Meer tyd vir verwerking van WVF se voordele

(Foto: Facebook)

Die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) het die verwerking van nuwe aansoeke vir tydelike werknemerverligtingvoordele (Ters) verleng ná samesprekings met vennote by die nasionale ekonomiese ontwikkelings- en arbeidsraad (Nedlac).

Aansoeke vir Covid-19-Ters vir Maart tot Mei sal op 25 September sluit, en aansoeke vir Junie sal op 15 Oktober sluit. Aansoeke vir Julie tot 15 September sal op 30 Oktober sluit. Geen verdere aansoeke vir die tydperke word ná daardie datums aanvaar nie.

Makhosonke Buthelezi, woordvoerder van die WVF, het gesê die nuwe sluitingsdatums sal nie eise wat reeds ingedien is, beïnvloed nie, aangesien dit verwerk en betaal sal word sodra die uitstaande inligting uiteindelik by die fonds ingedien is.

“Tans word enige betalings as deel van die voordeel tydelik opgeskort. Die fonds werk steeds saam met die departement van binnelandse sake en ander regeringsdatabasisse om ongeveer vyf miljoen identiteitsdokumente van Covid-19-Ters-aansoekers te verifieer. Dit word gedoen om te verseker dat betalings aan verdienstelike en outentieke werkers gemaak word,” sê Buthelezi.

Die WVF het ook Vrydag aangekondig dat betalings tydelik onderbreek sal word sodat die nodige beheermaatreëls ingestel word.

Daar sal mettertyd ʼn aankondiging gemaak word oor wanneer die fonds weer betalings sal voortsit.

Marsha Bronkhorst, waarnemende kommissaris van die WVF, sê die fonds is bewus van die negatiewe impak wat hierdie vertraging veroorsaak, maar om die leemtes wat deur die risiko-eenheid en die ouditeur-generaal (OG) geïdentifiseer is, te verminder, moet hulle voorlopig die betalings staak.

“Sodra ons gemaklik is met die stappe wat ons gaan doen, sal ons aandui dat die betalings voortgesit word,” sê Bronkhorst.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.