Meeste kossoorte kos jou meer

Die meeste kossoorte jaag jou nou meer uit die sak. (Foto: Maroela Media)

Suid-Afrikaners wat die kostafels dié Kersfees wil laat kreun, gaan hul sente mooi moet omdraai.

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) het Woensdag bekend gemaak verbruikersinflasie is op die hoogste vlak in sewe maande. Die oorhoofse inflasiekoers staan op 3,3%.

Inflasie in die kategorie vir kos en nie-alkoholiese drankies het tussen September en Oktober met 1,4% toegeneem, ʼn jaarlikse styging van 5,4%. StatsSA sê dit is die grootste jaarlikse styging in dié kategorie sedert September 2017 toe die land net uit ʼn uitmergelende droogte gekom het.

Kos en nie-alkoholiese drankies was die grootste bydraers tot die 0,3% maandelikse styging in verbruikersinflasie in Oktober en is die tweede grootste bydraer tot die jaarlikse koers van 3,3%.

Die grootste jaarlikse prysstygings was vir vrugte (13,9%), olie en vette (9,7%), suiker, lekkers en nagereg (9,7%), asook melk, eiers en kaas (6,5%). Alle kategorieë kos – met die uitsondering van brood en graankos – het met meer as die oorhoofse inflasiekoers gestyg.

Die prys van vleis het gemiddeld met 6% toegeneem.

Volroom-langlewemelk is nou 8,1% duurder as ʼn jaar gelede, terwyl die prys van suiker die afgelope jaar met 13,9% toegeneem het.

Swart tee kos nou net-net meer as 10% duurder as ʼn jaar gelede, terwyl rooibostee minstens stadiger duurder geword het. Rooibostee is steeds met 3,3% duurder as ʼn jaar gelede. Die prys van ʼn sakkie rooibostee beloop gemiddeld 57c, terwyl ʼn sakkie swart tee gemiddeld 35c per sakkie kos.

Dit is ook duurder om water vir daardie koppie tee te kook.

StatsSA sê munisipale water- en elektrisiteitsrekeninge het sedert Julie met 6% toegeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Raakvatter ·

En salaris het met 0% toegeneem. En in die nuwe jaar neem polisse met 10% toe.

Dirk Mostert ·

Rentekoerse is vanjaar gehalveer, wat pensionarisse se inkomste raak.

Marius ·

Wat word verwag as daar elke dag trokke gebrand word ???? Dit is trokke wat kos vervoer en wat vervang moet word as dit uit gebrand word . Dink die mense die trokke is verniet ??

MAGRIETHA ·

Stem saam met marius dan word ingevoerde goedere ook so verbrand wat die land se ekonomie vernietig en getroue belasting betaler moet maar opdok waar is minister van vervoer en polisie hoekom ontplooi hul nie die weermag op die brandpunte nie

Dirk Mostert ·

Die amptelike inflasiekoers word uit die duim gesuig. My versekeringspremie styg met 25%, alhoewel ek in 50 jaar nog nooit geeis het nie. Munisipale tariewe hier het ook met meer as dubbeld die inflasiekoers gestyg

Pieter Rubeus ·

En so stadig maar seker word ons verder en verder verarm deur groot maatskappye en die staat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.