Meeste gr. 4’s kan nie behoorlik lees  

(Foto: Johnny McClung / Unsplash)

Altesame 81% van gr. 4-leerders in Suid-Afrika kan nie met begrip lees nie.

Dit is die bevinding van die jongste Progress in International Reading Literacy Study (PIRLS), ʼn internasionale opname oor geletterdheid.

Luidens die opname benodig agt uit elke tien leerders hulp om die inligting in ʼn eenvoudige teks of leesstuk te begryp.

Die departement van basiese onderwys het die bevindings van die navorsing wat op Suid-Afrika van toepassing is, Dinsdag bekend gemaak. Die navorsing evalueer leesprestasie en vermoëns en word elke vyf jaar in 57 lande gedoen.

Die bevindinge dui op ʼn verdere afname in die aantal gr. 4’s wat nie met begrip kan lees nie en wat volgens die vorige PIRLS-navorsing (in 2016) op 78% gestaan het.

Die jongste bevindings strook met ʼn verslag deur die 2030-leespaneel wat in Februarie bekend gestel is. Dié paneel bestaan uit 18 gesiene Suid-Afrikaners wat jaarliks vergader om die vordering te hersien wat gemaak is om te verseker dat alle Suid-Afrikaanse kinders teen die ouderdom van tien met begrip kan lees. Die hoop is om dié doelstelling teen 2030 te behaal. Teen die huidige koers lyk dit of dit nog 80 jaar gaan neem om die vlak te bereik.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, sê dat leerders se vermoë om te lees vir die departement ʼn topprioriteit is, hoewel daar onlangs berig is dat die departement se Nasionale Leesplan bloot ʼn dokument met ernstige gebreke is wat nog nooit van die grond afgekom het nie.

Motshekga het nietemin volgehou dat die departement vasberade is om te verseker dat elke leerder toegang tot gehalte-onderrig in Suid-Afrika het, maar wel gesê dat die departement nie positiewe uitslae ten opsigte van geletterheid van die PIRLS-navorsing verwag het nie.

Die skuld hiervoor is op die Covid-19-pandemie gepak – wat verskeie terugslae vir onderwys in Suid-Afrika beteken het en ook die instelling van talle planne om geletterdheid te bevorder in die wiele gery het.

Motshekga het egter benadruk dat aansienlike vordering oor die afgelope jare gemaak is met die uitbreiding van toegang tot skoolopleiding, insluitend vroeë kinderontwikkeling (VKO) en gr. R.

“Boonop het laer- en sekondêre skoolvoltooiingskoerse geleidelik toegeneem, wat ons in staat stel om die opvoedkundige ongeregtighede wat uit ons apartheidsgeskiedenis voortspruit, te takel.

“Namate ons egter die vroeë 2000’s betree het en byna alle sewe- tot 15-jarige kinders by skole ingeskryf was, het ons terdeë bewus geword dat die gehalte van leer en onderrig kommerwekkend laag en ongelyk gebly het. Ons deelname aan die eerste PIRLS-assessering in 2006 het ʼn besondere uitdaging aan die lig gebring: ʼn Beduidende aantal kinders het gr. 5 bereik sonder om voldoende leesbegripsvaardighede te verwerf.”

Volgens Motshekga moet daar in ag geneem word dat Suid-Afrika ʼn ontwikkelende land is en ook in dié hoedanigheid aan internasionale assesserings soos PIRLS deelneem, wat ʼn internasionale standaard vir geletterdheid daarstel.

“As ʼn ontwikkelende land is ons nog op ʼn reis om hierdie internasionale standaarde te behaal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Stofdonkie ·

As mens so na sosiale media kyk kan 80% van volwassenes ook nie lees nie, en nog minder spel

Elma ·

Stofdonkie, nou praat jy waar! Dis tyd vir die skole om die Sus en Daan boekies weer deel van die kurrikulum te maak, Liefde vir lees word nie meer by kinders gekweek nie. Dis net speel om slimfone van die more tot die aand.

Nettie ·

Ek stem Elma.
Miskien moet skole weer vir graad eentjies SLEGS leer lees en basiese hoofrekene doen. Los al die res. Die mondelingse toesprake, die wiskunde toetse, die Engels, tydsbegrippe, maatsbegrippe, taalbegrippe, ens. Leer die kinders slegs lees en tel, soos wat ons in ons dae geleer het in graad 1. Miskien is hulle net te oorlaai en steek die basiese nie vas nie. Die fondasie word nie gelê nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Word die toetse in moedertale afgelê?

