rektor oor taalbeleid

Prof Wim de Villiers, rektor van die Universiteit Stellenbosch, tydens die verhoor voor die MRK (Foto verskaf deur die DA)

“Ons is vol vertroue dat ons studente meer keuses, groter toegang en ’n beter toekoms het danksy ons benadering tot taal,” het prof Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US) Maandag by ʼn verhoor van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) gesê.

Die MRK se ondersoek volg nadat die Demokratiese Alliansie vroeër klagtes aanhangig gemaak het oor talle aantygings dat studente in koshuise, op kampus en selfs op WhatsApp verbied word om in Afrikaans te kommunikeer, en met boetes gedreig word indien hulle Afrikaans sou praat. Die verhoor het in Stellenbosch plaasgevind.

“Kom ek sê uit die staanspoor die suggestie dat studente oor die hele kampus heen in enige stadium ingevolge universiteitsbeleid verbied is om in Afrikaans te kommunikeer, is onwaar. Daar is geen verbod op Afrikaans by die US nie – nie in lesinglokale, in koshuise of op enige ander plek op kampus nie. Dit is nié ons beleid nie,” het De Villiers gesê.

“Inteendeel, ons taalbeleid bevorder meertaligheid en hou rekening met die diversiteit van ons samelewing sowel as die intellektuele rykdom wat in daardie diversiteit opgesluit lê.

“Daar is geen beleid dat slegs Engels in koshuise gebruik mag word nie. En studente behoort nie verbied te word om Afrikaans of enige ander taal te praat nie. Die Universiteit kan dit nie goedpraat nie, want dit sou strydig wees met ons visie, ons waardes sowel as ons taalbeleid.”

De Villiers het gesê die US “is ’n wêreldklas- navorsingsintensiewe universiteit wat die ganse samelewing bedien, nie net ’n bepaalde gedeelte van die bevolking nie. “En juis dáárom volg ons ’n meertalige benadering. Dit is nie maklik nie; trouens, dis ingewikkeld en duur. Nietemin het ons doelbewus hierdie roete gekies, want ons glo dit is die regte ding om te doen.”

Hy voer aan die US bevorder meertaligheid om billike toegang uit te brei, ’n inklusiewe kampuskultuur te skep, en studentesukses te ondersteun. “Ons glo dat deur aan meertaligheid blootgestel te word en mekaar se kultuurerfenis te leer respekteer, word ons studente betrokke burgers in ’n diverse samelewing. Ter wille van praktiese uitvoerbaarheid, gebruik ons die drie amptelike tale van die provinsie waar ons geleë is, die Wes-Kaap, naamlik Afrikaans, Engels en Xhosa.”

Volgens De Villiers bepaal die universiteit se taalbeleid dat taal in koshuise en ander leefomgewings op so ʼn wyse gebruik word dat, waar dit redelikerwys uitvoerbaar is, geen belanghebbende uitgesluit word van deelname aan enige formele aktiwiteite in hierdie omgewings nie.

“Nuwe studente is gewoonlik ietwat oorweldig deur die splinternuwe omgewing, en verstaan dalk nie altyd die inligting en reëlings wat bedoel is om hulle gedurende tuis te laat voel nie. Daarom gebruik studenteleiers in koshuise gedurende verwelkoming aan die begin van die jaar meestal Engels in formele omgewings om te sorg dat almal toegang tot belangrike inligting het. ’n Poging om die uitdagings van ’n gemeenskaplike leefomgewing in geleenthede vir groei en ’n viering van diversiteit te omskep, is lofwaardig. Nietemin behoort dít nie vertolk te word asof enige taal buiten Engels onwelkom is of nie gebruik behoort te word nie. Ons taalbeleid bevorder meertaligheid.

