Meeste damvlakke daal steeds, waarsku departement

(Argieffoto: André Steenkamp)

Die departement van landbou, bosbou en visserye het boere gewaarsku om die somer met omsigtigheid tegemoet te gaan, gegewe die droogtetoestande wat steeds in sommige dele van die land voortduur en waterbeperkings wat plek-plek nog geld.

Die gemiddelde damvlakke in die Wes-Kaap het die afgelope ruk gestyg, maar in al die ander provinsies gedaal.

Die departement het gesê volgens die Suid-Afrikaanse weerdiens word ondergemiddelde reënval oor die sentrale en suidoostelike gedeeltes van die land in die laat lente verwag, terwyl bogemiddelde reënval in die vroeë tot middel somer in die sentrale en oostelike gedeeltes voorspel word.

Droëlandboere is aangeraai om te wag vir genoeg vog voordat hulle plant en die departement moedig hulle ook aan om droogtebestande kultivars te oorweeg.

“Boere wat besproei, moet ook kennis neem van die voorspelling. Damvlakke kan dalk nie so vinnig styg terwyl besproeiing weens die verwagte hoë temperature gedoen word nie,” het die departement in ʼn verklaring gesê.

Volgens die departement moet die drakrag van die veld ook deurlopend in ag geneem word.

Maroela Media het vroeër berig die regering het pas staatshulp van R30 miljoen aan die droogtegeteisterde Noord-Kaap beskikbaar gestel vir die onmiddellike verkryging en verspreiding van voer na die boerderygemeenskap.

Die regering gaan ook help met die produksie van voer om die huidige voorraad van die voerbank wat in die provinsie opgestel is, te vermeerder, het adj.pres. David Mabuza die naweek tydens ʼn oorsigbesoek aan Aggeneys aangekondig.

Wat betref die beskikbaarheid van water, het Mabuza beveel dat die departement van menslike nedersettings, water en sanitasie meer boorgate laat sink.

Die regering gaan ook met Land Bank vergader om maniere te vind om hulp te verleen aan boere wat weens die droogte nie hul betalings kon byhou nie. Verskeie departemente gaan saamwerk om die kwessies rakende die verklaring van ʼn droogte in die Noord-Kaap en die klassifisering daarvan uit te stryk, het Mabuza gesê.

Die DA het in reaksie gesê hy hoop die geld is net die begin van ʼn veel groter toewysing aan die provinsie.

“Ons verwag dat Mabuza, wat oënskynlik onbewus was van die erge graad van die droogte, ʼn belangrike les geleer het en sal toesien dat die regering nooit weer die lyding en skade weens natuurrampe onderskat nie,” het Willie Aucamp, ʼn DA-lid van die Noord-Kaapse wetgewer, gesê.

“Ons verwag ook dat premier Zemani Saul sy regering gaan regruk om enige verdere vertragings te voorkom ten einde provinsiale rampe so spoedig moontlik in die staatskoerant te laat afkondig.”

Aucamp het gesê hy hoop die regering werk saam met alle betrokkenes om te verseker die hulp bereik diegene wat dit die nodigste het so gou en doeltreffend moontlik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

marous ·

Die grasperke word natgespuit dag en nag . Bel die stadsraad dan doen hulle niks . Spreek die man oorkant die straat wat ‘n polisieman is en hy dreig my vrou dat hy iemand gaan skiet .

jaco ·

meeste van die droogtegeteisterde gebiede is onder die ANC se beheer. In die Wes-Kaap weer, waar die DA in beheer is, het damvlakke gestyg.
nou wonder ek maar net: wat het dan geword van n stelling van n ANC-raadslid so 2 jaar gelede, wat gesê het die Here straf die Wes-Kaap met droogte omdat meeste mense daar die sonde doen om vir die DA te stem.
So as vir die DA stem sonde is en goeie regering en geen korrupsie dus ook sonde en teen die wil van God is, WATSE sonde word dan in die dele van SA onder ANC beheer gedoen dat dit dan nou daar ook droog is???

Riaan ·

Nee Jaco, in Centurion wat onder Pta val wat in da beheer is loop die water nou al 2dae in strome in Nellmapius weg/ straat af naby die Irene Village mall en stevens mokgalapa en sy gang is te besig om water in Hammanskraal te proe om iets aan die water vermorsing in Centurion te doen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.