Meer vas vir diefstal, vandalisme by City Power

(Argieffoto: Severin D./Unsplash)

Die kragverskaffer City Power het al sedert die instel van die landwye afsondering minstens 25 mense in hegtenis geneem vir verskeie misdrywe soos kabeldiefstal, vandalisme en onwettige verbindings.

Die meeste van dié inhegtenisnemings hou verband met die steel van aluminium- en koperkabels, asook inbraak by substasies.

Die verdagtes is oor die hele Johannesburg in hegtenis geneem, aan die polisie uitgelewer en aangekla.

Isaac Mangena, woordvoerder van City Power, sê die aantal inhegtenisnemings wat die afgelope maand ten tyde van die afsondering aangemeld is, is 150% meer as wat in ʼn gewone maand plaasvind.

Normaalweg word daar ongeveer tien inhegtenisnemings maandeliks aangemeld.

Volgens Mangena verloor dié kragverskaffer, wat elektrisiteit verskaf aan die Stad Johannesburg, jaarliks miljoene rande weens hierdie soort misdrywe.

Sers. Thela, City Power se hoof van sekuriteit, sê die rede waarom die inhegtenisnemings ten tyde van die afsondering toegeneem het, is nie noodwendig omdat daar meer gevalle van dié misdaad is nie, maar omdat hulle meer waaksaam is en veiligheidspanne dus vinniger enige strafregtelike aktiwiteite kan opmerk en betyds stopsit.

City Power verwag egter dat vandalisme en kabeldiefstal waarskynlik ten tyde van die vlak 4-afsondering gaan toeneem wanneer sektore soos herwinning en metaalhandel weer diens hervat.

Thela sê die kragverskaffer sal met behulp van patrollies, asook die nodige waaksaamheid van veiligheidsbeamptes en wetstoepassers seker maak dat vandalisme en diefstal in die komende weke bekamp word.

City Power doen ʼn beroep op lede van die publiek om kabeldiefstal en vandalisme by 011 490 7900/7811 aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anel ·

Hulle weet misdaad gaan styg, maar wat doen hulle daaromtrent? Genade tog! Vergeet van die virus en laat die mense terugkeer werk toe. Die afgelope tyd is 90 dood, en ook nie direk aan die virus nie. Mense gaan mekaar begin vermoor vir kos en so gaan meer mense sterf. Keer eerder ‘n volksmoord. Mense gaan siek word, of dit nou griep, verkoue, die virus TB, vigs of wat ook al is. En mense gaan doodgaan. Dit is ons almal se lot, maar wat nou hier aangaan is absoluut absurd en onnodig. Hoe kan mens respek hê vir onbevoegdheid? As hierdie 30 jaar gelede moes gebeur het sou dit defnitief nie so gegaan het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.