Meer vrae as antwoorde oor gesondheidsregulasies

Dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid. (Foto: Facebook)

Net drie weke voordat voorgestelde gesondheidsregulasies gereed moet wees lyk dit of die departement van gesondheid self nog nie weet wat dié regulasies sal behels of hoe dit geïmplementeer moet word nie.

Dr. Joe Phaala, minister van gesondheid, kon tydens ʼn vergadering van die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid Donderdag nie fynere besonderhede oor die regulasies verskaf of vrae oor hoe dit geïmplementeer sal word volledig beantwoord nie.

Die regulasies is bedoel om Covid-19 en ander aanmeldbare siektes buite ʼn nasionale ramptoestand te bestuur.

Die departement het Donderdag via Zoom ʼn voorlegging aan die portefeuljekomitee gedoen oor hoe hy beplan om die gesondheidsregulasies te wysig.

Phaahla het ook aangekondig dat die periode vir die indiening van kommentaar op die voorgestelde wysigings tot 24 April verleng word en dat ’n Whatsapp-nommer vir dié doeleindes binnekort bekend gemaak sal word. Lede van die publiek het aanvanklik tot 15 April kans gehad om kommentaar in te dien.

Volgens die departement is daar tot dusver al meer as 150 000 kommentare ontvang.

Phaahla sê klagtes dat e-posse met kommentaar uitgewis is, sal opgevolg word en dat dit waarskynlik net ʼn “tegniese probleem” is.

LP’s skop vas

Hoewel Phaahla volgehou het dat die regulasies wel nodig is, het lede van die parlementêre komitee hewige kritiek op die voorgestelde wysigings gelewer en versoek dat die gesondheidsregulasies onttrek en nie gepromulgeer word nie.

Van die LP’s meen ook dat die departement nie die vermoë het om die regulasies suksesvol te implementeer nie en dat dit niks anders as “verskuiwing van politieke mag van een minister na ʼn ander” is nie. Dit word boonop as ʼn vertrapping van menseregte beskou.

Phaahla het in reaksie hierop gesê dat die regulasies geensins so “drakonies” is soos LP’s dit probeer uitmaak nie.

Volgens hom is die dra van maskers binnenshuis, die beheer van toegangspunte tot die land en die beheer van byeenkomste “eintlik die enigste beperkings wat bly geld”.

Phaahla sê die res van die regulasies is nie “nuut” nie en dat die departement baie beperkte magte daardeur het.

Die regering is veral die afgelope weke gekritiseer oor regulasies wat Suid-Afrikaners kan dwing om vir Covid-19 te toets en behandel te word, asook om hulle in kwarantynfasiliteite van die regering se keuse te moet isoleer.

Phaahla meen die regulasies is wél nodig aangesien die Covid-19-infeksiekoers enige oomblik weer kan opskiet, veral met die winterseisoen om die draai.

“Ons het geen waarborg dat dit [koronavirusinfeksies] nie weer sal vererger nie. Totdat ons weet dit is nie meer ʼn risiko nie, sal openbare gesondheidsregulasies nodig wees.

“Ons het geen begeerte om mense se lewens onnodig te beheer nie. Ons moet egter seker maak dat ons die regte instrumente gereed het om Covid-19 en ander aanmeldbare siektes te bestuur.”

Phaahla sê dit beteken ook nie dat regulasies vir altyd sal geld nie, en dat dit weer gewysig kan word indien die situasie verander.

Volgens hom is regulasies wat isolasie en nasporing betref ook ingebring om toekomstige pandemies te bestuur. Die departement oorweeg glo om dié soort regulasies van Covid-19-regulasies te skei.

Die groter meerderheid van die gesondheidskomitee was egter nie oortuig is nie.

“As julle ons nie kan oortuig nie, hoe gaan julle die res van die land oortuig,” het Ahmed Munzoor Shaik Emam, ʼn NFP-parlementslid, gesê.

Hy meen die regering verskaf nie voldoende verduidelikings oor waarom hy met die instelling van regulasies voortgaan nie.

Doel van regulasies bevraagteken

LP’s wou onder meer ook weet op watter wetenskaplike en kundige bewyse die departement sy wysigings grond.

Die DA se Haseena Ismail het gesê daar is verskeie navorsingsverslae dat maskers nie effektief is om die verspreiding van die virus te keer nie en dat mense dit boonop verkeerd dra.

Dr. Kenneth Jacobs, voorsitter van die komitee, het egter gesê dat maskers beslis gehelp het om verspreiding van die virus te beperk.

Hy meen Suid-Afrikaners was “bloot gelukkig” dat die Omikron-variant inwoners nie so ernstig getref het nie.

Marie Sukers van die ACDP het gesê Suid-Afrikaners kan nie langer in ʼn “polisiestaat” lewe nie.

Sy wou ook weet of die departement se regulasies onderskeid tussen variante gaan tref waarop Phaahla “nee” geantwoord het.

