Meer werkers daag op by Sibanye-myne

Sibanye-Stillwater sê ietwat meer myners het Maandag vir werk opgedaag as verlede week, maar die bywoning bly laag weens die staking deur die vakbond Amcu by die maatskappy se Suid-Afrikaanse goudmynbedrywighede.

“Die situasie was die naweek betreklik bestendig toe sigbare intimidering beperk was tot die Beatrix-myn in die Vrystaat,” het die maatskappy in ʼn verklaring gesê. “Die bestuur is bly dat geen betekenisvolle geweld dié naweek aangemeld is nie.”

Die maatskappy gee die versekering dat sy bestuur sal aanhou beraadslaag met die vakbonde om ʼn vredesooreenkoms te sluit, wat Vrydag met die partye bespreek is.

Sibanye sê hy sal later vandag nuwe inligting oor die uitwerking van die staking op sy bedrywighede bekendmaak.

Die maatskappy meen hoewel die atmosfeer die naweek gespanne gebly het, was daar ʼn opmerklike afname in die vlakke van geweld en intimidasie en ʼn toename in die getal werkers wat kom werk het.

Volgens die verklaring maak die omvang van die geweld wat Woensdagaand tussen vakbondlede plaasgevind het, die maatskappy diep bekommerd; daarom is ʼn vergadering vir Sondag belê om gesamentlik die vyandighede te beëindig en aan ʼn kollektiewe vredesverdrag te werk.

Sibanye het die arbeidshof verlede week genader om ʼn hofbevel teen die strydende vakbonde, Amcu en NUM, om nog geweld op sy persele te voorkom.

ʼn Mynwerker is dood en talle ander beseer in die skietery en messtekery by die Beatrix-myn by Welkom en by die Kloofmyn in Johannesburg toe geweld losgebars het nadat Amcu-lede Woensdagaand begin staak het.

Sowat 15 000 Amcu-lede het Woensdag om middernag met die beskermde staking begin nadat loononderhandelings op ʼn dooiepunt uitgeloop het. Die vakbond eis ʼn minimum salaris van R12 500 met ʼn jaarlikse verhoging van R1 000 oor drie jaar.

Sibanye het die afgelope week ʼn loonooreenkomsmet drie ander vakbonde onderteken wat ingewillig het om geringer vergoedingspakkette te aanvaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chris Ws ·

Vakbonde se tande moet getrek word om die’ land se ekonmie te red!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.