‘Meeste leerders reeds in skole geplaas’ – departement

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Elaine Krige)

Die Gautengse onderwysdepartement sê 276 564 gr. 1- en gr. 8-leerders is nou reeds in skole vir die 2022 akademiese jaar geplaas, terwyl 1 465 aansoekers nog op plek wag.

Sowat 17 000 aansoeke was volgens die departement onsuksesvol aangesien dié aansoekers nie voldoende inligting en dokumentasie by die departement ingedien het nie.

Dít geld vir aansoeke wat op die departement se aanlyn stelsel óf by skole self ingedien is. Volgens die departement is die stelsel tans oop sodat dié aansoekers die verlangde stawende dokumente kan oplaai.

“Die departement het ook die finalisering van 866 appèlle wat ontvang is sedert die plasingstydperk verlede jaar begin het, geprioritiseer. Hierdie appèlle is die gevolg van aansoekers wat nie by hul verlangde skool geplaas kon word nie en beswaar daarteen aangeteken het.

“Uitkomste sal teen Maandag 10 Januarie 2022 aan alle aansoekers gekommunikeer word.”

Laat registrasies

Die laatregistrasieproses sal op Woensdag 12 Januarie begin. Ouers en voogde word deur die departement versoek om aanlyn by www.gdeadmissions.gov.za aansoek te doen. Slegs skole met kapasiteit sal op dié stelsel beskikbaar wees.

“Ons moet beklemtoon dat ons ons grondwetlike mandaat om te verseker dat elke kind in ’n skool geplaas word baie ernstig opneem. Ons wil graag ’n beroep op ouers doen om geduldig te bly aangesien ons amptenare 24 uur per dag gewerk het om te verseker dat alle leerders so gou as moontlik by ’n skool geplaas word,” het Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, gesê.

Nuwe klaskamers om ‘druk te verlig’ 

Die departement het Vrydag gesê dat hy R240 miljoen aan geïdentifiseerde skole toegesê het om die “druk van plasings in hoëdrukdistrikte te verlig”.

Dié geld sal glo die bou van 229 klaskamers by geïdentifiseerde laerskole en 270 klaskamers by geïdentifiseerde hoërskole moontlik maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Di ·

Hierdie beloftes van nuwe skole bou sal NOOIT gebeur nie! Hoor al hoeveel jaar dieselfde storie en tot vandag is daar niks wat gewys kan word nie. Met die trant wat die bevolkingsaanwas groei in SA, sal daar jaarliks nuwe skole gebou word. Hierdie Regering beplan mos nie VOORUIT nie, als gaan net oor nou. Hoe minder geld hulle hoef te spandeer, hoe meer is daar om korrupsie mee te pleeg. Die Minster van Onderwys is ook nou nie een van die “slimste peanuts in die pakkie nie. Hy hou homself besig met beuselagtighede wat hom nie aangaan nie. Hy moet eerder sy werk begin doen waarvoor hy ‘n massiewe salaris kry

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.