Meeste kiesers registreer in KZN

(Argieffoto: Henk Kruger/ANA)

Omtrent ʼn kwart van die aantal kiesers wat die afgelope naweek geregistreer het om aan die munisipale verkiesing op 1 November deel te neem, woon in KwaZulu-Natal. Dié provinsie is tradisioneel ʼn provinsie waar die ANC groot steun geniet.

Altesaam 358 384 kiesers het in KwaZulu-Natal geregistreer, gevolg deur Gauteng met 315 282 kiesers en die Oos-Kaap met 240 514 kiesers.

Maroela Media het vroeër berig hoewel meer as 1 miljoen mense die afgelope naweek geregistreer het om te stem, is bitter min van hulle nuwe kiesers.

Luidens statistieke wat deur die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) bekendgemaak is, het slegs 433 198 nuwe kiesers die afgelope naweek by die stempunte oor die hele land geregistreer. Dit is slegs 25% van die algehele getal registrasies, wat teen Sondag 1,7 miljoen kiesers was. Die res is mense wie se adresse verander het en op nuwe plekke moet stem.

Die lae aantal nuwe kiesers wat tot dusver geregistreer het, kan teen die ANC tel en reg in die hande van partye soos die DA, EFF en Vryheidsfront Plus speel. Kenners meen lae registrasiesyfers is ook nie net sleg vir die ANC nie, maar vir die demokrasie in geheel.

Van die nuwe kiesers is altesaam 402 401 (91%) tussen 16 en 29 jaar oud. Volgens die OVK wys dié syfers dat daar tydens die registrasienaweek goeie reaksie onder jong mense was.

Sowat 52% van alle nuwe registrasies is vrouekiesers.

Volgens die OVK het altesaam 499 488 sedert Julie aanlyn geregistreer, van wie 121 414 net Sondag aanlyn geregistreer het.

Kandidate wat nog wil registreer vir die verkiesing het tot Dinsdag 17:00 kans om dit te doen.

Aansoeke vir spesiale stemme open Dinsdag en sal op 4 Oktober sluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Zilla ·

Help asseblief. Die berig se dat die meeste nuwe registratsie tussen 16 en 29 jaar oud is. Ek het nog altyd gedink jy moet 18 wees om the stem? Waar kom die 16 jaar oud nou vandaan?

Baardman ·

Jy mag registreer vandat jy
16 is, maar slegs stem as jy 18 en ouer is

Baardman ·

KFC gaan weer al hulle Covid verliese opmaak hierdie verkiesing

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.