Meer skuil glo agter onteiening van Akkerland-plase

Johan Steenkamp, mede-eienaar van Akkerland Boerdery. Foto: Reint Dykema

Dit het Maandag aan die lig gekom dat daar na bewering baie meer skuil agter die regering se planne om die plase wat deur Akkerland Boerdery besit word te onteien – en dié planne het glo niks met grondhervorming te doen nie.

Daar word beweer dat die regering eerder as om die eiendom vir grondhervorming te gebruik hul hande op die steenkoolreserwes onder die grondoppervlak van die plase wil lê om sodoende die Chinese regering se ekonomiese belange in Suid-Afrika te fasiliteer.

ʼn Gesamentlike mediakonferensie tussen een van die eienaars van Akkerland Boerdery, AfriForum, TLU SA, Solidariteit en Agri Limpopo is Maandag in Centurion gehou om meer lig te werp op die regsgeding wat tans aan die gang is oor die staat se beoogde onteiening van Akkerland Boerdery.

Akkerland Boerdery is ʼn wild- en jagplaas wat noord van Louis Trichardt in Limpopo geleë is. Die eiendom bestaan uit twee plase, naamlik Lukin en Salaita. Hierdie twee plaasname verskyn ook op die lys van plase wat verlede maand deur AfriForum bekendgemaak is en wat glo geoormerk is om sonder vergoeding deur die staat onteien te word.

Marius Croucamp, adjunkhoofsekretaris verantwoordelik vir die metaal- en ingenieursbedryf, het Maandag gesê die organisasie het begin om die stukke van die legkaart inmekaar te pas nadat die Akkerland-saak onder hul aandag gekom het.

Croucamp het verwys na ʼn vroeëre aankondiging deur Rob Davies, minister van handel en nywerheid, dat China oorweeg om ʼn metallurgiese projek in ʼn spesiale ekonomiese sone (SES) in Suid-Afrika te vestig.

Marius Croucamp, Solidariteit se adjunkhoofsekretaris verantwoordelik vir die metaal- en ingenieursbedryf. Foto: Reint Dykema

Volgens Croucamp het Richard Zitha, wat betrokke is by die Musina-Makhado-SES waar die projek geleë sal wees, aangekondig dat die projek deur Chinese staatsbeheerde maatskappye op die been gebring sal word.

“Zitha het gesê die Chinese soek na swart ekonomiese bemagtiging- (SEB) vennote om aan Suid-Afrikaanse regulasies te voldoen. Zitha het gesê beleggers was vir langer as ʼn week in Suid-Afrika en het myne besoek om insette oor die projek te kry. Die Musina-Makhado-SES is in die Limpopo-provinsie geleë naby die grens met Mosambiek, Zimbabwe en Botswana.”

Croucamp het verwys na ʼn berig in Engineering News in Julie vanjaar waarin aangedui is dat die SES ʼn steenkoolaangedrewe kragstasie, ʼn steenkoolaanleg en verskeie metallurgiese aanlegte sal insluit. “Solidariteit kon geen aanduiding vind dat dié projek in die regering se bedryfsbeleid-aksieplan 2021 of die Nasionale Ontwikkelingsplan vervat word nie. Daar is ook geensins daarna verwys in ʼn voorlegging wat in Junie deur die departement van handel en nywerheid aan die parlementêre portefeuljekomitee gemaak is oor die stand van die Suid-Afrikaanse metaalindustrie nie.”

Croucamp het gesê ʼn gedetailleerde omvangbepalingsverslag het getoon dat Lukin en Salaita baie naby aan dié SES-ontwikkeling geleë is. “Verdere ondersoek het ook getoon dat Coal of Africa eksplorasie op die plaas gedoen het waardeur daar bevind is die plaas se steenkool is geskik vir gebruik by kragstasies en staalfabrieke. Dit blyk dat die onteiening van hierdie plase verband hou met die steenkool wat benodig word om die Chinees geboude kragstasies en staalfabrieke te bedryf.”

Linda Page, woordvoerder van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming (DRDLR), het vroeër aan Maroela Media gesê die onteieningsproses van Akkerland Boerdery het begin nadat die Musekwa-volk ʼn grondeis op die plase ingedien het. Volgens Page het die departement in 2013 met die eienaars van Akkerland begin onderhandel om die grond te koop. Sy sê die departement het destyds ʼn onafhanklike waardeerder gekry wat bepaal het dat die eiendom sowat R20 miljoen werd is en dít is die aanbod wat aan die eienaars gemaak is.

