Meer voordele wink dalk vir ingeëntes

(Argieffoto ter illustrasie: Ted S. Warren/AP)

Suid-Afrikaners wat teen Covid-19 ingeënt is, sal dalk binnekort voordele soos die bywoon van musiekfeeste en sportbyeenkomste kan geniet.

Só het dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, Vrydag tydens ʼn konferensie by die inentingsentrum van die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto gesê.

Volgens Phaahla oorweeg die regering “sagte voordele” vir mense wat kan bewys dat hulle die entstof ontvang het.

Phaahla sê die regering se prioriteit is nie om wetgewing in te stel om Suid-Afrikaners te verplig om die entstof te ontvang nie, maar om mense aan te spoor om vrywillig teen die virus ingeënt te word.

“Ons besef mense is honger vir vermaak en dat beperkinge baie druk meebring. Ons sal nie kontant kan gee as aansporing nie, maar daar is ander maniere.”

Phaahla het nie gesê wanneer Suid-Afrika na vlak 1 sal beweeg nie, maar dat inwoners na sekere verslappings kan uitsien soos die getal daaglikse Covid-19-infeksies afneem.

Hy sê die regering is sensitief vir kwessies soos wanneer meer beweeglikheid toegelaat sal word, maar dat ʼn balans gehandhaaf moet word om lewens te red.

Phaahla sê protokolle en beperkings, soos die huidige vlak 3-inperking, is noodsaaklik om die virus te bekamp, aangesien dit deur mense versprei word.

Volgens Phaahla is die regering egter optimisties dat nuwe Covid-19-gevalle afneem en dat ʼn verslapping van die inperking oorweeg sal word sodra elke provinsie, veral KwaZulu-Natal en die Oos-kaap, beduidende afnames toon.

“Dit sal egter steeds beteken dat dit ons elkeen se verantwoordelikheid is om protokolle te handhaaf.

“Die nakoming van Covid-19-regulasies en die entstof is ons grootste wapens om die virus te bestry.”

Inentings

Phaahla sê die regering het die vermoë om tussen 300 000 en 400 000 inentings per dag te administreer.

“Al wat ons nodig het, is julle [Suid-Afrikaners] arms, sodat ons jou kan inent.”

Phaahla sê die hoogste getal mense wat al per dag ingeënt is, is 250 000.

Volgens die Nasionale Instituut vir oordraagbare siektes het meer as 13 miljoen mense al minstens een dosis entstof ontvang.

Volgens Phaahla het ʼn kwart van die volwasse bevolking dus nou een inenting ontvang.

Die regering het ten doel om teen Desember 70% van die volwasse bevolking in te ent, maar sal dié doelwit eers kan nastreef wanneer inentings vir mense onder 18 jaar oud oopgestel word.

Hy het geen aanduiding gegee van wanneer dít moontlik sal wees nie.

Phaahla sê voorts  ʼn ooreenkoms is met Johnson & Johnson bereik om die verskaffing van die entstof aan die Afrika-kontinent te prioritiseer, wat Suid-Afrika uiteraard insluit.

“Dit sal die gaping tussen Afrika en die res van die wêreld vernou.”

Verpligte inentings

Phaahla sê dit staan werkgewers en diensverskaffers vry om hul eie beleid rakende verpligte inentings toe te pas, mits dit binne die raamwerk van die wet geskied.

Hy meen egter die regering fokus op die aansporing van vrywillige inentings, eerder as om inentings te verplig.

Onwettige migrante

Phaahla sê die regering bespreek tans maniere om die inenting aan onwettige migrante beskikbaar te stel, aangesien hulle nie wettige dokumente het nie.

“Selfs diegene wat onwettig hier is, moet ingeënt word, want hulle bly in die land.”

Hy sê klarigheid oor dié kwessie sal binnekort gegee word.

Entstof-sterftes en ernstige newe-effekte

Maroela Media het vroeër berig geen sterftes in Suid-Afrika kan nog direk met die entstof verbind word nie.

Dr. Nicholas Crisp, adjunk-direkteur-generaal van die departement, sê die regering het ʼn streng rapporteringstelsel wat ondersoeke na ernstige gevolge weens enige entstof instel.

“Mense wat vermoed dat die entstof tot ernstige newe-effekte of sterftes gelei het, moet ʼn vorm invul en dit aanmeld.

“Elke provinsie het ʼn toegewyde span wat dan sal ondersoek instel. Nadoodse ondersoeke sal in die geval van hierdie sterftes uitgevoer word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.