‘Mees gesoekte bankrower’ na jare vasgetrek

Argieffoto: Nico Strydom/Maroela Media

Argieffoto: Nico Strydom/Maroela Media

Die man wat moontlik Suid-Afrika se mees gesoekte bankrower is, is Dinsdag in Johannesburg deur die Valke in hegtenis geneem.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het gesê Lucky Vusi Dube, algemeen bekend as “Sthakathi”, is by sy huis in Aucklandpark vasgetrek. Ammunisie vir ʼn handwapen is in sy besit gevind.

Volgens Mulaudzi word Dube al jare lank gesoek in verband met verskeie bankrooftogte in Gauteng en Mpumalanga. “Die ondersoekspan is na Dube se huis geneem deur ʼn ander verdagte wat in verband met ʼn rooftog in Bramley in hegtenis geneem is,” het hy gesê.

“Dube word verbind met rooftogte by die Standard Bank in Balfour, Mpumalanga, Bidvest Bank in Randburg, ABSA Bank in Sandton, ABSA Bank in Vereeniging, Nedbank in Sentraal-Johannesburg en nog ʼn ABSA Bank in Norkempark, Johannesburg. Al hierdie rooftogte is in 2014 uitgevoer.”

Mulaudzi het gesê Dube word ook verbind met ʼn Nedbank rooftog in 2006 in Sandton, asook ʼn rooftog in 2013 in Vereeniging.

Dube het Woensdag in die Johannesburg-landdroshof verskyn. Die saak is uitgestel na 6 Mei sodat sy adres en status in die land bevestig kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.