Meer mans as vroue sterf vóór Covid-19

(Foto: Moira Dillon/Unsplash)

Meer mans is in 2018 dood as vroue. Die verskil in die persentasie sterftes onder mans en vroue neem boonop sedert 2006 toe en meer as 52% van Suid-Afrikaners wat in 2018 dood is, was mans.

Dié data word in Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) se jongste verslag oor sterfteoorsake in Suid-Afrika vervat. Die verslag is Dinsdag uitgereik.

Tuberkulose (TB) was die grootste oorsaak van sterftes in 2018, gevolg deur diabetes, serebrovaskulêre siektes (siektes wat verband hou met die bloedvate van die brein) en hartsiektes. Die toptien onderliggende natuurlike oorsake van natuurlike sterftes verteenwoordig boonop byna 44% van alle sterftes wat in 2018 opgeteken is.

Nietemin, sterftes in Suid-Afrika het sedert 2007 stelselmatig begin afneem. Die verslag wys ook dat die minste sterftes onder kinders tussen die ouderdom van 5 en 14 jaar voorkom.

Dié syfers sluit uiteraard nie sterftes weens Covid-19 in nie – die pandemie het verlede jaar in Suid-Afrika uitgebreek – en virussyfers sal eers ná die 2020-siklus ingesluit word.

Of die koronaviruspandemie TB as die hoofoorsaak van sterftes in die land gaan verbysteek, sal dus nog gesien moet word.

TB was in die driejaartydperk (2016 tot 2018) die hoofoorsaak van sterftes, hoewel die aantal sterftes weens TB in dieselfde tyd (van 6,5% in 2016 tot 6,0% in 2018) afgeneem het.

Diabetes was in die driejaartydperk steeds die tweede grootste onderliggende oorsaak van sterftes, maar anders as met TB-gevalle, het sterftes weens diabetes in dié tyd deurlopend toegeneem.

StatsSA sê meer as 80% van alles sterftes is weens natuurlike oorsake, hoewel dié neiging afneem in vergelyking met vorige jare.

Meer mans as vroue sterf

Luidens die verslag, “Mortality and causes of death in South Africa: Findings from death notification for 2018”, was die hoogste getal sterftes in 2018 onder diegene tussen 65 en 69 jaar oud.

Volgens die opname het sterftesyfers in Suid-Afrika sedert 2007 gedaal en altesame 454 014 sterftes is in 2018 opgeteken. En hoewel die sterftesyfer daal, verskil die syfers heelwat tussen ouderdomsgroepe en geslag.

Die kleinste getal sterftes is opgeteken onder kinders tussen 5 en 9 (0,6%) en onder kinders tussen 10 en 14 (0,8%) jaar oud. Natuurlike oorsake veroorsaak ook die meeste sterftes onder kinders van alle ouderdomsgroepe.

Diegene tussen 65 en 69 jaar oud het die hoogste sterftesyfer gehad (8,4%), gevolg deur diegene in die ouderdomsgroep 60-64 (8,3%).

Die opname wys dat die aantal sterftes onder mans voor 2006 deurlopend afgeneem het, terwyl dié van vroue gestyg het. In 2006 het dié neiging omgekeer.

Die aantal sterftes onder mans het van 55,9% in 1997 tot 50,4% in 2005 afgeneem. Die teenoorgestelde het vir vroue gegeld en hulle bydrae tot algehele sterftes het van 44,1% in 1997 toegeneem tot 49,6% in 2005.

Van 2006 tot 2018 het die verhouding sterftes onder vroue jaarliks afgeneem: Van 49,3% in 2006 tot 47,3% in 2018. In dieselfde tyd het die persentasie sterftes onder mans van 50,7% in 2006 tot 52,7% in 2018 toegeneem.

Die gemiddelde ouderdom waarop ʼn sterfte in Suid-Afrika voorkom, word sedert 2005 al hoe hoër, wat ʼn weerspieëling is van die verbetering in sterftesyfers, sê StatsSA.

Vir mans is die gemiddelde ouderdom waarop ʼn sterfte voorkom 54,2%, die gemiddelde sterfte-ouderdom vir ʼn vrou is 65,3, terwyl die gemiddelde onder die algehele bevolkingsgroep 58,6 jaar oud is. Die gemiddelde ouderdom vir sterftes het beduidend gedaal van 51,3 in 1997 en het in 2004 op sy laagte vlak – 41,2 jaar oud – gestaan.

Die styging in sterfte-ouderdom was veel vinniger vir vroue as mans.

Die gemiddelde ouderdom vir die dood van ʼn vrou het in 2004 op 36,7 gestaan (dit was ʼn daling van 19,8 jaar sedert die gemiddelde sterfte-ouderdom van 56,5 in 1997), terwyl mans in 2004 gemiddeld 3,9 jaar korter geleef het as in 1997.

Die meeste sterftes word in Gauteng aangemeld (20%), gevolg deur KwaZulu-Natal (18,7%) en die Oos-Kaap (14%). Die laagste persentasie sterftes was in die Noord-Kaap (3,1%).

