‘Mees gesoekte’ verdagtes in Limpopo aangekeer

Foto: SAPD, Limpopo

Ses “mees gesoekte” verdagtes, waaronder ʼn voormalige polisiereservis, is in Limpopo in hegtenis geneem.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, het gesê die mans is Woensdagaand in hegtenis geneem. “In ʼn goed beplande operasie, deur lede van verskillende eenhede in die polisie, is dié berugte verdagtes een-vir-een in hegtenis geneem terwyl hulle by verskillende plekke gelê en slaap het. Die persone is tussen 23 en 30 jaar oud.”

Mojapelo het gesê polisiebeamptes het ʼn wenk opgevolg dat die verdagtes die gemeenskap in Burgersfort teister. Die persone is in hegtenis geneem op aanklag van ernstige misdade soos moord, poging tot moord, sakeroof, huisroof en voertuigkaping.

“Een verdagte is in Groblersdal in hegtenis geneem, drie by Bothashoek en GaMashamotane buite Burgersfort, en twee onderskeidelik in Tafelkop en Leukau in die Groblersdal-gebied,” het Mojapelo bygevoeg.

ʼn Voormalige polisiereservis, wat vermoedelik die meesterbrein agter die misdade is, is ook in hegtenis geneem. Beamptes het by sy huis beslag gelê op twee pistole en ʼn geweer.

Die verdagtes word met die volgende sake verbind:
– Twee gewapende rooftogte by Burgersfort Engen-vulstasie
– Twee gewapende rooftogte by NWJ Tubatse-winkelsentrum
– Twee gewapende rooftogte by PPS-vulstasie in Burgersfort
– Kaping van ʼn Toyota Avanza en moord in Burgersfort
– Huisrooftog in Tubatse
– Vier sakerooftogte in GaMashamotane en Ribacross
– Poging tot moord tydens ʼn skietery met die polisie verlede week in Burgersfort
– Kaping in Tubatse

Al ses verdagtes sal binnekort in die Burgersfort-landdroshof verskyn, het Mojapelo bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Pieter ·

Baie goeie werk SAPS, maar op n ligter noot, as ek ooit n rampokker word en aangekeer word, sal ek verkies om aan die voorpunt van die kop-tot-sterre foto sessie te wees.

willie ·

Wys ons asb meer sulke fotos! Lekker leesstof ek is mal daaroor, ons lees te veel negatiewe nuus van die dag!

GM ·

Hul gaan aanvoer hul menswaardigheid was aangetas tydens die operasie. Hulle lê darem maar naby aan mekaar!
Geluk aan die betrokkenes wat gehelp het om hul te arresteer.

Kobus ·

Baie geluk aan die polisiebeamptes wat nog goeie werk doen. Nou moet die howe net hulle kant bring en die skurke lewenslank uit die samelewing wegneem. Die gevangenisdiens moet ook die skurke harde pad gee soos in die ou dae. Hulle moet aanmekaar vasgeketting word en klippe kap vir al die slaggate op die paaie sodat hulle behoorlik gestraf word noudat die doodstraf afgeskaf is. Hulle moet wens hulle was liewer dood as in die tronk.

Neilia ·

As ek die fotos so sien laat dit my wonder daai Ak 47 of dit nie betrokke was by die aanval tussen Tzaneen en Merensky skool waar James Reed geskiet was .

Shaun ·

Jong ek het die fotos nou bestudeer en hoek tot kant deurgekyk . Ek sien nie die AK 47 waarna jy verwys nie ?

Von ·

Wel gedaan. Trots op julle in die SAPD enorme taak in die besmette land

GM ·

Dit laat my nogal dink aan Orknie Snorknie se een gedeelte waar Yolanda sê: ‘Dit lyk vir my eerder na benoude blerrie boude’.

christa ·

as die howe hulle werk doen sal daar minder sulke gevalle wees. Hulle sien die howe gee ligte strawwe en dan hou hulle aan met hulle streke. Ja hulle kan lekker le en ruik aan die ander

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.