Meeste ligte in Pretoria weer aan

Ter illustrasie (Foto: Andrey Metelev via Unsplash)

Kragtoevoer na die meeste woonbuurte in en om Pretoria wat geraak is deur ʼn reuseonderbreking wat veroorsaak is toe kragtorings Sondagaand op die N4-snelweg geval het, is weer herstel.

Meer as 50 woonbuurte in die metrogebied is deur die voorval geraak.

Volgens Selby Bokaba, woordvoerder van die Tshwane-metro, is krag by Mamelodi‑substasie 2 herstel. Sommige buurte wat krag van die Hinterland-substasie kry, sit egter nog sonder krag.

“Die Hinterland-substasie het erg onder vandalisme deurgeloop en twee van sy hooftoevoerkabels is gesteel,” sê Bokaba.

Krag na Ikageng en sommige dele van Mamelodi Gardens en Buffer Zone is herstel, maar weens kabeldiefstal is beperkte gebiede steeds sonder krag.

“Vandalisme en diefstal van infrastruktuur is die hoofdrywers van kragonderbrekings in Pretoria en alle inwoners, veral in Mamelodi, word versoek om die munisipaliteit in kennis te stel van verdagte bedrywighede by substasies,” sê Bokaba.

Kingsley Wakelin, burgemeesterskomiteelid vir korporatiewe en gedeelde dienste, en Themba Fosi, burgemeesterskomiteelid vir infrastruktuur en streeksbedrywighede, het Woensdagaand met stadsamptenare, wyksraadslede,  die Tshwane-metropolisie (TMPD) en die polisie vergader om die kragverskaffingsprobleme wat misdaad veroorsaak, te probeer pak.

Die polisie en metropolisie het onderneem om sigbaarheid te verhoog en gevaarsones te patrolleer om kabeldiefstal en ander misdade hok te slaan.

“Inwoners word versoek om krag spaarsaam te gebruik om moontlike onderbrekings tydens terugskakeling te vermy.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

WitBlits ·

Kry die Weermag wat die hele dag op hulle agterstewes sit om die kragstasies en Sub Stasies op te pas… Ons belasting betalers betaal in elk geval hulle selarisse, so hulle kan netsowel iets doen wat waarde toevoeg tot die samelewing.

JohanR ·

Boeps 5 minute na die krag aankom na ses maande is dit af vir 4 uur!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.