Die paneel wat verslaggewers toegespreek het tydens die mediakonferensie Maandag (3 September 2018) in Centurion. Foto: Reint Dykema

Die aanbod is egter van die hand gewys en die departement en eienaars van Akkerland Boerdery is tans in ʼn regstryd gewikkel oor die onteiening van die plase.

Johan Steenkamp, mede-eienaar van Akkerland Boerdery wat ook Maandag tydens die mediakonferensie teenwoordig was, sê egter die eiendom is sowat R200 miljoen werd en die staat probeer dus die eiendom teen 10% van die markwaarde onteien.

Steenkamp sê die Akkerland-eienaars het op 29 Maart vanjaar ʼn uitsettingsbrief van Maite Nkoana-Mashabane, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, ontvang wat die eienaars sewe dae gegee het om die plase te ontruim.

“Die minister sou geweet het dat 30 Maart tot 2 April ’n langnaweek was en ek glo sy wou dit vir ons moeilik maak om betyds regstappe te doen. Dit strook met die minister se openbare uitspraak dat sy nie wil hê boere wat vir onteiening geteiken word, moet dit vooraf weet nie, om te verhoed dat hulle vooraf op regsaksie kan voorberei,” het Steenkamp gesê.

Hy sê hulle kon egter betyds regstappe doen om die uitsettingsbrief tydelik op te hef. “Akkerland maak homself gereed vir ’n uitgerekte hofstryd teen die ongegronde grondeis en die regering se onteieningpogings. Ons veg vir eiendomsreg, want die feit dat die regering slegs 10% van die markwaarde vir Akkerland Boerdery se plase wil betaal, beteken in effek dat die regering reeds besig is om 90% van ons eiendom sonder vergoeding te onteien.”

Steenkamp het gesê wat tans met hulle gebeur is uiteraard ʼn emosionele ding en dat dit nie net oor die geld gaan nie, maar die beginsel van die saak.

Leon Borcherds, president van Agri Limpopo. Foto: Reint Dykema

ʼn Beginselsaak

Leon Borcherds, president van Agri Limpopo, het hierby aangesluit deur te sê die beginsels waaroor die hof in die Akkerland-saak moet beslis, sal ’n deurslaggewende impak hê op hoe grondeienaars in die toekoms vir onteiening vergoed gaan word.

“Dit is veral die wye, ongereguleerde diskresie van die waardeerder-generaal – wat die grondwetlik toegelate aftrekkings van markwaarde moet kwantifiseer om by ‘billike en regverdige’ vergoeding uit te kom – wat in die hof getoets moet word,” sê hy.

“Agri Limpopo volstaan daarby dat daar nie in ’n demokrasie van ’n individuele grondeienaar verwag kan word om die rekening vir ’n nasionale verantwoordelikheid soos grondhervorming te betaal nie. Alhoewel markverwante vergoeding nie in die Grondwet gewaarborg word nie, word dit ook nie verbied nie, en bly dit die enigste manier om grondhervorming te versnel sonder om beleggings, landboufinansiering en welwillendheid te skaad.”

Hy het daarop gewys dat die hoëvlak- Mothlante-verslag oor grondhervorming reeds uitgewys het dat dit die korrupsie en onvermoë in die staat is – en nie die vrywillige verkoper-beginsel nie – wat grondhervorming laat misluk.

“Agri Limpopo stel voor dat die minister ’n openbare privaat vennootskap in ’n spesiale oorsigagentskap verpak om te verseker dat die grondhervormingsproses van korrupsie, selfverryking en nepotisme gesuiwer word.”

Croucamp het verder daarop gewys dat, behalwe vir die finansiële skade wat Akkerland Boerdery sal lei deur die onteiening van die eiendom teen 10% van sy markwaarde, die staalprodukte wat deur Chinese aanlegte in die Musina-SES vervaardig word direk met die produkte wat die plaaslike sukkelende bedryf vervaardig, gaan kompeteer.

Louis Meintjes, president van TLU SA. Foto: Reint Dykema

“Die staalmark in Suid-Afrika en druk op die internasionale staalmark het tot gevolg dat die marges waarop plaaslike staalmaatskappye bedryf word só marginaal is dat enige verder kompetisie in die mark plaaslike maatskappye sal dwing om te sluit. Die gevolg is dat duisende Suid-Afrikaanse werkers hul werk gaan verloor. Die plaaslike maatskappye wat moontlik geraak sal word, sluit Columbus Stainless in Middelburg en Samancor, South 32 in.

“Die gevolge hiervan kan die gemeenskappe wat om dié fabrieksdorpe gevestig is ook in duie laat stort en duisende mense sonder lewensmiddele laat. Solidariteit is ook nie bewus van enige studie wat gedoen is om die impak van die Musina-SES op die huidige Suid-Afrikaanse staalbedryf te bepaal nie,” het Croucamp gesê.

