‘Mees gesoekte’ in Gauteng vas

boeie

(Argieffoto: SA Polisie)

’n Vermeende transitorower wat op die Gautengse polisie se lys van topvyf mees gesoekte verdagtes verskyn, is aangekeer.

Die gesoekte verdagte is die naweek eindelik in hegtenis geneem ná ’n polisiespeurder alleen op ’n sakerooftog in die omgewing van Hammanskraal reageer het.

Dít nadat verskeie lasbriewe al vantevore vir die vermeende transitorower se inhegtenisneming uitgereik is.

Die polisie sê die konstabel, verbonde aan die Temba-polisiestasie, het gedurende sy etensuur inligting ontvang oor vier gewapende verdagtes wat pas op ’n hardewarewinkel in Stinkwater toegeslaan het.

Die speurder het in ’n ongemerkte motor na die toneel gejaag en het op pad daarheen die verdagtes in ’n blou Toyota Yaris gewaar en hulle agternagesit.

Drie van die vier verdagtes het gedurende die jaagtog uit die bewegende motor gespring en te voet gevlug.

Die konstabel het egter met behulp van inwoners die bestuurder van die motor in ʼn hoek gedryf en in hegtenis geneem.

Voorlopige inligting het intussen aan die lig gebring dat drie lasbriewe reeds vroeër vir die verdagte se inhegtenisneming uitgereik is in verband met transitorooftogte wat in 2010 in Akasia en in 2017 in Soshanguve en Eersterust plaasgevind het.

Daar is ook vasgestel dat die blou Toyota Yaris verlede maand in Ga-Rankuwa gesteel is.

Die verdagte sal na verwagting Maandag in die Temba-landdroshof verskyn op aanklagte van sakeroof en die besit van ’n vermoedelik gesteelde voertuig.

Lt.genl. Elias Mawela, provinsiale polisiekommissaris in Gauteng, het intussen die speurder vir sy vinnige optrede geloof.

“Alhoewel die speurder volgens prosedure hulp ingeroep het, het sy instink en vinnige optrede daartoe gelei dat een van ons mees gesoekte verdagtes in hegtenis geneem is.”

Mawela het ook die gemeenskapslede bedank wat die speurder gehelp het om ’n “gevaarlike” verdagte aan te keer en dit ’n veiliger plek vir sy inwoners te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

koos10 ·

Dis welgedaan, konstabel.
Ongelooflik stupid en jy kon met jou lewe betaal het, maar gelukkig vir jou het dit goed afgeloop.

Baardman ·

Die mees gesoekte krimineel in SA is op mediese parool. Hy sidestep nou al die tronk vir baie jare. Hoop nie hierdie een kom ook weg nie

Swerwer ·

Welgedaan Speurder. Mag jy as voorbeeld dien vir jou kollegas en mag jou optrede tot voordeel van baie ander dien.

Hennie ·

Hy moet so gou as moontlik borg kry…hy het sekerlik ‘n ou gesinnetjie om voor te sorg, dan nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.