‘Meeste ongelukke bestuurder se skuld’

Vrydag se ongelukstoneel op die N1 tussen Kranskop en Modimolle in Limpopo. Foto: Facebook

Nagenoeg 100 mense is tot dusver vanjaar in ongelukke met busse en vragmotors dood en byna drie keer soveel beseer, het die Padverkeerbestuurskorporasie (PVBK) Maandag gesê.

Die korporasie het bus- en vragmotoroperateurs gewaarsku om die padreëls te gehoorsaam, so nie sal “ernstige gevolge” hulle in die gesig staar.

Simon Zwane, PVBK-woordvoerder, sê operateurs moet beheer oor hul bestuurders en voertuie uitoefen terwyl hulle openbare paaie gebruik. “Dit behels onder meer die verantwoordelikheid om seker te maak voertuie is in ʼn padwaardige toestand en dat bestuurders geskik is om voertuie te bestuur.”

Hy waarsku as operateurs nie aan die vereistes voldoen nie, kan hul bedryfspermitte teruggetrek word, wat ernstige gevolge vir die onderneming kan inhou. “Beslag kan ook op voertuie gelê word en hulle kan verhoed word om hul rit voort te sit tot alle foute herstel is.”

In gevalle van noodlottige ongelukke kan kriminele klagte teen die betrokkenes aanhangig gemaak word, sê hy.

Die waarskuwing volg nadat 28 mense Vrydag in ʼn gru-ongeluk op die N1 in Limpopo gesterf het. Die bestuurder van ʼn vragmotor wat met sement onderweg was, het beheer oor die voertuig verloor en met vier aankomende voertuie gebots, waaronder ʼn Mercedes Benz-bussie met 22 sitplekke.

Een van die voertuie het met die trefslag aan die brand geslaan. Net vier mense het die ongeluk oorleef.

Die 28 sterfgevalle bring die sterftesyfer in sulke botsings tot dusver vanjaar op 91 te staan en die getal beseerdes op 275.

Zwane sê van die menslike faktore wat in die meeste gevalle tot noodlottige ongelukke aanleiding gee, is bestuurders wat teen aankomende verkeer bestuur, uitermate hoë spoed en nalatigheid wanneer bestuurders nie deurgaans waaksaam is nie.

“Meganiese foute en padtoestande het net tot ʼn baie klein getal botsings aanleiding gegee,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Hasie ·

Wonder wie anders kan dit wees as die bestuurder. Hy is ook die een wat altyd moet seker maak dat die voertuig padwaardig is.

Stef ·

Die probleem met die verkeers departemente is dat jy alles kan regmaak met ‘n R100.00.
Waar die fout lê is dat jy nie dissipline, integriteit, onberispelikheid en toewyding kan koop nie. Nog met R100.00 of R100 000.00.
Die slagting sal voort duur.

Irma ·

Wetstoepassing raak al hoe belangriker. Dit moenie rasgebaseerd toegepas of maatjies se verontagsaming oorgekyk word nie. Die regering maak so ‘n boehaai oor die dood van mense van sekere rasse terwyl hulle self aanspreeklik raak vir pad sterftes agv hul laksheid. Duisende onskuldige mense word geraak en dit kos die ekonomie miljoene per jaar.

Irma ·

Wetstoepassing raak al hoe belangriker. Dit moenie rasgebaseerd toegepas of maatjies se verontagsaming oorgekyk word nie. Die regering maak so ‘n boehaai oor die dood van mense van sekere rasse terwyl hulle self aanspreeklik raak vir pad sterftes agv hul laksheid. Duisende onskuldige mense word geraak en dit kos die ekonomie miljoene per jaar en baie hartseer wat vermy kon wees as elkeen net doen wat reg is en die wet gehoorsaam.

