Meer tyd om kommentaar oor grondkwessie in te dien

Argieffoto

Die spertyd waarteen Suid-Afrikaners insette kan lewer op die voorgestelde wysiging van die grondwet om voorsiening te maak vir grondonteiening sonder vergoeding, is tot 15 Junie verleng.

Die publiek het dus altesaam 60 dae kans om geskrewe kommentaar oor die voorgestelde wysiging te lewer. Dit kom nadat die gesamentlike parlementêre grondwethersieningskomitee Donderdag vergader het om sy program vir openbare verhore oor die voorgestelde wysiging te bespreek.

Die komitee is opdrag gegee om art. 25 van die Grondwet te hersien om dit moontlik te maak vir die staat om grond te onteien in openbare belang en om die nodige grondwetlike wysigings voor te stel. Hierdie proses verg egter dat die komitee die publiek moet nooi om kommentaar op die proses te lewer om alle belanghebbendes se sienings te kry en in ag te neem.

Sommige LP’s was ten gunste van die verlenging van die sperdatum terwyl ander, insluitend die EFF se Floyd Shivambu, gesê het dat 45 dae vir openbare kommentaar genoeg is en dat die komitee nie geboelie moet word deur burgerlike groepe wat die proses wil vertraag nie.

Geskrewe kommentaar sal van 9 tot 13 Julie onder oë geneem word, terwyl openbare verhore oor dié omstrede kwessie van 27 Junie tot 6 Augustus in al die provinsies gehou word.

In provinsies met groot landelike gebiede sal daar openbare verhore van vier dae lank gehou word, terwyl die openbare verhore in ander provinsies drie dae elk sal duur. Minstens een van dié dae sal oor ʼn naweek val sodat mense wat deur die week werk ook die geleentheid het om die verhore by te woon.

Vincent Smith, medevoorsitter van die grondwethersieningskomitee, het gesê tot dusver het die komitee reeds 100 000 geskrewe kommentare ontvang. Volgens hom was die meerderheid hiervan, ongeveer 64 000, almal van een WhatsApp-groep wat ontwerp is “om die stelsel te blok”. Altesaam 1 100 is tot dusver deur AfriForum ingedien.

Smith het gesê voordat die openbare verhore gehou sal word, sal die komitee eers met ʼn kollokwium van akademici, navorsers, belanghebbendes, geloofsorganisasies, tradisionele leiers en regeringsdepartemente vergader sodat die komitee “beter kan verstaan waarmee hulle te doen het”.

Mondelinge vertoë sal van 7 tot 17 Augustus in die parlement aangehoor word.

Daarna sal die komitee oor sy konsepverslag beraadslaag wat na verwagting op 11 September 2018 gereed sal wees, waarna aanbevelings aan die nasionale vergadering gemaak sal word.

Enige lede van die publiek wat graag geskrewe kommentaar wil indien oor die wysiging van die grondwet om voorsiening te maak vir grondonteiening sonder vergoeding, kan dit op een van die volgende maniere doen:

  • Per pos aan Me. Pat Jayiya, Komitee-afdeling, Posbus 15, Kaapstad, 8000
  • Per e-pos aan [email protected]
  • Per faks aan 086 465 0678
  • Per selfoon aan 081 441 0345
  • Skakel (021) 403 3661
  • Lewer kommentaar per hand af by W/S 091, Derde Vloer, Pleinstraat 90, Kaapstad

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Reguit ·

Net ter inligting: Mense moet nie vergeet dat die spertyd om kommentaar te lewer op die instelling van lisensies & fooie vir die besit van kragopwekkers, sonpanele en sonpaneel stelsels, eindig op 31 Mei 2018. Die regering en NERSA wil mos hê dat jy húlle vir jou eie krag (en vir die son se lig) moet betaal. So, as jy “off the grid” wil gaan, dan moet jy daarvoor hoes. Tipies van ‘n regering van rowers. Neem kennis.

Cherokee ·

Dankie vir die herinnering, Reguit. Indien ek hierop kommentaar gaan lewer sal my woorde te reguit wees om in tel te wees. Sou daar enige ander plekke in die wêreld wees wat dit doen? Waarskynlik ja, want die anc is te stupit om so iets self uit te dink.

Cherokee ·

Dìt, wat die Koning van alle konings, die God van alle gode, die Here bo alle here, aan ons geskenk het, die see, die lug bo die aarde, die sonstrale, eien die regering hulself toe en belas dit.

Cherokee ·

Gesertifiseerde Inligting!
Op die plaas waar ek groot geword het, het ons ‘n windlaaier gehad wat oupa gebruik het om batterye mee te laai. Wanneer die regeringsamptenare ver genoeg leer om daarvan te hore te kom, sal hulle die wind ook wil belas.
Gesertifiseerd want nie vir regerings-ore & oge.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.