Die organisasies het gevolglik kragte saamgesnoer om Akkerland Boerdery se regsaksie finansieel te ondersteun, asook om ʼn bankrekening te open waarin donasies tot Akkerland se regskostes betaal kan word. Die bankrekening genaamd Akkerland Regsfonds sal deur TLU SA se ouditeurs geadministreer word.

Louis Meintjies, president van TLU SA, het gesê nadat die Akkerland-regsgeding afgehandel is, kan oorblywende fondse in die regsfonds gebruik word om ander grondeienaars met soortgelyke sake by te staan. Besonderhede vir die regsfonds is hier beskikbaar.

Maroela Media het die DRDLR om kommentaar genader en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

41 Kommentare

Celtis Africana ·

Wonder wat sê Agri SA nou oor sy bedmaat se listigheid?
Verbasend hoe ons minderheid so ietwat vertrop met die temperatuur wat daagliks styg.
Weereens n klinklare bewys dat die regering nie oop kaarte speel nie en n agenda agter die skerms dryf.

MCS ·

Ja, wanner het die ANC ooit die mense wat vir hul stem se belange op die hart gedra. Nog nooit! Geld is ‘n ewel. Maak so of hul die grond wil deel met die “tenagekomdes”maar is eintlik om hul self te verryk. Maar al die wat vir hul stem is so ” gullible” glo al die snert wat aan hul vertel word. As die papaja die waaier tref en mense gaan dood van honger, dan word daar weer hulp van sekeres gevra om die kastaiings uit vuur te krap.

Lindtjies ·

Dit is niks anders as gierigheid nie. Die regering is soos ‘n klomp aasvoëls, hulle wil die grond net onteien vir eie gewin. Hulle is baie slu.

Anoniem ·

Dis presies hoekom mynregte aan die staat behoort en nie meer aan die eienaar van die plaas waarop daar minerale is nie. Die grond behoort wel aan die eienaar, maar die mineraalregte aan die staat. Jy moet self aansoek doen by die staat om minerale op jou eie grond te ontgin en is nie verseker daarvan nie. Dis hoe hulle na mekaar kyk en die land in sy peetjie in maak. Verbeel jou, dis jou grond, maar iemand anders kry die mineraalregte om op jou grond te ontgin! Dis waarteen ons moet baklei, die wette moet verander.

Willem ·

Jan-Jan Joubert skryf vandag hier op Maroela in sy artikel “Bou op die verlede”, van versoening, empatie en die ingesteldheid wat rolspelers in die grondkwessie moet hê. Dit sal prysenswaardig wees as alle partye daarby kan inkoop, maar ongelukkig is die realiteit dat die regering en eisers met hul optrede die ander partye noop om sterk op te tree, en in baie gevalle op regsaksies moet staatmaak, dan besef mens waarteen grondeienaars en die boere hulle vasloop.

MTSteyn ·

Ek begryp nie hoe ‘n ‘gesoute’ ‘joernalis’ – soos JJJ – ook self woorde soos grondkwessie kan gebruik nie, en nie deur die newels die waatheid kan sien nie!

Daar is geen grondkwessie nie! Daar is wel sterk kommunistiese masjinerie (in die regering en massa media werksaam) wat met allerhande woordspeletjies en politieke oe-verblindery die Blanke minderheid finaal die doodskoot wil toedien.

Hoe naief kan ons tog wees?

Elsa ·

En die Chinese sal hul eie werkers inbring en nie van plaaslike mense gebruik maak nie. Daar staan n staal Fabriek in Pretoria Wes (YSKOR) wat vir jare nie gebruik word nie. Nog geld mors vir nog n staal Fabriek?

Niel ·

dis so ironies dat hulle grond wil onteien om grond te gee vir die minderbevoorregtes… en dan kom sulke agterbakse planne aan die lig dat die grond eintlik gebruik gaan word vir “privaat gewin” en om eie sakke verder te vul. So indirek trap die regering op hulle eie mense se swaarkry om net na hulle eie belange om te sien. So wys dit duidelik dat grond onteiening nie ‘n “edele gedagte/plan” is nie, maar as ‘n listige plan met duistere bedoelinge.

Wortelpoop ·

R200Mil, wat n grap. Die grond se markwaarde is nie naby dit nie. Hulle vat n groot kans. Dit is sulke mense se geldgierigheid wat my naar maak. Daar is ook geen probleem on die grond te onteien nie. Gaan lees die onteieningewet en redes vir onteiening.

