Meer psigiatriese pasiënte sterf: LUR bedank

Qedani Mahlangu, LUR van gesondheid in Gauteng, het bedank.

Qedani Mahlangu, LUR van gesondheid in Gauteng, het bedank.

Qedani Mahlangu, die LUR vir gesondheid in Gauteng, het bedank na aanleiding van ʼn verslag oor 94 psigiatriese pasiënte, wat in die sorg van nie-regeringsorganisasies (NRO’s) gesterf het, nadat hulle uit die Life Esidimeni-sentrum in Gauteng soontoe geskuif is.

David Makhura, premier van Gauteng, het Mahlangu se bedanking Woensdag in ʼn verklaring bekend gemaak. “Soos alle lede van die provinsiale uitvoerende raad, verstaan [Mahlangu] ten volle dat as iets ingrypend verkeerd gaan in die veld waarvoor jy verantwoordelik as uitvoerende owerheid, moet jy direk die verantwoordelikheid daarvoor aanvaar en nie die skuld op junior beamptes pak nie,” het Makhura gesê.

Prof. Malegapuru Makgoba, die gesondheidsombudsman, het Woensdag bekend gemaak minstens 94 psigiatriese pasiënte het tussen 23 Maart 2016 en 19 Desember 2016 in die sorg van NRO’s gesterf nadat hulle uit die Life Esidimeni-sentrum geskuif is en nie net 36 pasiënte, soos voorheen berig nie.

“Ek wil beklemtoon dit is net ʼn voorlopige getal en die werklike getal kan meer wees,” het Makgoba gesê tydens die bekendstelling van die langverwagte verslag oor die ondersoek na die psigiatriese pasiënte se dood. “Al 27 NRO’s, waarheen die pasiënte oorgeplaas is, is met ongeldige lisensies bedryf en daarom is al hierdie pasiënte in onwettige omstandighede dood.”

Mahlangu se departement het sy kontrak met Life Esidimeni na bewering oor ʼn tekort aan beskikbare fondse beëindig en die meer as 1 000 pasiënte by die sentrum is na NRO’s oorgeplaas. Altesaam 36 van hierdie pasiënte is binne drie maande na die oorplasing dood.

Mahlangu het in September verlede jaar, in antwoord op vrae van die Gautengse wetgewer, gesê 36 pasiënte is ná die oorplasings dood.

Makhura het gesê dr. Gwen Ramakgopa, die voormalige adjunk-minister van gesondheid en voormalige LUR vir gesondheid, sal in Mahlangu se plek aangestel word. Intussen sal Nandi Mayathula-Khoza, die LUR vir maatskaplike ontwikkeling, vir ʼn paar dae tydelik in Mahlangu se plek waarneem, totdat Ramakgopa as ʼn lid van die Gautengse wetgewer ingesweer kan word.

Dissiplinêre optrede

Makhura het Woensdag erken die verslag maak dit duidelik amptenare van die departement van gesondheid het nalatig en onbehoorlik opgetree tydens die oorplasing van die psigiatriese pasiënte, wat uiteindelik tot sommige pasiënte se dood gelei het. “Ek beskou die onbehoorlike en nalatige optrede van ons amptenare in ʼn baie ernstige lig, wat ernstige gevolge en verantwoordbaarheid tot gevolg moet hê,” het hy gesê.

Hy het gesê hy het die direkteur-generaal in die premierskantoor opdrag gegee om dadelik gepaste stappe te doen teen die amptenare wat in die ombudsman se verslag geïdentifiseer word.

Volgens Makhura sal dit onder meer die hoof van die departement en ander senior beamptes insluit. “Verdere aankondigings sal oor die volgende paar dae gemaak word oor die stappe wat teen hierdie amptenare, wat na bewering onvanpas of nalatig opgetree het, gedoen sal word,” het hy gesê.

Pasiënte weer geskuif

Makhura het verder gesê al die pasiënte wat tans in die sorg van NRO’s is, sal teruggeplaas word na staatsversorgingsfasiliteite en staatsinstansies wat hul spesiale behoeftes kan vervul. Hy het gesê die oorplasings sal binne die volgende sewe dae begin en sal binne 45 dae heeltemal afgehandel wees.

Families van die oorledenes blameer die departement omdat hulle die aanvanklike oorplasing van die pasiënte swak hanteer het en tot die dood van hul geliefdes gelei het. Sommiges sê hulle is nie in kennis gestel oor waar hul familielede is nie en is deur die departement van bakboord na stuurboord gestuur nadat hulle na die pasiënte begin soek het.

Hulle beskuldig ook die departement daarvan dat hulle nie onmiddellik oor die sterftes en die oorsaak van hul geliefdes se dood ingelig is nie.

Makhura gesê daar sal ook met die oorledenes se families geskakel word om hulle te help om berusting te kry na die tragiese dood van hul geliefdes.

