Meeste kiesers toe tevrede met verkiesing – opname

(Foto: Megan Swart/Maroela Media)

ʼn Groot meerderheid van die kiesers wat vanjaar hul kruisies tydens die munisipale verkiesings getrek het, voel tevrede met hoe dié dag verloop het. Dít, ondanks die reeks probleme wat reeds vroegoggend by verskeie stempunte landwyd opgeduik het.

Die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) het Woensdag sy bevindinge in vanjaar se kieserstevredenheidsopname bekend gemaak. Meer as 12 000 kiesers van sowat 300 stempunte het landwyd hieraan deelgeneem.

Volgens dr. Benjamin Roberts, waarnemende strategiese leier en navorsingsdirekteur van die RGN, is die steekproef ewekansig by stempunte gekies om die land se geregistreerde kiesers, wat wel gaan stem het, te verteenwoordig.

“Die kiesers was oor die algemeen baie positief oor die stemdag,” sê Roberts.

“Altesame 95% van kiesers voel die verkiesing is oor die algemeen vry en regverdig uitgevoer. ʼn Groot meerderheid van dié kiesers het ook hul tevredenheid met en vertroue in die OVK (90%) en die stemtelproses (84%) in geheel uitgespreek.”

Ingevolge die opname het 77% aangedui dat dit hulle minder as 15 minute geneem het om te stem, terwyl 15% tot 30 minute gewag het en ʼn skrale 7% langer as ʼn uur moes wag.

Altesame 97% van kiesers kon die prosedures in die lokaal maklik genoeg volg, terwyl 96% veral hul tevredenheid met die OVK-amptenare se optrede en professionaliteit uitgelig het. Talle het die amptenare as uiters hulpvaardig (81%), vriendelik (80%) en geduldig (80%) beskryf.

ʼn Afname in die algehele vertroue in die OVK sedert die middel 2000’s word toegeskryf aan die algemene ontnugtering met die werking van die land se demokrasie.

Ondanks die positiewe terugvoer van die meeste kiesers, het kiesers ook kopsere en frustrasies met die proses beleef. Die burgerregteorganisasie AfriForum het vroeër die week uitgelig dat meer probleme tydens vanjaar se verkiesing uitgelig is as tydens die een in 2019. Daar is onder meer tekorte aan stembriewe, mense wie se name nie op die kiesersrol verskyn het nie en betogings by etlike van die kiespunte aangemeld.

Lae opkoms van kiesers

Die OVK het laat Maandagmiddag aangekondig dat nog net 30,5% van geregistreerde kiesers teen dié tyd aan die plaaslike verkiesing deelgeneem het. Die werklike opkoms sal hoogstens teen Donderdag bekend gemaak word.

Volgens Roberts kan die lae kiesersopkoms gedeeltelik toegeskryf word aan die Covid-19-pandemie en voortdurende vrese om die virus op te doen.

“Die persentasie kiesers wat aangedui het dat hulle ten volle teen die virus ingeënt is, is 68%. Dit is aansienlik hoër as die nasionale gemiddeld van mense wat ingeënt is en dui daarop dat daar ʼn groter neiging onder diegene wat ingeënt is, om te stem.”

Roberts het bygevoeg dat daar steeds ʼn tasbare gevoel onder kiesers is dat dit hulle burgerlike plig is om aan verkiesings deel te neem.

“Hoewel jongmense se lojaliteit teenoor een spesifieke politieke party aan die afneem is, voel die meeste kiesers sterk oor hul rol in ʼn land se demokrasie.

“Ons sal egter dieper moet delf in die redes waarom honderde duisende mense nie Maandag gaan stem het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Shakespeare ·

Dit is vir my so mooi. Liederlike foute deur die OVK en “opgeleide” werknemers word onder die mat ingevee……of is ek verkeerd ??

SwartBees ·

Wie is die meeste kiesers waarvan julle praat? Almal met wie ek gepraat het was ontevrede.

Irma ·

Waar ons gestem het, het alles ook goed verloop. Ons was binne 15 minute klaar gestem.

Hasie ·

What a joke …..korupsie is al oral uitgewys maar die OVK ignoreer dit …Almal weet hul kyk nie na die ware feite nie…..vra 6 mense wat hul dink van die verkiesing en dit teenwoordig die hele samelewing …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.