Meeste Kaapse Vlakte-verdagtes binne ure weer op vrye voet

Weermaglede op patrollie op die Kaapse Vlakte. (Foto: Henk Kruger/ANA)

Die meeste van die meer as 1 000 verdagtes wat in hegtenis geneem is as deel van ʼn poging om bendegeweld op die Kaapse Vlakte hok te slaan, is binne 72 uur weer op vrye voet.

Die LUR vir gemeenskapsveiligheid in die provinsie – wat koppe stamp met die polisieminister oor hoe om die groot getal moorde en ander bendeverwante misdaad te stuit – het gesê vyf weke nadat die weermag in die gebied ontplooi is, vra inwoners nou met reg of die ontplooiing enige uitwerking gehad het.

Albert Fritz het gesê moordvlakke bly hoog en patrollies word nog nie langer as drie uur aanmekaar gedoen nie.

“Dit is noodsaaklik dat ons meer inligting kry oor die weermag se ontplooiingsplan en -taktiek, maar die inligting word weerhou,” het Fritz gesê.

Hy het gesê die weermag is ontplooi om die polisie, die metropolisie en ander wetstoepassingsagentskappe by te staan en die hoë vlakke van bendeverwante geweld te help stuit.

“Polisieminister Bheki Cele het gespog dat die ingryping gelei het tot ʼn verhoging in polisiesigbaarheid in die gebiede wat die meeste deur bendes geraak word, die beslaglegging op onwettige vuurwapens en die inhegtenisneming van meer as 1 000 individue met uitstaande lasbriewe.

“Dit is egter kommerwekkend dat dié inhegtenisnemings nie tot enige aanklagte of skuldigbevindings gelei het nie,” het Fritz gesê.

“Ek is meegedeel dat die meerderheid van diegene wat in hegtenis geneem is, binne 72 uur weer vrygelaat is, omdat die speurdiens hulle nie met misdade kon verbind nie, of nie die ondersoeke kon afhandel nie.”

Fritz het ʼn dringende beroep op Cele gedoen om die provinsie se eenheid vir waaksaamheidsopdragte te gebruik om inhegtenisnemings te volg en te verseker dat dit tot die suksesvolle vervolging van skuldiges lei.

Hy het gesê die provinsie se vervoerbestuursentrum in Goodwood is tot die polisie se beskikking gestel, maar dat hulle dit nie “optimaal” gebruik nie.

“Ek het vantevore al gesê ons strafregstelsel word gyselaar gehou deur die swak toestand van die speurdiens en die polisie. Speurders is uiteindelik verantwoordelik vir die insameling van bewyse in strafsake. Die gehalte van hulle werk bepaal of ʼn saak geskrap of opgelos word.

“Ongelukkig is daar nie net ʼn tekort aan hulpbronne en opleiding vir speurders nie, die meeste speurders is ook hopeloos oorlaai. Nou, meer as ooit tevore, het ons nodig dat die polisie se speurdiens sy sokkies optrek en verseker dat misdadigers vervolg word.”

Fritz het gesê die Wes-Kaapse regering het al telkemale gesê die ontplooiing van die weermag alleen gaan nie misdaad stuit nie en dat dit in samewerking met ʼn verskeidenheid ontwikkelingsprogramme gedoen moet word.

“Ons moet almal saamwerk om te verseker die georganiseerde misdaadkoninkryke wat ons provinsie teister, word omver gewerp.

“Die vermoë van bendes om deur vrees, intimidasie en moord te regeer, gaan net gestop word as alle vlakke van regering, wetstoepassing, die strafregstelsel en gemeenskappe saamwerk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Ina ·

Dit gebeur in my woonbuurt ook! Die buurtwag doen baie moeite en neem 3 verdagtes wat reeds 5 geopende sake teen hulle het, in hegtenis en oorhandig hulle aan die polisie….om hulle net 2 dae later wéér op straat te kry, aan’t inbreek…! Hulle word telkemale deur die polisie vrygelaat….’n mens kan nie help om érnstig te wonder oor ons sogenaamde polisiemag nie! Wel, ék het géén vertroue in hulle nie….ek is eintlik báng vir hulle…(for obvious reasons)!

Johann ·

Seker nie rerig gedink die ANC gaan sy eie anargie teen staan nie?

Bekommerd ·

Dis geen wonder dat die Polisie vandag 1) net so korrup; en 2) nie meer hul beste lewer nie.

Hulle werk lang ure, sit hul lewens (en die van hul familie) in gevaar… net sodat die skelms weer 1) vrygelaat; 2) borg kry; 3) opgeskorte vonnisse ontvang waarna hulle maar weer moor/roof/plunder en “bos” gaan!

