Meer verdrink in Kaapstad as verlede jaar

Lewensredders soek na ‘n jong seun wat in die see by die Strand vermis geraak het. (Foto: PJ van Zyl)

Die feesseisoen het skaars begin, maar meer mense het reeds die afgelope week in die Kaapstad-omgewing verdrink as tydens die hele feestyd verlede jaar.

Twee tieners het Saterdag vermis geraak by Wittewaters in Table View. Een se liggaam het gister op Clifton se strand uitgespoel.

“Dit stoot die aantal verdrinkings op na 12, wat klaar meer is as die totale verdrinkings tydens verlede jaar se feesseisoen,” sê Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid en gesondheid in Kaapstad. Lewensredders het ook die afgelope week 11 gevalle hanteer waar mense amper verdrink het, sê Badroodien. Dit sluit in ʼn geval waarin ʼn gesin van ses by Clovelly deur ʼn seestroom meegesleur is. In ʼn ander geval het lewensredders ʼn man bygestaan wat bewusteloos was nadat hy van ʼn vasmeerplek in ʼn vlak getypoel geduik het.

Daarom het die stad vakansiegangers Woensdag opnuut gewaarsku om versigtig te wees wanneer hulle strand toe gaan of swem.

“Dit is hartverskeurend om jou geliefdes te verloor, veral dié tyd van die jaar. Die stad probeer sover moontlik mense op strande veilig hou deur lewensredders, hulpbronne en inligting beskikbaar te stel, maar swemmers moet versigtig wees wanneer hulle in of naby die see gaan,” sê Badroodien. “Ons wil graag hê vakansiegangers moet hulself geniet, maar sonder om hulself of enigiemand anders in gevaar te stel.”

Hy sê deur die Stad se Identikidz-projek kry kinders wat strand toe gaan ʼn armband met hul persoonlike besonderhede. Sou die kind deur die loop van die dag van sy of haar ouer of voog geskei word, kan hulle dan makliker met mekaar verenig word. Meer as 21 000 kinders op 16 strande is reeds só gemerk.

Badroodien het vakansiegangers aangemoedig om slegs tussen die rooi vlaggies te swem en ook net wanneer daar lewensredders teenwoordig is. “Hulle moet ook op die uitkyk wees vir seestrome en ten alle tye toesig hou oor hul kinders. Baaiers moet liefs ook nie drink en swem nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elaine Krige ·

Dagsê Anoniem

Ons het die opskrif gewysig. Baie dankie!

Groetnis
Elaine
Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.