Philip van Staden, VF Plus-LP, het gesê mense kan nie verstaan waarom die regering aan regulasies vasklou wat die land reeds soveel skade berokken het nie.

Dit word boonop nie as ʼn aanmeldbare siekte in die regulasies aangedui nie.

Hy meen die instelling van die voorgestelde regulasies is ʼn magsmisbruik deur die regering en dat dit nie deurdink is nie.

“Dit is niks anders as ʼn misbruik en verskuiwing van politieke mag nie.”

Wat as mense nie luister nie?

Die regering is ook met vrae gepeper oor wat sal gebeur as mense weier om die regulasies na te kom – insluitend om vir Covid-19 getoets te word.

“Gaan mense dan in hegtenis geneem word?” wou Michele Clarke van die DA weet.

Sy was ook van mening dat die regering nie voldoende isolasiefasiliteite sal kan verskaf nie – veral in vloedgeteisterde gebiede in KwaZulu-Natal.

Sy wou ook weet of PCR-toetse wel doeltreffend is. Ander kommentaar was dat dié toetse niks meer as ʼn geldmaakskema geword het nie.

Die DA wou ook weet hoe die regering die administratiewe kant van die regulasies gaan volhou – soos om te verwag dat mense wat die land binnekom die regering vooraf in kennis moet stel dat hulle positief vir Covid-19 getoets het.

“Regeringsdepartemente antwoord dan nie eers hul fone nie.”

Die komitee het ʼn opvolggesprek met die departement versoek aangesien alle vrae nie in die gegewe tyd beantwoord kon word nie. ʼn Datum vir dié gesprek is nog nie bekendgemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Lourens CFG ·

Definitief al siek van hierdie sogenaamde regering van ons.
Ek sê sogenaamde omdat hulle tot op hede (van 94 af), probeer regeer, en net van een kolosale mislukking na die volgende een voort ploeter.

Renier johannes ·

Hulle kan gaan vlieg met al hulle geld maak gemors

Christa ·

Ja en nou dink die regering almal is onder n kalkoen uitgebroei….tegniese fout dat hulle kwansuis net meer as 150 000 e-posse ontvang het…my groottoon in n “jam” blik man. Volgens Dear South Africa was die getal mense wat al hulle opinie gelig het insake die gesondheidsregulasies en voornemende wette op 13 April om 20h54 al op 210 000. En dit is net die een organisasie. Die regering dink mos as hulle net die e-posse “file 13” toe stuur, dan gaan die probleem weggaan. Ons leiers wat omgee vir ons mense en land moet nou opstaan en saamstaan en hierdie gesondheidsregulasies beveg tot in die hoogste hof. Hou op ons mense verder te verarm met julle gebrek aan insig en visie.

William ·

Hulle skrap die eposse sonder om dit te lees, ek het bewyse van dit

Johan ·

Hulle wag nog vir die instruksies van hul westerse meesters.

Sarie ·

Hulle het deffinitief meesters. Selfs die westerse leiers het meesters wat hulle voorse.

Jsgroen ·

Mag ‘n mens nie eens meer verkoue of griep kry? Word mos as Covid gesien.

annie ·

‘n Teorie oor ‘n sameswering tussen antie-tannie en die ruiter kan dalk moontlik die rondte begin doen met dreigemente en bangmaak as grondslag om die volk tot onderdanigheid te dwing… met die klem op onderdaan… Onder. En die winter lê voor. Wie sou ‘n eeu gelede kon raai dat ons ná die visioene van destyds oor grootste ontwikkelings en ruimtereise in so ‘n benarde agterlike en pesvervaarde situasie sal sit. Maar hier sit ons. Hoe koud is die windjie en skraal… Boet het jy klaar hout gekap? … Toe, toe…

Groen Ghoen ·

Al pandemie wat nog in S.A. oorbly is die ANC-regeringspandemie. Die Zumavariant is verby, nou sit ons met die Ramaphosavariant.

Nefie ·

Pahla wil niks ander regte gesondheid werk doen nie, hy is maar net “power hungry”

William ·

Die ANC leierskap is tans skuldig aan hoog veraad en staats kaping deur die manifes van die WEF en die VN uit5 te voer. Hulle het geen manifes van die stemmers in die land nie. Die gekonkel sluit in die instelling van n nuwe wereld regering, sonder n demokratiese opsie van stemreg oor dit. Dit is hoog veraad en in my opinie moet die wat dit implementeer in hegtenis geneem word. Dit is n fatale fout om te beweer dat dit net “conspiracy theories” is. Op 29 Maart het die “New World government summit” plaasgevind met ons eerbare president teenwoordig. Soek maar net na worldgovernmentsummit dot org. Die dot moet vervang word met n punt, ek kan nie web addresse noem nie dan word dit afgekeur. Die regering is besig met n ernstige oortreding, word tog wakker mense. Die hele covid debakel is n misbruik om die planne van n paar elite ryk mense werklikheid te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.