Natuurlik vs. onnatuurlike sterftes

StatsSA het bevind hoewel die getal sterftes weens natuurlike oorsake hoër bly as die getal sterftes weens onnatuurlike oorsake, was daar die afgelope paar jaar ʼn effense toename in onnatuurlike sterftes. Tussen 2010 en 2018 het dit toegeneem van 9% tot 11,9% in 2018.

Die ouderdomsgroepe wat die meeste deur dié neiging geraak word, is diegene tussen 20 en 24 jaar oud – onnatuurlike sterftes in dié ouderdomsgroep het met 49,2% toegeneem en byna die helfte van alle sterftes in dié ouderdomsgroep is weens onnatuurlike oorsake.

Daar was ook ʼn toename in onnatuurlike sterftes onder diegene tussen 15 en 19 jaar oud. In dié groep het onnatuurlike sterftes met 42,5% toegeneem.

StatsSA sê weens hoë geweldsvlakke in Suid-Afrika, is inligting oor onnatuurlike sterftes uiters belangrik om beleid te bepaal en beplanning te doen.

Oorsaak van sterfte Getal % van onnatuurlike oorsake % van alle oorsake
Toevallige besering 37 000 68,3 8,1
Aanranding 7 594 14 1,7
Vervoerongelukke 6 165 11,4 1,4
Onbepaald 1 956 3,6 0,4
Doelbewuste skade aan self 316 0,6 0,1
Gevolge van eksterne oorsake 102 0,2 0,0
Alle onnatuurlike oorsake 54 166 100

Aanranding (14%) is die tweede grootste oorsaak van onnatuurlike sterftes in Suid-Afrika.Die meeste onnatuurlike sterftes word toegeskryf aan ʼn toevallige besering (68,3%). Dit sluit in verdrinkings (1 444 gevalle), blootstelling aan rook, brande of vlamme (2 662), toevallige vergiftiging (805), mense wat hul dood val (197), of aanraking met giftige plante of diere (47 sterftes).

Die opname het bevind dat tot soveel as 15,9% van mans weens aanranding sterf, terwyl dié syfer vir vroue byna die helfte minder is op 7,7% (van onnatuurlike sterftes).

Padongelukke is verantwoordelik vir 11,4% van alle onnatuurlike sterftes, met die meeste van dié sterftes wat volgens StatsSA in KwaZulu-Natal voorgekom het.

Mans is ook meer geneig om weens onnatuurlike oorsake as vroue te sterf. Vir mans en vroue is komplikasies weens mediese of chirurgiese sorg hoër hoe ouer hulle is – met die uitsondering van kinders onder die ouderdom van een. Vroue is egter meer geneig as mans om weens mediese komplikasies te sterf.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pot se lepel ·

Lyk dan nou vir my of Hoed en sy mense die vuurwapen storie moet los en eerder swemlesse begin gee en padveiligheid (dronkbestuur en dronk op straat) beter aanspreek. Gaan baie meer lewens so red as om oor vuurwapens te torring.

Anel ·

En dan sluit hulle ‘n hele land se ekonomie as gevolg van ‘n virus!!!! Daar gaan soveel meer mense dood soos genoem in ‘n jaar as suiwer aan die virus in 18 maande. So waar is die logika? Net een van die siektes, TB, maak meer mense dood as enigiets anders en dan is dit nog hoogs aansteeklik ook!!

Francois Le Cochon ·

Die logika le^ daarin om to voorkom dat hospitale oorvol raak. Die regulasies is om die aantal gevalle te bestuur om te vehoed dat bv. 50,000 gevalle op een dag by hospitale opdaag. Liz Meiring het gister ge-post van ‘n hospitaal wat ‘n stoorkamer in ‘n ICU omgeskakel het waar ‘n familielid opgeneem is.

Tanniepetoors ·

Die verduideliking van die 37 000 toevallige sterftes is vir my onbevredigend. Verdrinking, vergiftiging en die ander genoem is aanvaarbaar as geklassifiseer “toevallig”. Dit laat nog so 30 000 wat mens nie weet wat die oorsaak van dood was nie. Ek weet mense gaan partykeer op eienaardige maniere dood, maar wat was hier die oorsake? 30000 toevallige, onverklaarde sterftes is onaanvaarbaar hoog.

Gato ·

Ja lyk vir my of die StatsSA manne ook by Zuma se skool wiskunde geneem het of dalk is daar n klomp plaasmoorde en ander moorde wat as toevallig geklassifiseer word.

Pietertjie ·

Kyk maar hoe die volgende stel statistiek se toevallige sterftes aan Covid toegedig gaan word, om laasgenoemde se syfers meer geloofwaardig te maak. Ek weet: het laank by daai plek gewerk!

Pietertjie ·

Dis duidelik dat Covid-19 verwante steftes nog sukkel om naby die TB-sterftes van twee jaar gelede te kom. Kom ons kyk of die infeksie-koers in die volgende week gaan afneem: dit sal bepaal hóé effektief die inperkings-regulasies is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.