Meer reën dié winter in Kaap verwag

Reënwolke oor Mosselbaai (Foto: Argief)

ʼn Klimaatvooruitskatting deur die departement van landbou, bosbou en visserye dui op hoër as normale winterreënvalsyfer vir winterreënvalstreke in die suidelike en suidwestelike dele van die land. Volgens voorspellings deur die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAW) sal droogtetoestande in die res die land egter na verwagting voortduur, met ʼn laer as normale reënvalsyfer.

Volgens die departement het ʼn groot gedeelte van die somerreënvalstreek goeie reënval die afgelope seisoen gehad met goeie opbrengste in gewasse. Die toestand van die veld en vee lyk ook goed en daarby het die gemiddelde damvlakke in die meeste provinsies ook gestyg.

Die weerdiens voorspel dat minimum en maksimum temperature hoër as die gemiddelde wintertemperature in meeste dele van die land gaan wees. Minimum temperature in die noordoostelike dele van die land gaan egter laer as die gemiddelde minimum temperature wees.

Die departement van landbou, bosbou en visserye raai wintergewasboere in gebiede wat geruime tyd nog nie reën gekry het nie aan om vir goeie reënval te wag voordat hulle binne die normale plantvensterperiode kan plant. Hoewel ʼn hoër as normale reënvalseisoen vir die winterreënvalstreek voorspel word, is die grondvog en damvlakke steeds kritiek laag in dié gebiede. Nie al die gebiede gaan die verwagte bogemiddelde reënval ontvang nie.

(Argieffoto: Mike Krüger)

ʼn Verslag wat in Mei deur die Famine Early Warning Systems Network (FEWS Net) uitgereik is, dui daarop dat die afsonderingstydperk weens die Covid-19-pandemie ʼn negatiewe impak op die land se ekonomie gehad het. Inkomsteverdienende aktiwiteite soos kleinhandel en informele indiensneming het veral onder die sluiting van die ekonomie tydens die afsonderingstydperk gely. Baie huishoudings in die stede is blootgestel aan verhoogde vlakke van voedselonsekerheid, aangesien hulle nie kos kan bekostig nie weens die ontwrigting van hul inkomstebronne. Pryse vir stapelvoedsel toon gemengde neigings regoor die land.

FEWS Net se verslag sê graanpryse het seisoenaal begin daal namate oeste in sommige gebiede markte bereik het. Van die middel tot die einde van die jaar, tydens die na-oesperiode, gaan voedsel vir huishoudings in die grootste deel van die land waarskynlik seisoenaal stabiel bly. In streke met swak oeste gaan huishoudelike voedsel minder beskikbaar en ook beperk wees.

Die departement raai boere ook aan om konserwatief te wees tydens die plantseisoen. Daarbenewens moet hulle, waar moontlik, droogteverdraagsame kultivars oorweeg. Besproeiingsboere moet die plantarea verminder in ooreenstemming met waterbeperkings in hul gebiede.

Volgens die departement moet boere ook vee in balans hou in verhouding met die drakrag van die veld. Ekstra voer, soos lekke, moet ook verskaf word. Boere moet ook genoeg waterpunte vir vee voorsien, asook skuiling vir slegte weerstoestande. Die risiko vir veldbrande word ook in alle gebiede voorsien. Die instandhouding van brandgordels moet dus geprioritiseer word, sowel as die waarskuwing van veldbrand in alle gebiede.

Die weerdiens voorspel ook koue fronte en gelokaliseerde oorstromings en die departement sê boere moet maatreëls tref om die verwoesting van eiendom en infrastruktuur te voorkom.

Die departement en weerdiens raai boere aan om gereeld die weer- en klimaatvoorspelling dop te hou om ingeligte besluite te kan neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

capie ·

Ek is bly die weerburo voorspel meer reën vir die Kaap. Ek sien Kobus Botha wys vir ‘n slag bogemiddeld vir die Kaap. Ek bly egter bekommerd omdat metcheck.com se lagtermyn voorspelling steeds baie min is. Hulle gemiddelde is gewoonlik baie naby aan wat met sateliete gemeet word. Al hoe mens inligting oor reën hier kan kry is met webblaaie wat sateliet berekenings die reënval meet omdat die weerburo wat met belastingbetalers se geld gefinanseer word dit nie aan die publiek wil bekend maak nie. Mag ek maar ook korrupsie vermoed.

Alexander ·

Kom ons hoop Oos Kaap en Noord Kaap kry ook reën. Veral die damvlakke in Port- Elizabeth area is kommerwekkend laag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.