“In ’n komplekse omgewing soos ’n groot universiteit verloop alles nie altyd volgens plan nie. Indien studenteleiers wél nuwelingstudente opdrag gegee het om slegs Engels in sosiale verband te gebruik, sou dit verkeerd wees. Dít is nie ons beleid nie; dis nie veronderstel om te gebeur nie,” voeg De Villiers by. “So, toe die bewerings aan die lig kom, het ons dit vinnig begin ondersoek. En ons het opgetree. Ons het deur ons Afdeling Studentesake met studenteleiers en studente in koshuise in gesprek getree om ’n gemeenskaplike begrip van die taalbeleid en die implementering in die koshuisruimte te verseker. En so ver ons bewus is, is die kwessies bevredigend opgelos.

“Die proses het ooreenkomstig ons taalbeleid geskied, wat duidelike riglyne bied. Ons taalbeleid draai nie om straf nie, maar om die oplossing van kwessies tot bevrediging van alle direkte betrokkenes. En na ons beste wete is dít wat wel in die gevalle ter sprake gebeur het. Nogtans het ons, as die bestuur, gevoel dat ’n onafhanklike ondersoek nodig is, en dus het ons die universiteit se ouditeure, ’n eksterne firma, opdrag gegee om ’n ondersoek van stapel te stuur.”

Die Universiteit het onderneem om die bevindinge van die ondersoek met die MRK te deel wanneer dit afgehandel is, wat binnekort behoort te wees.

Prof De Villiers het afgesluit deur te sê dat die US ’n bate is vir die land en ál sy mense. “Ons is trots op ons bydrae tot menslike ontwikkeling, en beskou ons meertaligheidsbeleid, wat na inklusiwiteit en akademiese uitnemendheid streef, as ’n hoeksteen van ons unieke waarde-aanbod as ’n toonaangewende hoëronderwysinstelling, wat ons onderskei van ander instellings.”

Beslissing uitgestel

Kommissaris Chris Nissen, voorsitter van die MRK, het in sy afsluiting het gesê die gesprek met die bestuur van die universiteit was nuttig was. “Ons sal wag op die bykomende inligting wat ons tydens hierdie vergadering aangevra het. En ons respekteer ook die feit dat die onafhanklike ondersoek wat die universiteit geloods het, nog nie voltooi is nie; ons sal ook op daardie verslag wag. Daar sal verdere gesprekke van ons kant met ander belanghebbendes wees. En dan sal ons ons as ’n kommissie tot ’n slotsom kom.”

“De Villiers ontwyk vrae oor sy plan vir ’totale verengelsing’ van die US”

“Alhoewel [prof Wim] de Villiers tien prokureurs en amptenare saamgebring het na die verhoor, het hy steeds volstrek geweier om antwoorde te verskaf oor die sistemiese diskriminasie teen Afrikaanse studente wat deur die huidige taalbeleid veroorsaak word,” het dr Leon Schreiber, die DA se kiesafdelingshoof in Stellenbosch, gesê.

“De Villiers het tydens sy getuienis bevestig dat hy die 2016-taalbeleid – waaronder die vergrype plaasgevind het en waaronder Afrikaans as ‘n gelyke onderrigtaal aan die US afgeskaf is – as ‘besonders suksesvol’ beskou. Hy het voorts ook geweier om aan die MRK antwoorde te verskaf op aantygings dat hy reeds in 2015 aan ‘n US-raadslid sou gesê het dat die universiteit maar net ten volle moet verengels omdat dit die ‘maklikste opsie’ sou wees.”

Schreiber sê De Villiers se stilte op hierdie vraag spreek boekdele, en dien as indirekte bevestiging dat hy op ‘n ideologiese krygstog is om Afrikaanse onderrig geheel en al af te skaf.

“Die US-bestuur se voortgesette minagting van Afrikaanse studente se grondwetlike reg tot moedertaalonderrig dreig om die universiteit, sowel as die breër Afrikaanssprekende samelewing in veral die Noord- en Wes-Kaap, in ‘n eksistensiële krisis te dompel. De Villiers het sonder om te blik of te bloos erken dat die meerderheid studente aan die universiteit Afrikaanssprekend is – en tog blyk die universiteit vasbeslote te wees om uitvoering te gee aan De Villiers se visie van totale verengelsing.”

