Meer sluise toegemaak soos Vaaldam sak

Vier van die Vaaldam se sluise is reeds toegemaak.(Foto: departement van water en sanitasie/Twitter)

Die departement van water en sanitasie het Saterdag nog twee sluise van die Vaaldam toegemaak. Dit nadat twee sluise reeds Vrydag toegemaak is.

“Die departement se hidrologiese monitering en vooruitskattingstelsel toon ʼn aansienlike afname in waterkapasiteit by die Vaaldam,” sê Wisane Mavasa, woordvoerder van die departement.

“Daarom die besluit om altesaam vier sluise toe te maak. Agt sluise bly steeds oop.”

Al 12 sluise is verlede week oopgemaak in ʼn poging om die dam se watervlakke te beheer. Swaar en aanhoudende reënval het in die dam se opvangsgebied uitgesak en dit oorvol gelaat.

Gebiede langs die Vaalrivier het sedertdien oorstroom en honderde mense was genoop om hul huise te verlaat.

Volgens die departement is die Vaaldam tans tussen 113% en 116% vol, terwyl die vlakke by die Bloemhofdam ook stadig maar seker afneem.

Dié dam was Vrydag 112% vol, maar het sedertdien gesak tot tussen 107% en 109%. Die uitvloei van die Bloemhofdam word ook nou geleidelik verminder – van 3 800 kubieke meter per sekonde tot by 3 200 kubieke meter per sekonde teen 15:00 Saterdag.

Die Gariepdam staan nou op 111,25% en die uitvloei in die Oranjerivier in, is 1 471 kubieke meter per sekonde. By die Vanderkloofdam staan die watervlakke op sowat 110% met ʼn uitvloei van 1 570 kubieke meter per sekonde.

Die departement het ʼn beroep op inwoners aan die Oranje‑ en Vaalrivier gedoen om waaksaam te bly en voort te gaan om versigtig te wees, aangesien dié riviere se vlakke steeds hoog is.

“Die departement hou steeds die watervloei in die betrokke riviere en damme noukeurig dop. Intussen moet inwoners in hierdie gebiede laagliggende brûe, riviere en strome vermy en gebiede verlaat indien die water begin opstoot.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.