Gerhard ·

Hoe op aarde sal jy weet of die grond R200 miljoen werd is of nie? Daar is klaarblyklik 300 verblyf eenhede op die grond wat dit maaklik R200 miljoen werd maak.

janneman ·

Die steenkool some in Limpopo is oor die algemeen baie dikker as Mpumalanga en KZN se steenkool reserwes, en die gehalte redelik goed. Die komersiële waarde van die steenkool maak dus die grond baie meer werd as net die landbou wat daarop bedryf word, watter sektor dit ookal verteenwoordig.

Niets ·

Die UAE Sheik (vriend van CR) wat naby die 2 plase geleë is het pas sy grond 16,000 hektaar teen R850 miljoen gekoop, dis R53,000 per hektaar. Die Spanjaard wat aan die anderkant grens het verkoop @ R35,000 per hektaar 5 jaar gelede. Let wel: Die boer wil nie verkoop nie, hy is lief vir die grond, wil eco toerisme ontwikkeling doen daar, honderde jare se ou kremetart bome en skaars wild daarop, hy word gedwing om te verkoop. Dan kan mens seker jou prys maak, in sy geval vra hy markwaarde, maw die gemiddelde prys per hektaar waarteen plase langsaan verkoop het.. Sit jou in sy skoene: As jy geforseer word om te verkoop (jou kar, jou huis, jou plaas, wat ookal) het jy seker die reg om jou prys te maak(Vryemark beginsel), dis ‘n ander saak as hy eerste die regering genader het om te verkoop, maar hy het nie. Wees asb versigtig om onregverdige aannames te maak as jy nie al die feite het nie…

Wortelpoop ·

Dit was deur n waardeer vir R20mil gewaardeer, lees die berig….

Willem ·

Wortelpoop, duidelik was die waardeerder nie opgewasse vir die taak nie, dalk het dit vir die base perform.

PietSkiet ·

Ek sal graag wil weet wat die waardeerder se naam en van is.

Piet ·

Wortel die staat het n waardeerder aangestel. Hulle noem dit n “onafhanklike” waardeerder. Moet ek verder verduidelik, of kan jy een plus een bereken?

Johannes van Rooyen ·

Presies weer ñ bewys die ANC is nie instaat tot iets eerlik nie stel SA nie eerste nie voel niks vir sy mense nie en is slegs ingestel op selfverreiking vir hulle self en hulle kaders DIE ANC EN REGERING KAN MET NIKS VERTROU WORD NIE

Alida 2 ·

Ai Ai en die Chinese soek na swart vennote om aan SEB te voldoen..
Dit is nou vir jou ‘n tamaletjie.
Weereens sal die voorheen benadeeldes nie voordeel trek nie. Die skatryk (na 1994 )sakemanne sal kwalifiseer.
Hoe toevallig dat CR ook belange in mynbou het.

Natan ·

Presies wat ek vermoed het toe die lys met plaasname uitkom. Die ANC begin al voorspelbaar word. Daarby is onafhanklike waardasies deur die Staat gebruik ook twyfelagtig. Hofstryd, onthou die regslui wen daarby, jy verloor altyd.

Marietjie ·

In zimbabwe het blankes net net met hulle lewens weggekom toe die oorlogs veterane die plase ingeval het

Kobus ·

Hulle besit 2 plase wat R200 miljoen werd is dan vra hulle bydraes vir regskoste? Ag nee wat.

Antiestabliesment ·

Ja! 2 wildsplase nogaal en soos ek verstaan maak daai mannae BAIE geld deur buitelandse jagters.

Ja ja ·

Kobus…ai tog…dit is wat dit ..die plase ongeveer werd is…nie wat die eienaars….tot hul beskiking het nie…hoe slim is jy nie..?..

JAN ·

Milton Friedman het 10 staatsfubksies beskryf in Capitalism and Freedom. Daar is ń spektrum van modelle tussen vrye mark en Sovjet Marxsisme aan die ander kant. Verwoerd en prof Sadie model was grootste sukses bewys. Grootste welvaart vir alle rasse ooit .

Francois Siebrits ·

Hulle gaan die grond deel. Net nie daardie grond nie. Dit gaan bewys wees vir hulle mense. Kyk ons skep werk vir julle.

Freddie Whitehorn ·

Dis nie sommer net van vat nie. Hierdie is ‘n demokrasie, nie ‘n diktatorskap soos Shina nie.

Conrad ·

1 KRONIEKE 4:10
Jabes het die God van Israel aangeroep met die woorde: “Stort u seën oor my uit, vergroot my grondgebied, neem my onder u beskerming en weerhou onheil van my sodat geen smart my tref nie.” God het laat gebeur wat hy gevra het.