Die DA gaan die MRK-ondersoek deurlopend moniteer. “Ons sien ook uit om self voor die Kommissie te getuig. Ons moedig alle Afrikaanse studente wat bang is vir viktimisering om hul plaaslike DA-verteenwoordiger te kontak, want ons sal seker maak dat hulle die geleentheid kry om anoniem voor die MRK te getuig.”

  • Lees prof De Villiers se verklaring hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Sarel ·

Was daar opgetree teen Studentelriers of beweer hy die Studente wst gekla het lieg

Irma ·

Ja Sarel, dit wil mos vir my ook voorkom asof Wim de Villiers die Afrikaanse studente tot leuenaars wil maak.

Sarel ·

Kan nou al verseker MRK gasn ten gunste vsn die Universiteit bedluit

Pieter ·

Presies. Se een ding en doen ‘n ander… Is dit nie maar die standaard van die nuwe SA nie.

Tewis ·

Hy het so lang gesprek gelewer maar nooit net gesê dat AFRIKAANS wel goed gekeer is, en dat hy teen enige een wat dit oortree sal optree nie.

Johnny ·

Afrikaans word inderdaad baie goed gekeer . . . en Wim keur dit goed.

Jakes ·

As die rektor dan beweer dat die universiteit meertaligheid bevorder dan moet hy openlik aankondig dat enige taal hoegenaamd op kampus en in koshuise gepraat mag word. En dat diegene wat betrokke is by die verbod op afrikaans in koshuise deur, deur n tug proses moet gaan.

Wakkerslaper ·

Mmmmm….. dit was presies dieselfde verskoning by Tukkies en KOVSIES. Gaan kyk gerus hoe lyk daardie universiteite vandag vergeleke met die wêreldklas universiteite wat dit eens was….

pompies ·

Ja Wim lieg maar voort jy sal ook nog uitgevang word. Julle is nou bang die universiteit gaan baie geld van studente verloor wat ander plek in Afrikaans gaan studeer ne.

Pietertjie ·

Sulke bog komende van sogenaamde geleerdes/verligtes. Dan bly ek maar eerder “ongeletterd”.

Gert ·

Hy moet nou sy bas red anders kan hy nie verder onderdruk nie

Francois Le Cochon ·

Lyk my studente mag afrikaans praat, solank hulle dit net nie doen nie.

JohanR ·

Al wat ek kan se vir die Voortrekker kinders by US……praat jou Afrikaans, sing jou Afrikaans, skryf jou Afrikaans, dink jou Afrikaans. Ek het altyd hier in die Kaap die Argus gekoop totdat hy ‘n ANC koerant geword het. Maar ek het ook op ‘n tydstip besef ek is ‘n Afrikaner wat mense in die Britte konsentrasie kampe verloor het, en moet Afrikaner wees in alles. Nou lees ek die Burger hier in die Kaap, en as ek in Gauteng gaan kuier die Beeld.

akkedismis ·

Dit wil voorkom dat die De Villiers mannetjie nie vertrou kan word nie. Raak ontslae van hom voordat dit te LAAT vir Afrikaans is!

Dapper Patriot ·

Hy sê niks oor die feit dat Universiteit van Stellenbosch nie Afrikaans as ‘n inheemse taal erken nie.

Ek sien prof. Wim word die jaar 62 jaar oud, baie geluk met die mylpaal.

Ek wil nou nie ongeskik klink nie, maar hy het ‘n paar goeie jare agter die rug en dalk sal dit beter wees om nou die leisels aan die jonger geslag te gee.

Ek is seker ‘n lekker stil plasie in Stellenbosch of Engeland sal lekker en ontspannend wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.