JvR ·

Ek het matriek in tweede taal geskryf, want daar was nie n afrikaanse skool naby nie. En het dit onderskeidelik oorleef

Republikein in die Wes Kaap ·

Jy verstaan nie. Watter taal jy in matriek gedoen het is nie nou ter sprake nie. Waar was jy in grade 1 tot 3? Het jy die IK en ander toetse soos dié in graad 4/standard 2 in Engels afgelê? In standard 2 sou ek nie die toetse in Engels kon doen nie. Ek het wel later ‘n nagraadse graad in Engels gedoen. Toe het dit darem beter gegaan.

JvR ·

Ek was in dubbel medium laerskole, behalwe st 4 en 5 wat afrikaans was. En eers afrikaanse hoërskool, oe engels

Nettie ·

Dis altyd iemand of iets anders se skuld. Nooit hulle nie.

Ek sou graag wou hoor wat die resultate slegs onder Afrikaner kinders/skole is. Ons land is te ongelyk om almal oor een kam te skeer. Ek sou ook baie graag wou weet hoe privaat skole vergelyk met staatskole onder Afrikaners spesifiek.

Robert ·

Sal interresant wees Nettie. Daardie syfers sal verseker BAIE anders lyk!!!!

Daisy ·

Dis omdat skole te veel klem lê op snert, sport en om al die sensitiewe verskillende geslagte in skole te akkommodeer.
Sit saam met dit die gebrek aan dissipline en jy het die resep vir die agterstant.

Michael ·

Ek dink eerder dit is `n bedoeling van die staat. Hoe minder die mense kan lees hoe beter kan hulle gevorm / manipuleer word.

Chantel ·

Kinders word net eenvoudig toegegooi onder huiswerk! Gr 1 en dan moet hulle huiswerk ook kry. WAT DE HEL doen hulle in die klas. Daar is absoluut niks fout met die geslag wat voor die 2000 op skool was nie. Ek kry hierdie klein lyfies bitter jammer, dis net leer, huiswerk, leer. Baie dankbaar my 2 is reeds uit die skool.
Leesbegrip het met baie meer te doen as net lees. As ek net sien hoeveel kinders spel- en spraakterapie moet doen, omdat hulle net eenvoudig kans kry om te speel op skool nie. JA!!!! hulle is op selfone ook, maar WRAGTIG, dis nie asof hulle meer kan buite speel soos ons in die vroeër jare nie.

TruthDealer ·

Goeie punt! As ek dink hoe ek as kind myle alleen op my fiets gery het, orals kon gaan, selfs die trein alleen gery op 10 jarige ouderdom en heeldag alleen in Kaapstad rondgedrentel het..Daai jare voel nou soos n ander lewe, geleef op n ander planeet. Ek bekommer my elke liewe dag oor my volwasse kinders, kan nie rus voor ek weet hulle het darem tuisgekom nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Gaan kyk gerus hoe werk die kinders in Singapoer, Taiwan en Suid Korea. O ja, hulle ekonomië lyk nie te sleg nie.

Waarnemer ·

Dit laat mens wonder hoeveel van ons huidige ministers geletterd is?

JvR ·

Le die skuld voor die ouers. Dit is mos maklik om n tablet in die kinders se hande te stop en hul sodoende uit ma se hare te hou. In my dae kon meeste basies lees en skryf teen die tyd wat hul skool toe gaan.

Wit Leeu ·

Enige iets beters verwag……………………………….

Papsak ·

Baie van ministers is ek seker kan ook nie lees of spel nie en ja ek cellfone groot oorsaak van kinders waar dit by leer kom

Debbie ·

As hulle nie kan lees nie hoe op aarde het hulle van gr1 tot gr4 gegaan

Republikein in die Wes Kaap ·

Word daai toetse in moedertale afgelê? Ek sou nooit in std 2/graad 4 so ‘n toets in Engels kon aflê nie. Vergeet nog van ‘n IK toets.

Amelia ·

Ag vir hoelank al sukkel kinders op skool met wiskunde en lees die Covic glo ek nie kon so groot probleem gewees het as ouers steeds laat kinders by huis lees nie weet daar is ouers wat nog steeds hul kinders geleer het by huis Hoekom moet apartheid en covid altyd die skuld kry na amper 30 jaar SY maak seker net n grappie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.