Antiestabliesment ·

Ja, dit was vir Jabes gewees, dis nie vir jou nie. God is mos aan die ANC se kant, hulle was mos jare lank deur die blankes onderdruk, soos die Israeliete in Egipte. Aanvaar die plae wat oor jou kom Conrad, aanvaar dit, dit is God se plan.

Conrad ·

Die vraag kan wees, hoekom het ek ‘n verantwoordelikheid om ‘n groter grondgebied te proklameer? Dan is die antwoord seker, wie s’n dan anders? ‘n Weermag veg met sy eie soldate, hy huur mos nie ‘n ander weermag se troepe nie. So het ons ‘n verantwoordelikheid. “Here, vergroot my grondgebied”, beteken “Here, ek wil deelneem aan hierdie geestelike stryd”. Anders moet ek bid, “Here, vergroot U grondgebied”. Dan word ek passief in hierdie oefening. Wat bid jy?

se maar net ·

waar was al die blankes toe ons gaan stem het, as elke blanke wat stemreg het gaan stem het was ons setels in die parlement soveel groter en ons kon met mening terug baklei, maar nou word ons verdruk omdat blankes soos ALTYD nie saam kan staan nie … want WIE baklei vir ons ????????

Nita ·

Verander maar by voorbaat ons land se naam Afri-Sjina. Ons fabrieke maak toe soos hulle goedkoop, vrot gehalte goedere die land binnestroom. Hulle voer hul eie werkers in. Ons getal werkloses groei by die dag aan. Daar is wragtig GEEN liggie voor in die wapad nie.

Uilspieël ·

Het die regering nie dalk ook een of twee ‘renosterplase’ in die visier nie?

Zim boere ·

Die zim boere het van een hof na die ander gehardloop om grondgrype te stop en wat het dit hulle in die sak gebring, niks!

Al ons organusasies moet agter die gevoel van die grondeienaars inval en hulle wense verwoord maar wat in SA gebeur is, organusasie spring agter die landboustuurwiel in en verwag dat grondeienaars agter op hulle karretjie moet spring om hulle gewig en momentum te gee sonder dat hulle ooit n benul het watter roete die boere wil vat.

SA het 40 000 komersiele boere en 400 000 gerigestreerde landbou aktes, besluit hierdie organusasies vir die 10% en die ander 90% moet eenvoudig net inval?

Kan julle nie sien dat hulle presies die selfde pad stap de klerk en die NP gedoen het met sy kiesers nie.
Kan julle nie sien dat hierdie ding op n oorlog gaan uitloop nie?
Ek gaan vir Malema krediet gee, hy sien hier kom n oorlog en hy waarsku sy mense klaar daarvoor.
Ons sal moet wakker slaap en uit Zim uit leer.

Afrikaanse Knaap ·

Weet jy hoe goeie skelm moet jy wees om diefstal wettig te maak. Dis net so goed soos om diskriminasie wettig te maak wanneer dit regverdig is. Respek, die regering kry dit reg. Kan ons nou asb begin werk aan ons Afrikaner Volkstaat waar YHWH se wette van krag gaan wees en geimplimenteer gaan word.

Piet ·

Verstommend hoe ‘n persoon homself die reg toe-eien om sonder enige skroom of skaamte ‘n waarde aan ‘n stuk grond te koppel. Tussen die mopani bome agter die berg, kon ek onthou hoe visarende bedags visse in die sandrivier opraap, witkruis arende het in die lug gedraai opsoek na dassies, snag wanneer ons om ‘n hardekool vuur sit kon mens iewers ‘n luiperd se kenmerkende geluide hoor en af en toe ‘n leeu wat iewers heen swerf. Hier het baie stadsjapies van die bosveld kom leer. Om die vuur kon hulle stories hoor van Masilo wat nog ‘n luiperd met ‘n byl doodgekap het en noue ontkomings in die veld. En later in die nag, as alles stil was kon mens soms n straler hoor suis, hoog bo die aarde na Europa. Dit was die enigste teken dat daar iewers ander mense is. Nou besluit iemand dat dit reg is om die sandsteen koppe wat uniek uitgekerf is oor miljoene jare met swart stof te bedek of die kremetart bome wat ouer is as Matusalem. Terwyl almal praat oor die “waarde” van die grond en aan wie dit eintlik behoort sluip Suid Afrika se beeldskone natuurlewe by die agterdeur uit. Die regte manier was om SA op te deel in sektore wat vir sekere doeleindes gesoneer word, maw landbou, mynbou, bewaring of wat ook al. Wat het dan geword van ons verantwoordelikheid teenoor ons nageslag?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.