Duncan Potgieter ·

Die PVBK meld ondermeer dat:
*Bus- en vragmotoroperateurs gewaarsku word om die padreels te gehoorsaam, so nie sal ernstige gevolge hulle in die gesig staar; en
*Voorts om seker te maak voertuie is in `n padwaardige toestand en dat bestuurders geskik is is om voertuie te bestuur.
Hierdie waarskuwings is natuurlik gladnie van toepassing vir taxis in SA nie – die jaarlikse sterfte syfer vir taxis is dusiende en derduisende taxis is onpadwaardig en taxi bestuurders het gladnie /vervalste bestuurslisensies en SA padreels word totaal ge-ignoreer en maak die taxi bestuurders net soos hulle wil. In effek is daar twee stelle padreels in SA – een stel reels wat die gewone motor bestuurders in SA gehoorsaam en `n ander stel reels wat vir meeste taxi bestuurders geld.

Pierre Wolmarans ·

As daar enige four met die voertuig is, laat hy staan en reg gemaak word voor by verder ry. Kry log boeke daar in die drywer se ure wat by bestuur aangedy word. Stop hulle random en doen n drug en alkol toets.

Flip ·

By die meeste ongelukke van watter aard ookal, is ‘n mens betrokke. Vir jare al glo ek “ ‘n ongeluk is ‘n mensgemaakte gebeurtenis”.

Neels ·

Eerstens nou verstaan ek nie hoe veel mense is in Vrydag se ongeluk dood ; die naweek was dit 27 , vanoggend op RSG dit is aangepas na 26 en nou in die berig 28. Wat is nou die regte getal. Dit het die pad bestuurskorporasie lank gevat om uit te vind dat die ongelukke deur die bestuurder van n voertuig veroorsaak word. As hulle nog n paar sittings hou sal hulle ook uitvind dat 99% van die bestuurders wat ongelukke veroorsaak gekoopte lisensies en padwaardigheids sertifikate vir die voertuie het

Huisvrou ·

Belaglik!
Hoe kan die operateur verantwoordelikheid vir die bestuurder (drywer) se bestuursfoute aanvaar???

As ek ‘n drywer aanstel aanvaar ek sy CV, aanvaar ek sy lisensie is wettig bekom, aanvaar ek hy het sy K53-kode14 geslaag.

Duidelik word gesê dat dit selde meganiese foute (waarvoor die eienaar / operateur verantwoordelik is) wat die ongelukke veroorsaak.

Hierdie land se grootste probleem is dat niemand meer verantwoordelikheid vir sy eie dade wil aanvaar nie.

Die eienaar betaal peperduur paaiemente, lisensiegelde, tolgelde, ens om die vragmotor op die pad te hou. Jaarliks moet die padwaardigheidstoets geslaag word.

Pleks die patetiese drywers elke jaar weer die K53 toets moet slaag!

Ben ·

Ek vind spoedgrens moet laer bygestel word en alle motervoertuie soos karre, bussies asook taxi’s en vragmoters ouer as 4 jaar moet jaarliks getoets word vir padwaardigheid. Ook moet daar strenger opgetree word teen alcohol-, drug-, en selfoongebruikers in verkeer. Maak die boetes net hoër. Dit sal ons land se paaie aansienlik veiliger maak.

Alida ·

Asof taxies hul ooit aan reels gesteur het. Julle laat my lag.

Dit sê Alles ·

Wêreldwyd dra Afrika by verre die hoogste statistiek mbt padongelukke. Gaan lees maar op.

Andries van Vuuren ·

In die jare 60 van die vorige eeu het ek dikwels van Pretoria na Carolina gery. Daar was toe nog nie ‘n snelweg nie en ‘n mens het deur al die dorpe langs die pad gery op so ‘n ronde rug paadjie. Oor spitstye was daar tussen elke twee dorpe gewoonlik minstens twee verkeersbeamptes op verskillende plekke aan diens. Hulle het nie kameras of gatsometers opgepas nie maar het stadig langs die pad gery en bewaar jou siel as jy ‘n bewegende oortreding begaan. Die volgende ou word in kennis gestel, jy word afgetrek en wag tot die een wat jou gesien het by jou opdaag. Dan geld die wet van Transvaal. Waar is hierdie mense nou?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.