“Ek wil beklemtoon dat ek dit ten diepste betreur en om verskoning vra vir die dood van ons medelandsburgers, wat pasiënte in die sorg van die provinsiale departement van gesondheid was. Gesondheid gaan daaroor om lewens te red en die omstandighede waaronder hierdie pasiënte dood is, is onaanvaarbaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Johanna Botha ·

Gedink sy sou ook vasskop en probeer aanbly en van een hof na die ander gaan. Sy moet egter vervolg word vir dit wat gebeur het asb…. haar dom besluit het die mense hulle lewens gekos. Mense dink mos as jy altyd dwarstrek, baie praat en n bril dra dan is jy kundig …toe nie , en hier minister van die anc is net NOG n bewys van ” slim vang sy baas ” !

Dries ·

Hoop sy word aangekla van moord vir elke persoon wat dood is as gevolg van haar onbevoegdheid. Haar pensioengelde moet ook gevries word .

Petro ·

Ja Dries, ek stem dat sy aangekla word vir moord op elke person wat dood is. en ek hoop nie dat sy nou weer net ge-suspend word nie want dan gaan ons nog vir jare lank haar volle salaris vir haar moet betaal totdat die hofsaak oor is, en sy lekker by die huis gaan sit. Die bedanking het net te vining gekom!!

Aai ·

280 Miljoen vir huisverbetering aan EEN huis, maar dan probeer die regering geld spaar as dit kom by mense wat versorging en beskerming nodig het?

Skande ·

Die probleem is, sy bedank en daarmee is sy ook dan ontslae van haar verantwoordelikheid tov die oorledenes . Dit is so maklik in SA om te bedank as jy aangejaag het of gesteel het, dit is waar die storie eindig ..BAIE min mense word agterna in hulle persoonlike hoedanigheid aangekla vir oortredings begaan in ‘n regeringsamp .. 94 pasiente sterf en dis nie WERELDNUUS nie? “ongeldige lisensies bedryf” Hoekom is daar nie eers gekyk of hierdie instansies lisensies gehad het voordat hulle geskuif is nie? My vermoede? Dit is kaders, vriende en familie se “instansies” wat nie die vermoe gehad het om na psigiatriese pasiente om te sien nie . SKANDE!!

Ouman ·

Tipies word sy toegelaat om te bedank en word sy nie summier afgedank en vervolg nie. Volgende sal sy sekerlik weer ‘n “fatcat” pos aangebied word. Hierdie spul het my nou finaal oortuig dat ons nou ‘n volwaardige derde wereld Afrika land is waar versuim en swak prestasie beloon word. Agteruitgang teen ‘n versnelde pas staar ons nou in die gesig.

Anoniem ·

Kan sy nie aanspreelik gehou word al het sy bedank nie? Mens kan mos nie so maklik jou hande was van die dood van soveel mense nie?

Rademan ·

Ek noem dit ‘n massa-moord. Wat se straf gaan sy daarvoor kry?

Maria Van Dieweeck ·

Stem Rademan. Een van die grootste massa moorde in SA! Gepleeg deur die “LUR van Gesondheid’!

Johannes van Staden ·

Is dit al wêreld nuus of nie ? 94 mense dood in SA agv onbekwame en onwettige besluite deur LUR van gesondheid …genade anc stel ASB mense aan wat tog iets weet …dis net skamdes op skandes

Alida ·

Die hele dept van gesondheid moet ondersoek word. Mense gaan dood in die hospitale van vullis en kieme. Die personeel is onbevoeg en moet gaan. Stuur die berig die wereld in en kyk wat doen die sogenaamde MRK.

Hendrik ·

sy moes met boeie uit haar kantoor geneem gewees het met n lasbrief en 36 moord klagtes, en nie met n bedanking nie. His wat my depressie deur die mak laat skiet. dit sou met my gebeur het want ek is nie n parlementslid nie. sy sal miskien na baie jare se speletjie en vermorsing van belastinggeld krimineel vervolg word.

Ouman ·

Die vrou hoort in die tronk. Hoe is dit moontlik dat een amptenaar soveel mag kan he. Sy was duidelik onbevoeg vir haar pos en is defnitief ‘n “kader” wat ontplooi is deur die ANC. Sy het letterlik en figuurlik net by die Zuma krip gestaan en vreet. Die families moet aandring op ‘n kriminele ondersoek en vervolging want die ANC sal met hulle volle mag probeer om die misdade wat gepleeg is onder die mat in te vee. As die ANC daaron sou slaag om ‘kriminele ondersoek te verhoed kan Adv Gerrie Nel en Afriforum sommer hierdie die eerste privaat vervolging maak. Die families moet nou saamstaan ongeag velkleur en die amptenare in hulle persoonlike kapasiteit siviel ook dagvaar. Die LUR en haar trawante sal goed lyk in ‘n oranje pakkies.

Om mense so te behandel is brutaal onmenslik maar tipies die Afrika manier en die ANC moet verantwoordelikheid vat vir die gevolge van kader ontplooing.

Engelbek ·

Prof Tim Noakes moes baie vinnig voor die “Health Professions Council of SA” na aanleidng van ‘n “banting-tweet” verskyn. Maar kyk wat gebeur hier na die dood van ten minste 94 mense!

Meraai ·

Hierdie arme weerlose mense is erger as diere behandel. Dis n skreiende skande en wys net dat die regering GEEN respek vir die inwoners van die land het nie. Eks gewalg oor hierdie optrede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.