G’n wonder die manne in blou is nie meer staatmakers nie… ek sou OOK nie wees nie, want… VIR WAT?????

Hanna Hoekom ·

To Protect and Serve… Die SAPD is onlangs as die mees korrupte staatsinstelling gelys. Mense met misdaadrekords word dikwels in die mag aangestel (regte velkleur is blykbaar die enigste vereiste) en die res is geskiedenis. Onwettige buitelandse smouse word vooraf deur lede van die SAPD oor komende klopjagte gewaarsku. Dit is nou dieselfde lede wat onwettige artikels weer aan die smouse probeer terugverkoop. Die Kaapse bendes (en die deursnee SA burger) lag vir julle! Daar was altyd genoeg speurders wat goed opgelei was, maar BEE het hulle almal uitgewerk. Ja, geloofwaardigheid voor kundigheid!

Beroof ·

Nou wonder mense nog hoekom die wet in eie hande geneem word in sekere woonbuurte. Die regstelsel stel net belang om kriminele te verdedig en te beskerm!

honourable member ·

Die polisie is te lui om die dockets oop te maak en laat die goed weer los in die straat. Alles is maar net een groot grap . Die weermag se ontplooing kos die belastingbetaler miljoene en wat help dit as hierdie gemors maar net weer in die strate losgelaat word.

Carl ·

As die gemeenskap vertroue in die reg verloor het, is die volgende stap outomaties “Jungle Justice”. Maar nou ja, dit is waarskynlik nie `n vreemde begrip in Afrika nie. Beke Cele en die res moenie dan kom staan en huil nie.

Pieter ·

Ek het al baie gese en ek sal dit weer se so gaan dit as jy std twee op skool gehad het en nou bestuur jy die land dit is n grap twee milj en 2 twee miljard is vir hulle die selde

Swannie ·

Dis hoekom ons belasting as vermaaklikheidsbelasting beskou kan word.

Karolis ·

Die laaste paragraaf moes in hoofletters en vet gedruk gewees het.

Adri ·

Ek het gehoor die boere wat droogtehulp gekry het se hulp is opgeskort die geld gaan vir die weermag nou vra ek jou hoe kry jy die 2 somme bynekaar

Piet ·

Mnr Fritz het jy ook die onderskeie gemeenskappe gevra of hulle aan die polisie uitgewys het wie en waar die bende lede is en hulle bedrywighede bedryf?? Bykans 60% vand die gemeenskap se eie familie is betrokke by die bende geweld so hulle sal dus nie hulle eie familie lede op gee nie. Die weermag se doel was nooit om die bende lede asn te keer of te stop nie maar om voete op die grond te sit en nodige beveiliging te doen sodat die SAPS hul werk kan doen. SAPS van buitedie Kaapse area moes ingebring word om te verhoed dat plaaslik SAPS lede gevikitimiseer kan word deur die gemeensalpe siende dat baie van hulle ook in die areas woon. Hoekom het die stadsraad in die tydperk ook nie die nodige straat ligte vervang en ander aan gebring nie en ander noodsaaklike dienste in die areas verrig nie. Jou stadsraad Mr Fritz is net so skuldig.

Attie. ·

Ek is seker maar dom maar kan iemand vir my verduidelik hoe kan die Weermag ons belastingbetalers nou meer geld kos, hulle is mos reeds aangestel en kry salaris en pensioen, of kry hulle noudat hulle ietsdoen, ‘n gevaartoelae ook. Ek sou dink indien die mense ‘n slag iets doen is die uitgawe reeds aangegaan. Op alle fotos sien ek net weermaglede wat daarin die Kaap rondstaan en mooi lyk. Indien die bendes op hulle begin skiet gaan jy sien hoe vinnig hardloop so ‘n spul soldate. Vir my lyk dit of ons moet hoop Lesotho val nie SA binne nie want die weermag sal nie kan terugveg nie. Een ding wat die ANC kan doen is naamsveranderings van dorpe, niks anders was ‘n sukses nie. Hulle kan beloftes maak en hulle kan name verander. Voorwaarts mars.

Johan ·

Ons land se regsstelsel spoeg in die oë van die weermag en polisie. Hulle werk werp geen vrugte af nie. Dis n grap.

jakes ·

Hierdie verdagtes lag vir die polisie en ons regstelsel. Selfs al gaan hulle tronk toe voer hulle n skrikbewind in die tronk. Bendebedrywighede in die Wes en Oos Kaap is totaal buite beheer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.